Louis van Mauritius
Leier van die 1808-slawerebellie (1778 - 1808)
'n Slaweopstand het op 25 Oktober 1808 in die Kaap plaasgevind. Dit word onthou as die “Jij-rebellie” en is gelei deur die slawe Louis van Mauritius en Abraham van der Kaap wat uniforms in 'n militêre styl gedra het. Op dié dag het meer as 326 slawe, waaronder 'n paar ingeskrewe Khoena-arbeiders en twee Ierse matrose, deelgeneem aan 'n georganiseerde rebellie wat in 'n taverne by die Kaapse waterfront (Strandstraat) bedink is en wat van stapel gestuur is vanaf 'n plaas genaamd Vogelgezang in die Swartlandse koringgebied.
'n Dertigjarige slaaf met die naam Louis van Mauritius was die leier van hierdie rebellie. Hy was net vier jaar oud toe hy die eerste keer in die Kaap aangekom het. Hy was op 'n besoekende skip en is aan die Kirsten-familie verkoop. Louis is op Isle de France, wat nou Mauritius genoem word, gebore. Volgens die gebruik met die gee van name vir eerstegenerasie- ingevoerde slawe, is hy Louis van Mauritius genoem. Tweedegenerasieslawe wat plaaslike gebore is, het die van “van der Kaap” gekry, en derdegenerasieslawe het dikwels die eerste naam van hul slawevader as 'n van gekry.
Slawerny in die Kaap
Van 1652 – 1834 was slawerny 'n formele instelling in die Kaapkolonie. Dit het regoor Suid-Afrika versprei toe die Boere getrek het en nuwe gekoloniseerde gebiede gevestig het. Selfs na emansipasie is sogenaamde “prysslawe” tot 1845 gekoop. Hulle is dan met lang ingeskrywe kontrakte, wat soortgelyk is aan slawerny, by werkgewers geplaas. Van 1652 tot 1808 is 63 000 eerstegenerasieslawe na die Kaap gebring en daarna is nog minstens 15 000 “prysslawe” van 1808 tot 1856 gebring. Hierdie syfers sluit nie die talle onopgetekende slawe wat na die Kaap gebring is in nie, en ook nie die duisende inheemse Khoena- en San-grensslawe en ander inheemse Afrika-slawe wat buite die Kaapse grense deur die Boere-kommando’s gevange geneem is nie. Dit sluit ook nie die duisende slawe in wat as opeenvolgende generasies van kinders van die eerstegenerasieslawe gebore is nie. Die eerstegenerasieslawe wat van ander lande af gebring is, sluit 17 315 slawe van Indië, 47 150 slawe uit Afrika en Madagaskar en 13 545 van die Indonesiese eilandgroep in. Die heel laaste “prysslawe” wat na die Kaap gebring is, het in 1890 aan wal gegaan. Dit was Oromo-slawe van Somalië.
Benewens die uitputtende arbeid, is hulle ook aan die wreedste en mees barbaarse straf onderwerp indien hulle gerebelleer het. Die straf wat regdeur die tyd wat die NOIK in die 17de en 18de eeu in beheer was (die tydperk van Bataafse beheer) en in die vroeë jare van Britse heerskappy toegepas is, was uiters barbaars en wreed. Hierdie straf het kruisiging, verwurging, die afkap van ledemate, verbranding op 'n brandstapel, deurboring, verdrinking en selfs verbryseling ingesluit. Nog 'n algemene straf vir slawe wat aan verskeie oortredings skuldig bevind is, was om deur die strate gesleep en vermink te word voor hulle waarskynlik opgehang is.
Die jong Louis en die beweging vir die afskaffing van slawerny
Dit was in hierdie wêreld wat die jong kind, Louis van Mauritius, as slaaf verkoop is. Willem Kirsten, wat Louis gekoop het, was die vierde seun van die invloedryke Duitse burger Johan Friedrich Kirsten. Willem het in 1880 met Maria Catharina Grove getrou en hulle het saam die kleuter Louis as slaaf op die waterfront gekoop.
