Richard Rive
Onderwyser, akademikus en skrywer (1931 – 1989)
Richard Rive was 'n uitsonderlike skrywer, onderwyser en akademikus. Hy is deur 'n enkelma in Distrik Ses grootgemaak en hy het internasionaal erkenning en lof vir sy werk ontvang. Hy het gekom uit 'n geslag uitsonderlike werkersklasskrywers wat almal uit Camissa-gemeenskappe gekom het en wat deur apartheid as “gekleurd” geëtiketteer is. Hierdie gemeenskappe het gebly in gebiede waar gedwonge verskuiwings weens apartheid plaasgevind het – Distrik Ses, Cato Manor en Sophiatown. Die skrywers van hierdie plekke het James Matthews, Alex la Guma, Ronney Govender en Don Mattera ingesluit.
Richard Moore Rive is op 1 Maart 1931 in Caledonstraat, Distrik Ses, gebore. Hy was die kind van Nancy Rive en Richardson Moore, 'n Afro-Amerikaanse matroos wat vir vyf maande in Kaapstad oorgebly het. Richardson het Nancy verlaat en op 'n skip verdwyn. Hy is nooit weer gesien nie. Richard Rive en sy halfbroers en -susters het in Distrik Ses grootgeword in 'n ou gebou met die naam Eaton Place. Sy ouer suster, Georgina, het 'n groot rol gespeel in sy grootwordjare. Dit was hier in Distrik Ses dat Richard inspirasie gekry het van talle mense wat hy waargeneem het, asook uit die 20 jaar van gedwonge verskuiwings deur die apartheidsregime.
'n Uitblinker op skool
As laerskoolkind was Rive in St. Mark’s. Op die ouderdom van 12 het sy hoë punte vir hom 'n munisipale beurs vir Trafalgar Hoërskool besorg. Hy het uitgeblink op skool en in sport, en hy het verskeie pryse ontvang vir atletiek. Hy het die Suid-Afrikaanse hekkiesrekord 'n hele paar jaar lank gehou. Richard het sy hoërskoolloopbaan in 1947 voltooi en hy het 'n rukkie lank as 'n klerk vir 'n klein maatskappy, Phil Morkel, gewerk. In 1950 het hy by Hewat Opleidingskollege ingeskryf en 'n jaar later het hy as 'n hoërskoolonderwys gekwalifiseer om Engels te gee. Sy eerste pos was by Vasco Hoërskool, maar na slegs een jaar het hy 'n onderwyspos by South Peninsula High School aanvaar. Hy het byna 20 jaar lank daar skool gehou. In daardie tyd het hy gevorder tot hoof van die Engelse departement. Hy was ook die atletiekafrigter en tot 'n groot mate verantwoordelik vir die skool se sportprestasies gedurende die sestigerjare.
Richard se politieke bewustheid het op skool en as student aan die onderwyskollege ontwikkel. Talle van sy kollegas en studente was verban, was onder huisarres, is sonder verhoor aangehou, is gevange gehou en party is selfs in sluipmoordpogings doodgemaak weens hulle teenkanting teen apartheid. Richard se pen en sy skerp tong het sy wapen geword vir bevryding en dit is waarvoor hy bekend geword het.
Terwyl hy in 1952 as 'n onderwyser gewerk het, het Richard Rive by die Universiteit van Kaapstad ingeskryf vir 'n BA-graad met Engels as hoofvak. Aangesien onderrig sy eerste verantwoordelikheid was, het dit hom 'n dekade geneem om die graad te behaal.
Inspirasie vir studente
As onderwyser het Richard bekend geraak vir die bevordering van lees onder sy studente deurdat hy leeslyste versprei het met die name van boeke wat bewustheid by hulle gewek het. Die boeke en artikels wat hy met sy studente gedeel het, was dikwels werke wat deur die staat se sensors verbied is.
Die studente wat deur die jare by hom klas gehad het, onthou hom as 'n flambojante, Boheemse gay karakter. Sy eie karakter het talle verskillende komplekse grense oorgesteek wat die sosiale norme destyds uitgedaag het. Hoewel hy die Queen’s English voorgestaan het, kon hy die jargon en idiosinkrasieë van die sukkelende werkersklasse vasvang.
Sy vermoë om humor te gebruik om die hartseerste gebeurtenisse in die lewe oor te dra, was legendaries. Die bekendste voorbeelde hiervan was die karakters in sy werk Buckingham Palace – District Six. Hierdie roman is vir die teater aangepas en baie later was dit 'n voorgeskrewe boek vir hoërskoolleerders.
