Gugulethu, of “Gugs” soos dit algemeen bekendstaan, is ʼn gebied ongeveer 15 km buite die Kaapstadse middestad. Gugulethu is aanvanklik in 1985 deur die Kaapstadse Stadsraad gevestig as ʼn woonplek vir Afrika-trekarbeiders. Die naam “Gugulethu” is ʼn afkorting van “Igugu Lethu”, wat in isiXhosa “ons trots” beteken. Twee of drie jaar na die woongebied aangelê is, is die naam deur die Apartheidsregering aan die gebied gegee. Die gebied is aanvanklik Nyanga-Wes genoem. Ten spyte van die swak behuising wat in Gugulethu beskikbaar was, het die inwonertal teen 1963 tot meer as 27 000 aangegroei.

Onder die inwoners van Gugs was Afrika-gesinne wat ingevolge die Groepsgebiedewet verplig was om van verskillende dele van Kaapstad daarheen te verskuif. Gesinne wat hervestig is, het van Windemere (ongeveer 753 gesinne), Wittebome, Bo-Kaap, Retreat, Distrik Ses en Simonstad gekom. Nadat die mense in Gugulethu aangekom het, is hulle saamgegroepeer volgens die gebiede waaruit hulle verwyder is. Namate Langa voller en voller geraak het, het van die inwoners na Gugulethu verhuis. Trekarbeiders wat in Kaapstad kom werk soek het, het hulle ook dikwels daar gevestig in arbeidershostelle waar Afrika-mans verplig was om tot drie ʼn enkelkamer te deel. Geen behoorlike huisvestiging is vir hul gesinne voorsien nie. Ten spyte van moeilike lewensomstandighede in Gugulethu, het ʼn inwoner, Jeff Mamputha, mooi herinneringe van die diverse kulture wat die gemeenskappe wat na Gugulethu verskuif met hulle saamgebring het. Dit sluit rugby van Kensington, krieket van Distrik Ses en baldans van Retreat in.

Talle strate in Gugulethu is benoem volgens ʼn rooster waarop “NY” en ʼn nommerstelsel gebruik is. Baie mense is van mening dat “NY” ʼn afkorting is vir die Engelse “Native Yard”, ʼn term wat tydens die apartheidsera gebruik is. Weens hierdie geskiedenis is druk toegepas om die name van talle strate te verander. Owerhede het gereageer deur baie strate se name te verander, insluitend om NY1 te verander na Steve Biko Rylaan. Strate is ook na Albert Luthuli, Amy Biehl, Ray Alexander en die Gugulethu Sewe vernoem. ʼn Inwoner, Jeff Mamputha, glo dat die “NY” wat in die straatnaamstelsel gebruik is, ontstaan het as ʼn manier om die strate van Gugulethu (voorheen Nyanga-Wes) te onderskei van die oorspronklike nedersetting Nyanga (afgekort as NY) in die ooste.

Misdaad is steeds ʼn groot probleem vir die inwoners van Gugulethu. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se data toon dat meer as 700 mense tussen 2005 en 2010 in Gugulethu vermoor is. Aangesien Gugs ʼn gebied van slegs 6,5 km2 beslaan, toon hierdie moordsyfer van een moord elke twee en ʼn halwe dag dat ongelykheid en geweld nog tot ʼn groot mate deel is van die township-lewe in die nuwe Suid-Afrika.

Die afgelope paar jaar was daar verskeie ontwikkelings in Gugulethu, waaronder ʼn oplewing in toerisme en ʼn nuwe inkopiesentrum. Afgesien van ʼn lang geskiedenis, met ʼn paar gewelddadige oomblikke, het die inwoners van Gugulethu en die besighede in 2018 die eerste 60 jaar na die aanvanklike stigting van Gugulethu gevier. Die slagspreuk vir die viering was “Reclaiming Our Pride”. Die viering het ʼn reeks geleenthede vir die gemeenskap ingesluit, byvoorbeeld musiekkonserte, ʼn modevertoning en ʼn projek om inligting oor die lewensgeskiedenis van inwoners van Gugulethu te versamel.