Louis is as 'n kind deur die Kirstens grootgemaak en hy was hulle slaaf. Hoewel hy nooit gedoop is nie, het hy 'n basiese opvoeding ontvang en hy is toegelaat om skoolklasse by te woon. Hy is grootgemaak met 'n begrip van die Christelike geloof. Toe hy 12 jaar oud was, moes hy die oorgang maak van 'n kind in die huis na 'n slaaf wat sy verblyf moes verdien en winste moes lewer vir sy eienaars. Louis is ook deur sy eienaars verhuur. Dit was in daardie tyd 'n algemene praktyk.
Louis was net vyf jaar oud toe William Wilberforce in 1783 'n vereniging vir die afskaffing van slawerny gevorm het. In hierdie tyd het slawe nog na die Kaap gestroom, hoofsaaklik uit Oos-Afrika. Die praktyk het aanhou groei en na die Britse heerskappy in 1806 het die prys van slawe viervoudig verhoog. Teen die tyd dat Louis tien geword het, het die Franse Revolusie uitgebreek en dit het wêreldwyd 'n effek op menseregtebewegings gehad. Dit het 'n groot impak op die Kaap gehad. Gedurende die volgende dekade was afskaffers soos dr. Johannes van der Kemp aktief in die Kaap. Opstande en doelbewuste ongehoorsaamheid onder slawe het uitgebrei.
Gedurende sy tienderjare het 'n reeks gebeurtenisse plaasgevind wat 'n groot invloed op die lot van Louis van Mauritius sou hê. In 1791 het 'n rebellie in St Dominique in die Karibiese Eilande uitgebreek. Teen die suksesvolle einde van die rebellie in 1804 het dit 300 000 lewens aan albei kante geëis. Die revolusie teen die Franse koloniste, onder leiding van Toussaint l’Overture, het die eerste swart republiek van rebellieslawe gevestig, naamlik die Republiek van Haïti.
In 1794 is verklaar dat slawerny in Frankryk afgeskaf word. In 1794 het wegloopslawe in Jamaika oorlog gemaak. Dit is gevolg deur die Feron Slaweopstand van 1976 in Grenada in die Karibiese Eilande teen die Britte. Hierdie opstande het beroeringe gestuur regdeur die koloniale wêreld, wat van slawe-arbeid afhanklik was, met inbegrip van die Kaap. Nog 'n botsing wat 'n impak op al die Britse kolonies gehad het, was die rebellie van die verenigde Iere in Ierland teen die Britse heerskappy. Die eerste Britse goewerneur aan die Kaap, in 1806, was die seun van 'n vooraanstaande heer in Ierland. Die Verenigde Ierse rebellie is onderdruk deur die Britse regiment wat as die Dragonders bekendgestaan het. Later sou nog 'n Dragonder-regiment die opstand van Louis van Mauritius beëindig.
Die impak van die onenigheid in Europa is die eerste keer in die Kaap gevoel toe die Kaap in 1795 deur Brittanje beset is. Die besetting is in 1803 beëindig toe die Kaap oorgegee is aan die Hollands-Bataafse beheer onder die Raad vir Asiatiese Besittings van die Bataafse Republiek (Jakarta).
Die Kaap was voorheen onder beheer van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (die NOIK). Die NOIK-beheer van die Kaap sedert 1652, het in 1795 tot 'n einde gekom. Die NOIK het in 1798 in duie gestort onder die las van skuld. Louis het in daardie tyd by die Tafelbaaise waterfront gewerk, waar daar volop inligting was oor gebeure regoor die wêreld. Die seevaarders se verhale het die jong Louis gefassineer. In hierdie tyd is Louis verhuur om as 'n kruier of stuwadoor te werk. Dit het hom die geleentheid gegee om met ander slawe onder soortgelyke omstandighede te meng.
Louis – 'n slaaf wat te huur is
Die huwelik van Willem Kirsten en Maria Catharina Grove het in 1800 in 'n geregtelike skeiding geëindig. Louis het Maria Grove se eiendom geword en sy het voortgegaan om Louis as 'n handearbeider te verhuur sodat sy 'n inkomste kon verdien. In 'n eienaardige en baie ironiese reëling is Louis toe teen 12 riksdaalders per maand verhuur aan sy eie vrou, Anna, wat 'n vry swart vrou was. Hy het toe uit Grove se huis getrek na sy vrou Anna, wat onder die balkon van Stadler se huis naby die Windells se huurstalle te Strandstraat 18 gebly het. Hier het Louis en sy vrou, Anna, wat heelwat ouer as hy was, drie perde bekom en hulle uitgehuur om 'n inkomste te genereer. Louis het in hierdie tyd sy swaer, Abraham Anthonissen, in sy gelisensieerde pachthuis of taverne gehelp.
