Cape Town Museum

View Original

Mzolisa Archibald Campbell ‘AC’ Jordan


Skrywer, akademikus en pionier van Afrika-studies

Mzolisa Archibald Campbell ‘AC’ Jordan, die seun van 'n predikant van die Anglikaanse Kerk, is op 30 Oktober 1906 by die Mbokothwana-sendingstasie in die Tsolo-distrik van Pondoland in die Kaapkolonie gebore. Hy het uitgeblink as 'n digter, romanskrywer, literatuurhistorikus en intellektuele pionier van Afrika-studies in Suid-Afrika. Hy is in 1968 in ballingskap in die Verenigde State van Amerika oorlede.

Een van sy mees profetiese gedigte…

The Open Door

United we come, as children of the soil,
hoping to take our place and claim our share;
they showed us the door, closed it in our face,
and the nations gathered to apportion the wealth….

We break our backs building big palaces,
Palaces that make us homeless squatters;
We hew the fire-logs; we dig the coal mines,
For fires to warm these in the big palaces,
While we shiver with cold in our windy shacks….

All the nations glory in their wealth,
All the nations are immersed in light,
All the nations have acquired wisdom,
All, all the nations have a place and a share,
But where, where is the share of the children of the soil?


Maak deure oop

Dr AC Jordan het sy lewe daaraan gewy om deure te open in 'n tyd toe toegang tot geleenthede swartmense ontsê is. 

In 'n artikel oor AC Jordan het 'n akademikus, Phil Ndlela, gesê dat Jordan een van die waardegerigte intellektuele is wat deur die establishment beswadder is omdat hy dit gewaag het om die waarheid te praat. Hy het sy geleerdheid doelbewus aangewend om die saak van die onderdruktes, diegene sonder seggenskap en die gemarginaliseerdes te bevorder. 

AC Jordan se skoolopleiding het by die St Cuthberts Primêre Skool in die Oos-Kaap begin. As 'n uitstaande student het hy die Andrew Smith-beurs ontvang. Dit het hom in staat gestel om na Lovedale College in Alice te gaan, waar hy sy Junior Sertifikaat (graad 10) behaal het. In 1923 het hy by St John’s College in Mthatha in die Oos-Kaap gaan studeer, waar hy as onderwyser opgelei is. 

Hy het 'n beurs ontvang en het met sy akademiese studies by Fort Hare Universiteitskollege begin. Hier behaal hy in 1934 'n BA-graad met letterkunde en taalkunde as hoofvakke. In 1942 het hy sy tesis vir 'n meestersgraad by die Universiteit van Suid-Afrika ingehandig. Die tesis was getiteld “Some features of the phonetic and grammatical structure of the Bhaca focusing on the Tekela Nguni language”. In 1957 het hy sy doktersverhandeling, getiteld “A Phonological and Grammatical Study of Literary Xhosa” by die Universiteit van Kaapstad ingedien. Hy was die eerste swart man wat 'n doktorsgraad aan die UK behaal het. Dit was glad nie 'n maklike pad om hierdie prestasie te behaal nie.


Trou met Phyllis Ntantala

AC Jordan het tien jaar lank onderwys gegee in Kroonstad, waar hy ook betrokke geraak het by politieke aktiwiteite van onderwysers. Hy het President van die African Teacher’s Association geword. Hy het ook betrokke geraak by kreatiewe skryfwerk vir die koerant Imvo Zabantsundu. Dit was gedurende hierdie tydperk van sy lewe wat hy die klassieke Xhosa-werk Ingqumbo Yeminyana geskryf het (dit is ook in Engels uitgegee as The Wrath of the Ancestors).

In Januarie 1940 is AC Jordan met 'n kollega by die skool in Kroonstad, Priscilla Phyllis Ntantala, getroud. Sy was 'n skrywer, intellektueel, feminis en politieke aktivis in eie reg. Hulle het aanvanklik by die Universiteit van Fort Hare ontmoet. Phyllis is gebore as die kind van 'n bevoorregte gesin by Gqubeni, naby eDutywa in die Oos-Kaap. Haar pa was 'n suksesvolle boer, wat gedien het op die Algemene Raad van Transkei, wat die iBhunga genoem is.

