Cape Town Museum

View Original

Sheikh Yusuf van Macassar


Spirituele onderwyser, mistikus en vryheidsvegter (1626 - 1699)

In 'n dolle gejaag om oorheersing van Suidoos-Asië en sy hulpbronne, het die Hollandse, Portugese, Engelse, Franse, Spaanse en Deens seevaarders uit Europa hierdie arena betree deur nie net teen mekaar oorlog te maak nie, maar deur ook oorlog te maak teen die Arabiese handelsteenwoordigheid en invloed. 

Die belangrikste is dat hulle oorlog gevoer het teen die inheemse mense van die streek. Hierdie oorloë het daartoe gelei dat duisende gevange geneem is en as slawe verkoop is. Ander, wat koninklikes, adellikes, militêre leiers en godsdienstige leiers was, is verban na kolonies of gebiede waar die Europese magte sogenaamde werkplase gevestig het waar koloniale handelsagente aan die hoof gestaan het. 

In teenstelling met die Europese inname en toe-eiening van rykdom, was daar 'n aantal sterk koninkryke, klein keiserryke en leenryke. In party van hulle was heersers aan die hoof wat dikwels ook hooggeagte geestelike leiers was, wat bekend gestaan het as die 

Orang Cayen. Sheikh Yusuf Al-Makassary was een van hierdie Orang Cayen, wat ook Tuans, of in Sulawezi, die Wali Pitue genoem is. 

Daar is ook na Sheikh Yusuf verwys as Abadin Tadia Tjoessoep, die neef van Koning Gowa in die Celebes. Hy is in 1626 in Macassar gebore. Sy pa was Galarrang Moncongloe (Abdullah Khaidir), 'n broer van die sultan Alauddin, die eerste koning van Gowa wat in 1603 die Islamse geloof aangeneem het. Sy ma was Aminah binti Damapang Ko’mara, 'n afstammeling van adellikes uit die Tallo-koninkryk, die tweelingkoninkryk van Gowa.


Pionier en banneling

Sheikh Yusuf was 'n pionier van die eerste bekendstelling van die Islam aan gemeenskappe in Macassar in Suid-Sulwesi, Bantam in Wes-Java, Ceylon (vandag Sri Lanka) en Kaapstad, waar hy die laaste jare van sy lewe in ballingskap deurgebring het.

Die jong Yusuf het as kind reeds potensiaal getoon en sy pa het hom na Pondok Pesantren Bontoala gestuur om die Islam te bestudeer. Dit is gevolg deur 'n tydperk van gevorderde studie in Pondok Cikoang onder leiding van Sheikh Jalaluddin al-Aidid. Na hy sy studies voltooi het, is daar by sy pa aanbeveel dat hy sy studies in Jazirah in Arabië moes voortsit. Hy het na 20 jaar na Suidoos-Asië teruggekeer. Hy was nou 'n knap onderwyser en verspreider van sy geloof. Hy het ook talle gewilde geskrifte in vyf tale gelewer.

Benewens sy opleiding in godsdiens, het 'n hy leier geword in die verset teen die Nederlanders wat 'n sterk koloniale voetspoor gehad het oral in gebiede van Suidoos-Asië, waar Sheikh Yusuf 'n gevolg gehad het. Macassar is deur die Nederlanders oorgeneem. Toe Sheikh Yusuf Jiddah in 1664 verlaat het, het hy dus nie na Gowa gevaar nie, maar na Bantam in Wes-Java.

Sheikh Yusuf het getrou met die dogter van sultan Abdul Fatah, die sultan van Bantam, ook bekend as Ageng (wat “die grote” beteken). Sy skoonpa het hom as hoof- godsdienstige regter en persoonlike adviseur van die sultan aangestel. Die Nederlanders, wat bang was vir die reputasie van Sheik Yusuf, was bekommerd oor die posisie wat hy in Bantam beklee het.