Dit was 'n baie ingewikkelde stadium van Louis van Mauritius se lewe. Hy was 'n slaaf, maar terselfdertyd is hy “verhuur” aan sy vrygestelde vrou, en kon hy dus in relatiewe vryheid leef solank geld betaal is aan sy eienaar, mev. Grove.
Louis en Anna moes dus alles in hulle vermoë doen om ekstra inkomste te verdien sodat hulle sy huurgeld kon betaal en terselfdertyd ook kon seker maak dat hulle self kon oorleef. Hulle moes uitstekende entrepreneurs wees om seker te maak dat mev. Grove haar betalings ontvang. Dit moes egter vir Louis baie vernederend gewees het dat hy deur al die wette, reëls en norme van die stelsel van slawerny beheer is, terwyl sy vrou vry was.
Die slag van Blaauwberg het in 1806 tussen die Kaapse magte, wat bondgenote van die Franse was, en die Britte plaasgevind. Die 20ste Ligte Dragonders het in die Kaap aangekom en was deel van die Britse magte wat die alliansie tussen Holland en Frankryk by Blaauwberg verslaan het. Daar is beslag gelê op uniforms en wapentuig van die dooies wat oor die slagvelde van Blaauwberg verstrooi gelê het. Sommige daarvan is deur slawe toegeëien.
Louis en sy medesamesweerders het waarskynlik op hierdie manier indirek toegang gekry tot uniforms en wapens vir hulle opstand twee jaar later. Hulle het sekerlik ook uit hierdie veldslag geleer dat niemand onoorwinlik is in 'n oorlog nie. Een oënskynlik magtige owerheid kon deur 'n ander vervang word. Die Kaap is deur die Britse heerskappy oorgeneem en die Kaap het 'n Britse Kolonie geword.
Die slawehandel is in 1807 in Brittanje afgeskaf en die koninklike vloot het begin om die oop see te patrolleer om slawehandel stop te sit. In die kolonies het slawerny nog vir drie dekades aan die gang gebly. Nuwe slawe is nog steeds via ompaaie na die kolonie gebring, maar veral deur die koninklike vloot wat “prys slawe”-vrag gebring het van slaweskepe wat hulle onderskep het. Daar moes nog steeds 'n prys vir hierdie slawe betaal word, en hulle is nie vrygestel nie. Hulle is gebrandmerk en vir 14 jaar as vakleerlinge in boere se diens geplaas voor hulle hul vryheid kon kry. Dit het 'n bespotting gemaak van die ander naam wat hulle genoem is, naamlik “bevryde Afrikane”.
'n Sameswering
Dit was dié konteks waarbinne Louis twee Iere, James Hooper en Michael Kelly, ontmoet het in die seevaarders se taverne aan die waterfront, waar hulle die slawerebellie in 1808 beplan het. Die taverne was die plek waar verhale vertel is en idees gedeel is. Louis het by hierdie taverne vir sy swaer gewerk en hy het hier die eerste keer vir James Hooper, 'n wegloop-skeepsjonge in diens van die kaptein van 'n besoekende skip, ontmoet. Louis en James het bevriend geraak en Louis het vir hom skuiling aangebied by sy huis waar hy saam met Anna gebly het. Deur middel van die verhale wat James vir hom vertel het, het Louis meer te wete gekom van die vryheidstryd in Ierland, Frankryk, Haïti en ander dele van die wêreld. Hulle het die afskaffing van die slawehandel deur die Engelse parlement in 1807 bespreek. Die nuus uit ander dele van die wêreld het oor ontevredenheid en omwentelinge gehandel. Die rokerige lug in die agterkamer van die taverne was gevul met gespreke oor revolusie, vryheid, gelykheid en broederlikheid. Aangesien Louis swak Engelse gepraat het, het Abraham van die Kaap, 'n ander slaaf, by hulle aangesluit en as tolk opgetree.