Retired politician, Pallo Jordan

AC Jordan het in 1945 begin onderrig gee by die Departement vir Afrika-tale by die Universiteit van Fort Hare. Hy het die bekende Davidson Don Tengo Jabavu opgevolg. 'n Jaar later het hy egter uit die pos bedank en na Kaapstad verhuis, waar hy by die Universiteit van Kaapstad aangestel is as 'n dosent in Bantoe-tale. Die egpaar het deur middel van hul onderrigwerk en lidmaatskap van onderwysersverenigings aktief betrokke geraak by die politieke onderwysersorganisasie, die Non-European Unity Movement.

Die Jordan-gesin het aanvanklik in Moshesh Laan in die Langa-township gebly, maar hulle het later aan Goewerneur-generaal Brownlee geskryf om toestemming te vra om grond in Fleur Straat, Lincoln Estate, Kaapstad, by ene mnr. Guttman te koop. Toestemming is verleen en hulle het hulle in hul huis, ‘Thabisano’ ('n plek van blydskap), in Lincoln Straat in Athlone gevestig. Hul kinders is na St Marks Church School in Athlone, Rosmead School en Livingstone High School in Claremont gestuur in 'n tyd toe kleurlinge en swartmense deur apartheid geskei is. 

Dit was alles strydig met die bepalings van die Groepsgebiedewet wat in 1950 afgekondig is. AC Jordan en sy vrou was albei baie aktief betrokke by veldtogte teen die Groepsgebiedewet van 1950, die Wet op Swart Owerhede van 1951, die Jan van Riebeeck-vierings op die Groot Parade in Kaapstad in 1952 en die Wet op Bantoe-onderwys van 1953. Dit was die milieu waarbinne AC Jordan die eerste swart man geword het om 'n doktorsgraad by die Universiteit van Kaapstad te behaal.

Terwyl hy klas gegee het by die Universiteit van Kaapstad, het hy 'n nuwe metode ontwikkel om Xhosa aan die sprekers van ander tale te onderrig. Dit het behels dat hy ook die Xhosa-kultuur in sy onderrig gebruik het. Hy het hierdie metode gekodifiseer en in 1966 uitgegee as ‘A Practical Course in Xhosa’.


Merkwaardige rapport

'n Gesiene geleerde, Harold Scheub, het die volgende insig oor sy leermeerster, dr. AC Jordan, gedeel:

“Hy was lief vir sy studente, en sy studente het hom op hul beurt met 'n diepgaande, respekvolle liefde behandel.

“Professor Jordan was binne en buite die klaskamer in staat om 'n uitsonderlike verstandhouding met sy studente te skep en te benut. Dit was 'n verhouding wat saamgestel was uit sy briljantheid, sy warmte en sy akkurate insigte.

“Vernuf, sjarme, vakkennis, 'n besonderse kombinasie van saggeaardheid en onselfsugtige belangstelling, 'n ryke romantiese man met visie, 'n diep denkende man wat aan geen roetine behoort het nie, wat skynbaar deur geen fisiese tyd beperk is nie. 

“Hy was daardie uitsonderlike onderwyser wat geweet het hoe om te luister, nie omdat hy die kuns van luister vervolmaak het nie, maar eerder omdat hy opreg belangstel het in en opgewonde geraak het oor ander mense se idees.”

AC Jordan se tydperk by die Universiteit van Kaapstad was egter baie kort. Soos talle ander onderwysers en dosente wat by die opposisie van die Apartheidstaat betrokke was, is AC Jordan en sy vrou Phyllis deur die veiligheidspolisie geteiken. Gedurende die noodtoestand wat die regering na die Sharpeville-slagting en die Langa-protes van Maart 1960 ingestel het, is AC Jordan in hegtenis geneem en aangerand. Die gesin het die einde van die pad bereik wat betref wettige ruimte vir opposisie en vir ongebreidelde akademiese aktiwiteit. Die gesin het besluit om oorsee te gaan. 