In 1964 het hy sy eerste roman, Emergency, uitgegee. Die konteks van die roman was die Sharpeville-slagting en die nadraai daarvan. Dit is feitlik onmiddellik deur die apartheidsregime verban. In daardie tyd het sy verhale in Drum Magazine en in die linkse publikasie Fighting Talk verskyn. In 1963 is 'n boek met sy kortverhale, getiteld African Songs, uitgegee. Hy het ook 'n bloemlesing geredigeer vir Heinemann se African Writers Series – Quartet. Die boek het verhale deur Alex La Guma, James Matthews, Alf Wannenburgh en homself bevat. In 1964 het hy 'n bloemlesing met die naam Modern African Prose geredigeer.
In 1965 is 'n Fulbright-beurs op aanbeveling van Es'kia Mphahlele, die redakteur van Drum Magazine, aan Richard Rive toegeken. Met hierdie beurs is hy na die Verenigde State van Amerika om Afrika- en Afro-Amerikaanse letterkunde by die Universiteit van Columbia te bestudeer. Hy het sy meestersgraad in 1966 aan dié universiteit behaal.
Die akademiese prestasie waarop hy die trotste was, was die doktorsgraad in die kunste wat hy aan die Universiteit van Oxford in die Verenigde Koninkryk behaal het. Sy tesis het op Olive Schreiner en haar skryfwerk gefokus. Hierdie tesis is in 1996 postuum uitgegee.
Tydens sy roemryke loopbaan was Richard Rive 'n besoekende professor en gasdosent by meer as 50 universiteite op vier vastelande regoor die wêreld, onder andere by Harvard in 1987.
Sy outobiografie, Writing Black, wat in 1981 uitgegee is, was die toppunt van sy loopbaan as skrywer. Rive se publikasies het Selected Writings (1977), Advance, Retreat (1983) en Emergency Continued (1990) ingesluit. Laasgenoemde is slegs twee weke voor sy dood op 4 Junie 1989 voltooi.
In 'n ironiese wending aan die einde van sy lewe moes hy die opening van sy toneelstuk by die Baxter-teater in Kaapstad bywoon, maar hy is enkele dae voor die opening vermoor. Dit was die eerste keer wat sy werk, wat vir baie jare verban was maar wat regoor die wêreld uitgegee en opgevoer is, in 'n Suid-Afrikaanse teater vereer is.
Rive het jong mans na sy huis genooi. 'n Geveg het uitgebreek en hy is 22 keer met 'n mes gesteek en 'n paar van sy besittings is gesteel. Twee jong mans is skuldig bevind aan sy moord en tronk toe gestuur. Richard Rive is lank na sy dood nog vereer en hy het erkenning geniet as deel van 'n spesiale generasie skrywers. Op 23 Augustus 2013 is Richard Rive (District Six), Ronnie Govender (Cato Manor) en Don Mattera (Sophiatown) met die Aziz Hassim-toekenning vir letterkunde vereer vir hulle bydraes tot die stryd teen apartheid deur middel van literatuur.
Sylvia Vollenhoven en Basil Appollis het 'n eenmanvertoning oor sy lewe geskryf, naamlik A Writer’s Last Word. Dit is by die Jermyn Street Theatre in die Weseinde van Londen opgevoer, waar dit My Word – Redesigning Buckingham Palace genoem is. Die toonaangewende koerant Times het vier sterre aan die produksie toegeken. Dit was saam met werke van Reza de Wet en Athol Fugard deel van 'n Suid-Afrikaanse teaterfees.
'n Gedig deur Richard Rive, getiteld Where the Rainbow Ends (een van die paar wat hy geskryf het) het wêreldwyd erkenning ontvang en dit is getoonset:
Where the Rainbow Ends
Where the rainbow ends
There’s going to be a place, brother,
Where the world can sing all sorts of songs,
And we’re going to sing together, brother,You and I, though you’re white, and I’m not.
It’s going to be a sad song, brother,
Because we don’t know the tune,
And it’s a difficult tune to learn.
But we can learn, brother, you and I.
There’s no such tune as a black tune.
There’s no such tune as a white tune.
There’s only music, brother,
And it’s music we’re going to sing
Where the rainbow ends.
Bronne
Simon Gikandi, The Routledge Encyclopedia of African Literature (London: Routledge, 2009);
Bernth Lindfors and Reinhard Sander, Twentieth-Century Caribbean and Black African Writers (Detroit: Gale Research, 1993).
Geoffrey V. Davis, Voices of Justice and Reason, Editions Rodopi, 2003, pp. 95-100.
“Richard (Moore) Rive”, Dictionary of Literary Biography.
Paul Frailey, “Richard Rive”, Blackpast.org, retrieved 13 August 2014.
Stephen Gray, “Richard Rive biography: Where’s the roistering braggart?” (review of Richard Rive: A Partial Biography, by Shaun Viljoen; Wits University Press), Mail & Guardian, 4 October 2013.
“Literary awards for Struggle stalwarts”. Daily News. 21 August 2013. Retrieved 19 September 2013.
Shaun Viljoen, “Richard Rive: A Skewed Biography”, PhD thesis, University of the Witwatersrand, 2006