Louis het later in sy verhoor oor die gespreke in die taverne getuig. Volgens hom het hy daar gehoor dat in ander lande alle mense vry was. Hy het gesê dat hier talle swart mense was wat ook vry kon wees en dat hulle vir hul vryheid moes veg.
Die gesprekke het dag na dag meer intens geraak en hulle het gou begin planne maak. Louis het die leiding geneem. 'n Ier, Michael Kelly, 'n gekontrakteerde arbeider wat weggeloop het van sy meester, het taamlik laat in die proses by die groep aangesluit. Louis het reeds die sleutelbesluit geneem dat hulle meer sukses sou behaal met werwing en organisering onder die plattelandse slawe wat dan na die dorp sou opruk. Louis het 'n kontak gehad op die plaas Vogelgezang in Malmesbury. Die man sou die groep help. Hy was ook 'n slaaf, Jephta van Batavia, wat voorheen 'n stuwadoor op die waterfront was. Ten tyde van die opstand het hy 'n nuwe meester op die plaas Vogelgezang gehad, naamlik Petrus Louw. Op die dorp het nog 'n wegloopslaaf, Adonis van Ceylon, by die groep van vier leiers aangesluit.
Die opstand
Voor hulle met die opstand begin het, het James Hooper en Abraham die tolk na Malmesbury gereis vir 'n ontmoeting met Jephta van Batavia. Hulle het die hele roete verken. Toe al die planne en reëlings voltooi is, het Louis sy perde verkoop en verskeie items gekoop om hul eie kwasi-weermag- en -vloot-uniforms te skep. Hy het besluit op 'n Spaanse vlootuniform, kompleet met epoulette, en volstruisvere in sy hoed. Hy het ook twee swaarde gekoop. Hy het genoeg geld gehad om twee niksvermoedende handlangers en 'n wa met ses perde te huur en om proviand vir 'n paar dae te koop.
Toe hulle die plaas Vogelgezang bereik, het die groep 'n verstommende ding gedoen toe hulle uitvind dat die boer nie tuis was nie. Mev. Louw, die boer se vrou en sy vyf kinders is deur die groep om die bos gelei. Louis, met sy blas vel, het beweer dat hy 'n “Spaanse” skeepskaptein was, en die Iere het voorgegee dat hulle Britse militêre offisiere was. Hulle is op die plaas onthaal. Die volgende oggend het Louis 'n vals kennisgewing van die fiskaal uitgehaal waarvolgens al die slawe op die plaas vrygestel moes word en wat hulle opdrag gegee het om saam met hom te gaan om die Goewerneur te gaan spreek. 'n Geskokte mev. Louw het teengestribbel, maar hulle het haar geïgnoreer. Jephta het gereël dat die nege slawe en die Khoena-bediende by die geselskap aansluit en hulle het die tog na die plase langs die pad na Kaapstad aangepak om al die slawe vry te stel. Hooper en Kelly het vooruitgegaan om die slawe op die ander plase te organiseer. Hulle het ooreengekom om by 'n punt te ontmoet nadat twee afsonderlike roetes gevolg is. Dit het later aan die lig gekom dat hulle van hulle bravade verloor het nadat hulle van Louis af weg is. Michael Kelly het die eenheid van die poging ondermyn. Dit het geblyk dat hy 'n ligsinnige en onbetroubare avonturier was wat net deur eiebelang gemotiveer is. Die ander lede van die groep leiers het verdeel en nuwe rekrute in kleiner groepe na elke plaas langs die pad geneem. Hoe verder hulle beweeg het, hoe dapperder het hulle geword. Party van die slawe en Khoena-bediendes het die storie geglo dat Louis deur die Goewerneur gestuur is om hulle vry te stel terwyl ander eenvoudig by die opstand aangesluit het wetende dat dit 'n rebellie was. Hulle het die boere op die plase bymekaar gemaak, bevele uitgebulder asof die eienaars nou slawe was, en hulle vasgebind. Afgesien van twee gevalle van ernstige wangedrag teenoor die gevange eienaars, wat aanranding en verkragting behels het, het die slawe onder Louis se gedissiplineerde bevel voorbeeldig opgetree selfs al was die rebellie onstuimig. Langs die pad is huise egter geplunder en vuurwapens, ammunisie, kos, wyn, klere en beddegoed is gesteel.