In 1961 is die Carnegie-reistoekenning aan AC Jordan toegeken om universiteite en kolleges in die Verenigde State van Amerika te besoek. As 'n hoëprofiel-teenstaander van die apartheidsregime is hy 'n paspoort geweier. Hy het besluit om Suid-Afrika met 'n vertrekpermit saam met sy seun Zweledinga Pallo Jordan te verlaat. Hy het die ‘kampvegterroete’ via Botswana en Tanzanië na Londen gevolg. Van Londen af is die gesin na die Verenigde State van Amerika waar hy 'n professor in Afrika-tale en -letterkunde by die Los Angeles-kampus van die Universiteit van Kalifornië geword het. Hy het later onderrig gegee by die Universiteit van Wisconsin in Madison, wat sy tuiste was tot hy in 1968 oorlede is.

‘Kwezo Mpindo zeTsitsa’ is in 1970 na sy dood uitgegee. Sy kritiese studie van Xhosa-letterkunde, ‘Towards an African Literature: The emergence of literary form in Xhosa’, is in 1972 uitgegee en 'n versameling kortverhale in Xhosa, wat na Engels vertaal is as ‘Tales from Southern Africa’, is in 1973 uitgegee. Phyllis Ntantala het ‘Ingqumbo Yeminyana’ vertaal, wat in 1980 in Engels uitgegee is as ‘The Wrath of the Ancestors’. 'n Dekade later is dit na Afrikaans vertaal as ‘Die Toorn van die Voorvaders’. Dit is 1999 na Nederlands vertaal.


Toekennings

Die Universiteit van Port Elizabeth het in 2004 'n doktorsgraad in letterkunde aan Mzolisa Archibald Campbell Jordan toegeken en hy is in September 2005 deur die regering vereer met die Orde van Ikhamanga in Goud.

Sy seun, Zweledinga Pallo Jordan, wat in 1942 in Kroonstad gebore is, het by die African National Congress aangesluit terwyl hy in ballingskap was. Hy het uitgestyg en 'n uitstekende intellektueel binne die ANC geword ten spyte van die uitdagings en onderbrekings waarvoor hy tydens sy akademiese onderrig te staan gekom het. Hy het in die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC gedien en was van 1994 tot 2009 'n kabinetsminister van die post-apartheidsregering. Hier onder is nog een van sy gedigte:

You Tell Me To Sit Quiet…

You tell me to sit quiet when robbed of my manhood,
With nowhere to live and nought to call my own,
Now coming, now going, wandering and wanting,
No life in my home saves the drone of the beetle!

Go tell the worker bees,
True guards of the hive,
Not to sting the rash hunter
Who grabs at their combs.

You tell me in spite of the riches of knowledge
Unveiled all around, replenishing the earth,
To live here forever enslaved by the
darkness of ignorance, abject and empty of mind!

Go tell the drooping grass,
Frost-bitten and pale,
Not to quicken when roused

In sy kommentaar op hierdie gedig het die bekende skrywer en vakkundige, Mbulelo Vizikhungo Mzamane, gesê:

“Die Engelse weergawe kan hoegenaamd nie reg laat geskied aan die oorspronklike gedig nie. Dit bevat nie die suggestie van 'n neerhalende Xhosa-frase soos “Hamb’okunya!” (“Go and shit!”) nie, wat duidelik oorgedra word deur die woordkeuse en toon van die Xhosa-weergawe van die eerste reël van elke kwatryn – “Go tell the worker bees … Go tell the drooping grass …”. Die idioom van die Xhosa is belaai met sinistere insinuasies.

“In sy waardering van die gedig dui Dan Kunene aan dat die gedig Jordan se diep betrokkenheid by die Suid-Afrikaanse politiek toon, asook sy woede in 'n situasie waar daar vir 'n mens gesê word om stil te sit of om die ernstige gevolge te verdra. Die formaat van stelling en reaksie van Jordan se gedig kom uit die Afrika Ingoma (Lied). Die laaste strofe dra Jordan se eie frustrasie oor toestande in Suid-Afrika oor, veral na die instelling van Bantoe-onderwys, wat gepoog het om Afrikane uit te sluit van die poel van kennis (Mzamane 1984:151–2).

“You Tell Me To Sit Quiet” is oorspronklik in isiXhosa geskryf en later deur die skrywer self na Engels vertaal. Met 'n gesaghebbende stem bepleit Jordan woordrykheid en aksie. Hy beywer hom hoflik vir sy beginsels. Hy kan deur die apartheidsregering se onderliggende bedoelings sien.”


Bronne