Die NOIK (Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie) het die gebied oorheers en die reg toegeëien om enige prins wat gekroon moes word, te benoem. Die sultans is as NOIK-konings beskou. Hulle is deur kontrakte gebind om die NOIK se beleide te volg, veral ten opsigte van die peperhandel en internasionale verhoudinge. Indien enige sultan hierdie verbintenisse geïgnoreer het, of nie in staat was om die Kompanjie se belange in Bantam (of Banten) te verdedig nie, is hy van die troon verwyder. In 1680 het die Nederlanders spanning binne die sultan se familie aangeblaas deur ondersteuning van een van die sultan se drie seuns te kry. Dit het aanleiding gegee tot 'n oorlog waarin die seun gepleit het vir ondersteuning deur die Nederlanders. Hulle het ondersteuning verleen deur deel te word van die konflik tussen die sultan en sy ander twee seuns, sowel as die sultan se adviseur, Sheikh Yusuf. Die verset het meer as drie jare lank geduur. 'n Gewonde Sheikh Yusuf, wat gevlug het en onder moeilike omstandighede gaan skuil het, is uiteindelik in 1684 met 'n belofte van kwytskelding oorreed om oor te gee.


'n Toevlugsoord vir slawe

Die Nederlanders het hulle beloftes verbreek en Sheikh Yusuf is in Batavia in die tronk gesit. Hy is later oorgeplaas na 'n tronk in Colombo, Ceylon. Alle pleidooie om sy vrylating is verwerp – selfs die pleidooie van hooggeplaastes soos die koning van Gowa. Die Nederlanders was bang vir militêre teenstand teen hulle deur diegene wat ten gunste van sy vrylating was. Hulle het Sheikh Yusuf gevolglik op 27 Junie 1693 lewenslank na die Kaap die Goeie Hoop verban. 

Sheikh Yusuf en sy vroue, Carecontoe en Carepane, het in April 1694 op die skip de Voetboeg in die Kaap aangekom. Hulle is vergesel deur twee slawemeisies, Mu'minah en Na’imah, twaalf kinders, twaalf imams en 'n aantal aanhangers en hulle families. Daar was altesaam 49 mense. Hulle is deur die destydse Goewerneur van die Kaap, Simon van der Stel, ontvang. Hy het hulle op die plaas Zandvliet naby die mond van die Eersterivier laat vestig. Die gebied het later as Macassar bekendgestaan weens Sheikh Yusuf se herkoms. 

Sheikh Yusuf se nedersetting by Zandvliet het gou 'n toevlugsoord vir voortvlugtige slawe geword. Dit was hier wat die eerste Moslem-gemeenskap van die Kaap ontstaan het. Van hier af is die Islam se boodskap na die slawegemeenskap in Kaapstad versprei. 

Sheikh Yusuf het sy ballingskap in werklikheid verander na 'n godsdienstige sending wat die grondslag van 'n florerende Moslem-gemeenskap in Suid-Afrika suksesvol gelê het. 

Toe Sheikh Yusuf op 23 Mei 1699 op die ouderdom van 73 by Zandvliet oorlede is, is hy op 'n koppie naby sy woonplek begrawe. Vier van sy studente wat saam met hom gewerk het om die Islam-gemeenskap in Kaapstad te vestig, is ook daar op die koppie met 'n uitsig oor Macassar by Faure begrawe. 'n Kramat of graftombe is oor sy graf opgerig en is later weer herbou, opgeknap en in stand gehou as 'n plek van herinnering en toewyding. Baie pelgrims word daar ontvang. 

In daardie tyd was die meeste van die Moslems in die Kaap nie oorspronklik navolgers van die Islam in Suid-Asië en Suidoos-Asië waar hulle gevange geneem is of as slawe verkoop is nie. Hulle was oorlogsgevangenes, mense wat weens hongersnood en natuurrampe gevlug het, verkoop as gevolg van knegskap weens skuld, of hulle was slagoffers wat deur seerowers gevange geneem is. Hierdie mense wat tot slawe gemaak is, was van alle waardigheid gestroop. Hulle het voeling verloor met hulle kultuur en geloof, waaronder Sjamantiese Animisme, Boeddhisme, Hindoeïsme en in party gevalle Katolisisme. 

Aan die Kaap is die slawe vanaf die 1680’s ontmoedig om Christene te word, omdat die eienaars van Christen-slawe verplig sou wees om hulle na 'n tydperk vry te stel. Sendelinge wat Christenskap in die 1790’s na die inheemse mense gebring het, is tot met die afskaffing van slawerny ontmoedig om die Christenskap na die slawe te bring. Daarna het hulle massa-doopgeleenthede op die plattelandse dorpe gehou. Hierdie scenario is deur Sheikh Yusuf gesien as 'n geleentheid om die vertroosting en waardigheid van geloof na die slawe te bring. 

Sheikh Yusuf van Macassar word as die vader van Islam in Suid-Afrika beskou.


Bronne