Die rebelle het na 34 plase beweeg en boere en hulle gesinne gevange geneem. Daarna het hulle na Kaapstad beweeg, waar dit hulle oogmerk was om 'n bebloede (rooi) vlag te hys en om te veg tot hulle vry was. Meer as 40 boere en hulle seuns is gevange geneem en op die waens vasgebind. Die optog het vinnig aangegroei tot meer as 326 slawe en Khoena-bediendes. Daar is ooreengekom op 'n ontmoetingspunt by Soutrivier en die rebelle het drie verskillende roetes gevolg na Kaapstad waar hulle beplan het om die Amsterdam-battery aan te val, op die Kasteel te skiet en om dan te onderhandel oor vrede en om 'n staatsowerheid van vry slawe te vestig. Hulle het geen opleiding of ondervinding van oorlog gehad nie en die kans op sukses teen die sterk magte van die Britse Ryk was dus uiters gering. Die slawe se begeerte na vryheid was egter groter as hulle vrees vir die struikelblokke waarvoor hulle te staan gekom het.
Die opstand het aanvanklik volgens plan verloop en is goed uitgevoer. Op 'n kritieke punt het die fatale gebreke egter na vore gekom en alle hoop op vryheid het in 'n tragedie geëindig. Die hele opstand was binne twee dae verby. By die ontmoetingsplek by Soutrivier het die Dragonders wat deur die destydse Goewerneur van die Kaap, Lord Caledon, gestuur is die rebelle aangeval en die rebellie beëindig. Die optoggangers is agtervolg, gevang, aangehou, ondervra en 51 van hulle is verhoor. Indien hierdie opstand in die vroeër era van die NOIK plaasgevind het, sou hulle dalk 'n beter kans gehad het om suksesvol te wees.
Tydens die opstand het Louis deurlopend die tempo versnel en die organisasie van die opstand verbeter. Die aanvanklike taktiek van truuks en die mislei van slawe om te glo dat hulle vrygestel is, het mettertyd verander en daar was nie meer enige twyfel dat dit 'n rebellie was nie. Die historikus Nigel Worden wys daarop dat Louis deur die loop van die dag ondergeskiktes aangestel het om verskillende kontingente van die rebelle te lei. Hy het hulle formeel toegerus met swaarde en seker gemaak hulle ry op perde. Volgens Worden het Louis streng beheer uitgeoefen en diegene wat sy bevele verontagsaam het, gestraf. Die revolusie van 1808 was nie 'n anargistiese opstand, soos wat die owerhede (en later party kommentators) geglo het nie. Dit was 'n berekende beweging wat doelbewus gepoog het om die maatskaplike orde om ver te gooi en om te keer met behulp van die uitgebreide toe-eiening van die magsimbole van slawe-eienaars. In sy beoordeling van die gebeurtenis sê Worden die volgende in 'n koerantberig ter viering van die 200ste herdenking van die gebeurtenis in Oktober 2008:
“Dit was wonderlike organisasie gegewe die swak kommunikasie in daardie tyd, die gebrek aan militêre ondervinding, die lang afstande wat tussen dorpe en in die platteland afgelê is, die moeilike terrein en die ingewikkeldheid van die plan self. Die relatiewe ordelikheid en dissipline van die operasie en die mate waartoe dit gevorder het voor dit deur die berede, gewapende en uiters ervare militêre magte van daardie tyd gestuit is, is ook wonderlik. Gegewe die konteks was dit uitsonderlik dat 'n klein groepie toegeweide samesweerders dit kon bereik.”
Op die heel belangrikste tydstip by die ontmoetingspunt vir die finale optog, was die Iere, James Hooper en Michael Kelly, nêrens te vinde nie. Abraham, die tolk, het ook verdwyn en toe die Dragonders op die groep afgestorm het, het die slawe vinnig padgegee. Die swak gewapende, onervare rebelle was nie opgewasse teen die Dragonders nie en die groepe het gevlug. Die soldate het van die slawe aangekeer en die volgende dag het die orige slawe hulself vrywillig oorgegee by twee interneringspunte – Fort Knokke en Maastricht. Die leiers het aanvanklik almal ontsnap en verdwyn. Hooper, Kelly en Abraham was die eerstes wat weer aangekeer is. Daar is na Louis gesoek en hy is uiteindelik by 'n taverne in Wynberg in hegtenis geneem.
