Clements Kadalie
Vader van die Swart Vakbondbeweging (1896 - 1951)
Die enigmatiese Clements Kadalie is alombekend as die man wat die eerste vakbond vir Afrikane deur Afrikane georganiseer het. Die Industrial and Commercial Workers Union of Africa, wat algemeen bekendstaan volgens die akroniem ICU, is in 1919 saam met dokwerkers in Kaapstad gestig. Na die bekendstelling van die ICU het hy 'n suksesvolle staking van 2 000 dokwerkers gereël, wat alles in die Kaapstadse dokke tot stilstand laat kom het. Kadalie het ook in die Verenigde Koninkryk en Europa steun gewerf vir werkers in Afrika. Dit was die eerste keer dat dit gedoen is. Teen 1927 het die ICU 'n hoogtepunt bereik en die ledetal het tot 100 000 aangegroei.
Lameck Koniwaka Kadali Muwamba, die seun van Musa Kadali Muwamba, wat as Clements Kadalie bekend geraak het, is in 1896 gebore in die dorpie Chifra in die Nkhata Bay-distrik in die destydse Njassaland, wat vandag Malawi genoem word. Hy is by die Kerk van Skotland se Bandawe-sendingstasie onderrig en in 1913 het hy op die ouderdom van 16 sy onderwysgraad met lof aan Livingstonia behaal. Daarna het hierdie uiters begaafde en welsprekende man in die distrikskoolstelsel gaan werk. Die wêreld van die Nkhata Bay-distrik was egter heeltemal te klein vir Kadalie.
Soos talle Malawiërs, het Clements Kadalie sy weg na Kaapstad gevind om sy fortuin te soek. Hy was maar net 19 jaar oud. Malawiese ingeskrewe arbeiders was teen hierdie tyd algemeen op plase en in die dokke, asook elders in Kaapstad. 'n Eeu later was dit nog steeds die geval. Hier het Kadalie Arthur Batty, 'n prominente politikus en vakbondlid, opgesoek. Batty was baie beïndruk met die jong man. Met die mentorskap van Batty het Clements Kadalie die wêreld van vakbonde betree.
In 1921 is Clements Kadalie getroud met die 27-jarige Johanna “Molly” Isaacs, van die Bo-Kaap, 'n weduwee wie se oorlede man 'n Davidson was. Molly het twee kinders uit haar eerste huwelik gehad en Clements het vier kinders by haar gehad, naamlik Alexander, Robert, Clementia en Fenner. Die huwelik het egter verbrokkel en vir 'n groot gedeelte van hulle grootwordjare het sy kinders hulle pa nie gesien nie.
Hoewel hy suksesvol was omdat die ICU se getalle uitgebrei het en 'n kragtige merk in Suid-Afrika en in die buiteland gelaat het, het sy flambojante leefwyse sy stremming op sy persoonlike lewe geplaas. Hy was glo lief vir motors, wyn en plesier. Daar was sprake van korrupsie in die vakbond wat gelei het tot struwelinge binne die vakbond en die afstigting van ‘n paar van die sterk takke. Die opkoms van die ICU het in 1927 sy hoogtepunt bereik, maar dit was ook die begin van ‘n vinnige agteruitgang. Die organisasie het versplinter en uiteindelik van die politieke en vakbondfront verdwyn.
Teen 1926 was Kadalie reeds in 'n verhouding met die vrou wat sy tweede vrou sou word. Sy was die 18-jarige Eva Moorehead van Greytown. Na hulle huwelik was dit Eva, 'n mooi, slim vrou wat op die politiek ingestel was, wat dissipline in Clements se lewe gebring het en hom weer op 'n pad van verantwoordelikheid geplaas het. Eva het 'n vrouekolom vir die ICU Bulletin geskryf en sy was die leier van die ICU se vroue-organisasie. Sy eerste vrou, Molly, was nie geleerd nie en sy was 'n tuisteskepper. Daarenteen was Eva 'n opgevoede jong vrou wat 'n politiekbewuste aktivis was. Clements Kadalie het een kind, 'n seun genaamd Victor, by haar gehad. Hy was tot sy dood met Eva getroud.
Clements Kadalie is in 1923 deur James La Guma van die Kommunistiese Party van Suid-Afrika as die hooforganiseerder/administrateur van die ICU vervang. Dit het Kadalie die geleentheid gegee om die rol van Sekretaris-generaal te aanvaar. Teen die volgende jaar het sy doeltreffendheid as 'n vakbondleier die onwelkome aandag van die regering getrek. Hy het werkgewers en die owerhede so die josie in gemaak dat hy in hegtenis geneem is. Hulle het probeer om Clements in 1924 te deporteer nadat hy as 'n verbode immigrant verklaar is. Hy het 'n bevel wat hom as 'n verbode immigrant verklaar het verontagsaam en het in Suid-Afrika aangebly. Hierdie druk, sowel as die feit dat hy gedurig rond beweeg het, het 'n groot impak op sy vrou en kinders gehad en groot druk op hulle huwelik geplaas.
Teen hierdie tyd het Kadalie, wat nie net 'n uitstekende spreker was nie maar wat ook bekend was vir sy essays, joernalistiek en menings oor 'n verskeidenheid kwessies, 'n reputasie gekry wat deur Afrika en wêreldwyd versprei het. Hy het baie gereis en in 1927 is hy deur Advokaat Creech Jones geborg om die ICU by die internasionale arbeiderskonferensie in Geneva te verteenwoordig. Die ICU het in daardie stadium takke in elke stad in Suid-Afrika gehad, sowel in Namibië, Zimbabwe en Zambië.