Belangrike inwoners van Gugulethu sluit in

Die skrywer, Sindiwe Magona, het in NY74 gebly nadat haar gesin van Retreat verskuif is. Sy het later aan die Universiteit van Colombië gestudeer en vir die Verenigde Nasies gewerk. Gugulethu het ook die tuiste geword van talle suksesvolle musikante, waaronder die saksofoonspelers Winston Mankunku Ngosi, McCoy Mrubata en Don Tshomela, ʼn jazz-kunstenaar wat in NY65 gebly het.

Mzoli’s Tshisanyama is in 2003 begin as ʼn slaghuis wat uit ʼn motorhuis bedryf is. Die stigter, Mzoli Ngcawuzele, se gesin het van die Bo-Kaap na Gugs verhuis en Mzoli’s is ʼn groot trekpleister vir plaaslike Kapenaars sowel as internasionale besoekers, veral op ʼn Sondag.

Belangrike gebeurtenisse

In 1975 het drie van die belangrikste hoërskole in Gugulethu, naamlik ID Mkize, Fazeka en Cava, ʼn optog teen die implementering van Afrikaans as ʼn verpligte onderrigtaal, gereël. Hulle het die optog gehou uit samehorigheid met hoërskoolleerders in Soweto, maar ook ter wille van hul eie opvoeding. Op 3 Maart 1986 is Mandla Mxinwa, Jabulani Miya, Themba Molefi, Christopher Piet, Zola Swelani, Zabonkwe Konile en Zandisile Mjobo (wat later as die Gugulethu Sewe bekendgestaan het) op die hoek van NY1 (Steve Biko Rylaan) en NY111 deur die polisie doodgeskiet. Hulle is in die kop geskiet nadat hulle deur geheime lede van die apartheidspolisie mislei is om te dink dat hulle gewerf word vir die ANC se gewapende vleuel, Umkonto we Sizwe. Die mans was tussen 17 en 23 jaar oud.

ʼn Amerikaanse nagraadse student, Amy Biehl, is op 25 Augustus 1993 tydens massageweld in Gugulethu dood terwyl sy ʼn uitruilstudent van die Universiteit van Stanford by die UWK se sentrum vir gemeenskapsreg was. Die mans wat skuldig bevind is aan haar dood, is deur die WVK kwytgeskeld en die Biehl-familie het gehelp om ʼn stigting ter ere van Amy op die been te bring. Dit word nou die Amy Stigting genoem en word steeds in Kaapstad bedryf.

Die meisie- en seunssokkerspanne van die Lwazi Primêre Skool het verskyn in die rolprent “Invictus”, wat ʼn Oscar-toekenning ontvang het. Clint Eastwood was die regisseur van die rolprent en Matt Damon (as Francois Pienaar) en Morgan Freeman (as Nelson Mandela) het die hoofrolle vertolk. Die spanne van Lwazi is gekies omdat hulle feitlik elke trofee in die Wes-Kaap in hul onderskeie ligas verower het. Die gemeenskap van Gugulethu is baie trots op die spelers, saam met hul afrigter en wiskunde-onderwyser, Xolile Madikane. Verfilming het op die skoolterrein plaasgevind.

Foto deur Fanie Jason in Weekend Argus (Sondag-uitgawe), 28 Maart 2010.

Opskrif van die artikel: “Players from Lwazi’s various girls’ teams practise on the school’s sport field, with Gugulethu’s Barcelona informal settlement in the background.

 

Die Eerste Minister van die VK, Theresa May, het Gugulethu ook besoek op die eerste dag van haar besoek aan Afrika in 2018. Die Eerste Minister het die ID Mkize Sekondêre Skool besoek en daar is ʼn video-opname gemaak waar sy saam met leerders van die skool dans en sing.

Bronne

Koerantberigte

  • Dano, Zodidi (2018) “Gugulethu Turns 60”. Cape Argus. 18 Desember.
  • Onbekend (2010). “City kids have the right stuff”. Weekend Argus. Sondag, 28 Maart 2010.

Aanlyn