Verhoor en straf
Toe daar van al die mense rekenskap gegee kon word, is daar voortgegaan met ondervragings. Die meeste van hulle is in 'n voorverhoor verhoor en sodoende is die 326 rebelle verminder tot 51 wat vir die hoofverhoor gekies is. Die vyf leiers en 46 ander is in die geregshof verhoor. Slegs een is onskuldig bevind aan 'n verskeidenheid klagtes.
Hoewel die ander leiers mekaar in die hof weerspreek het, het Louis by sy oortuigings gehou tydens sy verduidelikings. Hy het aangevoer dat hy dissipline gehandhaaf het tydens die opstand. Hy was opreg in sy teenstand teen slawerny en het geglo dat hy homself goed gedra het selfs al is die rebellie in die hof 'n bose daad genoem. Dit het geblyk dat Michael Kelly 'n manteldraaier geword het. Abraham het die opstand in 'n verklaring soos volg beskryf:
“Môre, wanneer die bebloede vlag van die stryd gehys word en die stryd om vryheid afgehandel is, sal julle in staat wees om julle meester en meesteres as “Jij” en “Sij” aan te spreek.”
Hierdie eenvoudige tekens van knegskap — om die blanke meesters “hom” en “haar” te noem in plaas daarvan om die formele aanspreekvorms te gebruik — het tot in die 20ste eeu 'n kwessie gebly. Sestien van die rebelle is deur die hof ter dood veroordeel. Die Goewerneur, Lord Caledon, het tussenbeide getree en elf van die doodsvonnisse omgekeer. Louis van Mauritius, James Hooper, Abraham van der Kaap en Jephta van Batavia is weens hulle leierskaprolle ter dood veroordeel en opgehang. Cupido van Java, wat iemand verkrag het, is ook ter dood veroordeel. Die vermeende verraaier, Michael Kelly, het geheimsinnig enige straf vrygespring en die Kaap verlaat.
Louis het daarin geslaag om uit die tronk te ontsnap nadat hy gevonnis is, maar hy is aangekeer deur iemand wat 'n beloning wou hê en hy is teruggeneem. Louis se vrou, Anna, het tydens die verhoor siek geword en het gesterf. Sy het waarskynlik weens stres en hartseer siek geword.
Die ander 46 slawe is verskillende swaar strawwe opgelê, onder andere gevangenisstraf op Robbeneiland. Talle van hierdie slawe was van Mosambiek (hulle het as Masbiekers bekendgestaan) en hulle was destyds die mees onderdrukte slawe. Hoewel die rebellie slawe wat plaaslik gebore is sowel as mense uit Oos-Indië en Europa asook inheemse Khoena-slawe ingesluit het, is dit duidelik dat slawe uit Oos-Afrika op die plase in die koringgebied die aktiefste was in die rebellie omdat hulle die swaarste gekry het weens die uitbuiting en wreedheid. Stedelike slawerny het reeds begin om te verander in 'n soort van arbeid waarvoor 'n loon betaal is, terwyl slawerny in die landelike gebiede ongevoelig, wreed en vernederend was en slawe min gehad het om te verloor buiten hulle kettings. Hierdie verskille in arbeidstoestande het tot in die 20ste eeu voortgeduur.
Kenmerke van die opstand
Hierdie verhaal uit 1808 bevat al die elemente waaroor dramaturge droom ... 'n wonderlike verskeidenheid karakters, liefde, woede, ontevredenheid, 'n revolusionêre wêreldklimaat, die ontmoeting van verskillende kulture, 'n taverne waar die sameswering plaasgevind het, intrige, geheime organisering, tragedie, komedie, verraad, 'n botsing met militêre magte, internering en ondervraging, oorlopers, drama in die hofsaal, 'n ontsnapping uit die tronk, brutale teregstellings, die swak toestande waaronder slawe geleef het en die strewe na gelykheid en vryheid. Nogtans was hierdie verhale van Suid-Afrika se besbewaarde historiese geheime bloot omdat dit vir toekomstige geslagte 'n saamtrekpunt kon gee vir die bevordering van rebellie.