Geïnspireer deur Marcus Garvey, die ICU en inderdaad sy eie profiel, het hy hom tydelik by elke skakering van politieke ideologie geskaar – Pan-Afrikanisme, arbeidsindikalisme, ultralinkse politiek, kommunisme, liberalisme en nasionalisme.
Al hierdie politieke verhoudings was van korte duur. Hy het aan die gang gekom met die hulp van blanke politici en vakbondlede, en het toe aanbeweeg na die revolusionêre industriële werkers van Afrika. Hy was bekoor deur die idees van Marcus Garvey en aanvanklik ook deur die idees van kommuniste soos La Guma, Gomas en Thibedi wat in 1926 uit die ICU geskors is. Toe hy gedwing is om uit die leierskap van die ICU te bedank, het hy hom na die taamlik swak African National Congress (ANC) gewend en eng nasionalistiese politiek ondersteun hoewel hy voorheen 'n globale en Pan-Afrika-siening gehad het. In een stadium het hy ook die blanke hoofstroomnasionaliste ondersteun toe die “inheemse” stem nog in plek was.
Clements Kadalie was 'n politieke enigma. Met die ICU wat begin verbrokkel het, asook met botsings en heksejagte, het die eens magtige vakbond begin wankel. Kadalie is in 1929 deur William Ballinger, met die volle steun van die uitvoerende raad, gedwing om as Algemene Sekretaris van die ICU te bedank. In hierdie tyd het Molly ook met 'n egskeiding begin. Kadalie en ses ander vakbondleiers is ook ingevolge die Swart Administrasie Wet in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hulle rassehaat teenoor witmense aangeblaas het. Dit was vir Kadalie 'n jaar van hel.
In weerwil van hierdie laagtepunt in sy lewe het hy nietemin sy eie tak van die ICU in Oos-Londen op die been gebring en 'n provinsiale organiseerder vir die African National Congress geword. Deur Kadalie uit die leierskap van die ICU te verwyder, het die uitvoerende gesag die doodsklok vir die ICU gelui al het hulle probeer om die ICU-fenomeen te red. Gedurende die 1930’s en 1940’s het Clements Kadalie tevergeefs probeer om die ICU te laat herlewe.
In die middel van die 1940’s was hy opgewonde toe die ANC se jeugliga begin is en jong mans soos Anton Lembede, Walter Sisulu en ander wou hê dat hy 'n bydrae moes lewer tot die politieke en vakbondlewe in Suid-Afrika. Hulle het met agting gepraat van sy wysheid en prestasies. Clements het gevoel dat dit 'n aanduiding was van 'n komende herlewing van die ICU. Dit was egter valse hoop, maar dit was 'n aanduider van die transformasie van die ANC van 'n konserwatiewe organisasie met net ongeveer 4 000 lede dwarsoor die land, na 'n organisasie met honderde duisende lede en groot politieke mag. Dit kon meer toegeskryf word aan sekere leiers soos La Guma en Gomas wat saam met Cissie Gool en ander in 1935 die National Liberation League (naas die United Front) begin het.
Die Kadalie-towerkrag en statuur was uitgeput en die wêreld van politiek en vakbonde was meedoënloos. Die vakbondwese in Suid-Afrika het die nuwe konsep van industriële vakbondwese (d.w.s. een vakbond per industrie, met takke op fabrieksvlak eerder as 'n algemene vereniging buite die persele waar arbeiders en werkgewers is), met 'n skerp linkse politieke kant, ondersteun. Die vakbondwese het radikaal verander.
Clements Kadalie het nietemin 'n onuitwisbare merk op die geskiedenis van Suid-Afrika sowel as Suider-Afrika gelaat. Almal sal die flambojante, begaafde jong Malawiër onthou wat as die stigter van die swart vakbondwese in Suid-Afrika erken moet word. Hy het tydens 'n besoek aan Malawi in 1951 siek geword weens 'n infeksie, en met sy terugkeer na Eva in Oos-Londen is hy oorlede.
Bronne
Thapelo Mokoatsi, Discovering Clements Kadalie’s writing
Henry Mitchell; Debaucherous scoundrel or dynamic leader Public projections and private silences in the
biographies of Clements KadalieHenry Mitchell; The New Africa is ready to follow courageous leadership – Clements Kadalie, the ICU and Black
Trade Unionism in 1920s Southern Africa; Henry Mitchell, University of Edinburgh (henry.mitchell@ed.ac.uk,
Seminar Paper given at the University of Cape Town, 7th June 2016Lucien van der Walt; Kadalie, Clements(ca. 1896–1951)
SAHO Biographies; Clements Kadalie, SA History Online
Roth, M; Clements Kadalie, 1896–1951; They Shaped Our Century: The Most Influential South Africans of the
Twentieth Century; Human and Rousseau; Cape Town; Skota, T. D. M. (Ed.) (1966)Clements Kadalie; My Life and the ICU: The Autobiography of a Black Trade Unionist in South Africa; Frank
Cass & Co; London (1970)Rasool C; The Individual, Auto/biography and History in South Africa; PhD thesis, Uni. of Western Cape; Cape
Town (2004)
Webtuistes, hulpbronne en mense
'n Goeie verskeidenheid foto’s verskyn in die boek: Debaucherous scoundrel or dynamic leader. Public projections and private silences in the biographies of Clements Kadalie deur Henry Mitchell. Aanlyn beskikbaar.
Rhoda Phala-Kadalie en Yvonne Kadalie, sy kleindogters, woon in Kaapstad.
'n Gemeenskapsaal in Oos-Londen is na hom vernoem.
Die Groenkloof Nasionale Erfenismonument (Pretoria) het 'n lewensgrootte standbeeld van Clements Kadalie as deel van die “Long March to Freedom”-projek.