Hoewel die doel van die “Jij”-rebellie nie bereik is nie, het dit tot groot veranderinge in die Kaap gelei. Slawe het begin om meer en meer vir hulself op te staan. Slawe-eienaars was meer bewus daarvan dat hulle teenstand kon kry en dat die slawestelsel nie volhoubaar was nie. Die owerhede is gedwing om stelsels daar te stel om die klagtes van slawe aan te hoor en te hanteer. Daar was al hoe meer kleiner maniere waarop slawe hulle eienaars uitgedaag het, en nog 'n opstand het in 1825 plaasgevind. 'n Afskaffingsbeweging het selfs tussen die blanke setlaars ontwikkel. Die geskiedenis toon dat Louis en die rebelle 'n onuitwisbare impak op die toestande van slawe en die uiteindelike afskaffing van slawerny aan die Kaap gehad het.
Hoewel ander datums wat met die bevryding van slawe verband hou, byvoorbeeld die afskaffing van slawehandel in 1807 en die emansipasie uit slawerny in 1834, belangrik is, het hierdie datums met wetgewing verband gehou. Emansipasie het in werklikheid in 1838 geskied en slawerny is eers in 1870 beëindig na die laaste prysslawe se verpligte tydperke voltooi is.
Die drie dae in Oktober 1808 is belangrik omdat dit 'n dapper stap deur die slawe self was om hulle vryheid te eis. In 'n tydperk toe die woorde vryheid, gelykheid en broederskap dikwels gebruik is, het 'n groep slawerebelle hier in die Kaap hulle eie weergawe van hierdie stelling geskep met die woorde “Jij” (jy of hy) en “Sij” (sy) om hulle begeerte na gelykheid uit te druk.
Tydens die verhoor het een van die slaweleiers, Abraham, die hofamptenare smoorkwaad gemaak omdat hy die ander slawe aangehits het om die stelling te maak: “môre as die bebloede vlag van die stryd gehys word en die vryheidstryd voltooi is, sal julle jul eienaars as jy of hy en sy kan aanspreek”. Die gebeure wat na bewering tot Abraham se teregstelling gelei het, was die feit dat hy 'n stryd om vryheid aangemoedig het en voorgestel het dat die slawe 'n term wat op familiariteit en gelykheid dui, kon gebruik om hulle eienaars aan te spreek. Hierdie eenvoudige woorde is as die grootste astrantheid beskou.
Abraham van de Kaap se kort aanhaling in die hofrekords is een van slegs 'n paar direkte woorde van die Kaapse slawe wat belangrik is, maar dit sê alles. Hierdie woorde het Abraham sy lewe gekos aangesien die hof dit beskou het as verraad, opstoking en aanhitsing tot 'n opstand wat as “boos” beskou is. Die leierskap wat Louis in sy strewe na vryheid getoon het, het hom ook sy lewe gekos.
Louis het waarskynlik sedert hy as 'n kleuter in die Kaap aangekom het en as slaaf verkoop is nooit die waardigheid en vryheid geken wat hy daardie twee dae in Oktober 1808 beleef het nie. Hy het nie gehuiwer toe hy moes besluit of hy 'n rol wou speel in die stryd om vryheid nie.
Nadat hy opgehang is, is sy liggaam aan die begin van Koebergweg aan kettings gehang om te vergaan en sy kop is op 'n paal gesit om ander slawe af te skrik. Die Groenkloof Nasionale Erfenismonument (Pretoria) het 'n lewensgrootte standbeeld van Louis van Mauritius as deel van die projek “Die Lang Pad na Vryheid”.
Bronne
Die verhaal van Louis van Mauritius word uitgebeeld in uitstallings in 'n museum in Simonstad.
George McCall Theal; Records of the Cape Colony (36 Vols) Volume 20; William Clowes and Sons ltd; London; (1900)
Hugo de Villiers; Commanding the Archives – A discourse analysis of the 1808 Slave Rebellion at the Cape; Historical Approaches 5; (2007)
Jackie Loos; Echoes of Slavery; David Phillip; Cape Town; (2004) Karen Harris; The Slave ‘Rebellion’ of 1808; Kleio 20; (1988)
Nigel Worden; The day Cape Slaves made themselves masters – The 1808 Rebellion a dramatic shift in the nature of resistance; Cape Times; (2008)
Robert Ross; Cape of Torments; Routledge & Kegan Paul; London; (1983)