Zwarte Maria Evert


Oorspronklike eienaar van Kampsbaai (1663 - 1713)

Die ouers van Zwarte Maria Evert is in Benin gebore en as slawe na die Kaap gebring. In hul geboorteland was 'n legendariese vroueregiment genaamd die Amazon Warriors of Dahomey. Maria het hierdie erfenis beliggaam toe sy bo slawerny uitgestyg het en 'n prominente boer en sakevrou geword het. Sy het te staan gekom teen 'n koloniale samelewing wat deur Europese mans oorheers is, maar met haar dood was sy 'n baie ryk en gerespekteerde vrou. Sy was die eerste houer van die transportakte van die plaas waar Kampsbaai later aangelê is. Zwarte Maria Everts is in 1663 in die Kaap die Goeie Hoop gebore. Haar ma was Anna van Guinee, wat ook die inheemse Afrika naam Hoena gehad het, en haar gemenereglewensmaat, Evert van Guinee.

Evert en Anna van Guinee het in Mei 1658 in die Kaap die Goeie Hoop aangekom as deel van 'n groep van 220 slawe wat in Popo (Benin) op die slaweskip Hasselt gelaai is. Hulle is saam met Koddo van Guinee, Maria van Guinee, Oude Hans van Guinee, Jajenne van Guinee, Adouke van Guinee, Deuxsous van Guinee, Dirk van Guinee en Regina van Rapenberg van Guinee deur Jan van Riebeeck gekoop. Terwyl sy vir Van Riebeeck gewerk het, het Anna in 1660 'n seun by Dirk van Guinee gehad. 

Anna is later deur Van Riebeeck aan Hendrick Hendricksz Boom verkoop toe hy in 1662 uit die Kaap vertrek het. Sy is 1665 saam met haar dogter Zwarte Maria weer verkoop aan Matthijs Coeijmans. Terwyl Boom haar besit het, het Anna geboorte geskenk aan Zwarte Maria Evert. Van daardie tyd af het Anna 'n verhouding met Evert gehad en teen 1671 het Anna en haar dogter Zwarte Maria hulle vryheid verkry. Dit was moontlik die geval omdat Evert hulle by hulle eienaar, wat die Kaap verlaat het, gekoop het. Evert en Anna het daarna bymekaar gewoon.


Freed Slaves

 
 

Bevryde slawe

Evert se lewe was nie so moeilik soos dié van Anna en sy dogter nie. Hy het in 1659 sy vryheid van Van Riebeeck ontvang. Daar is in die geskiedenis opgeteken dat hy die eerste manlike slaaf was wat vrygestel is. Hy is met sy vryheid beloon omdat hy Van Riebeeck gehelp het om die ander slawe uit Wes-Afrika, wat deurlopend probeer ontsnap het, te beheer. Sy inligting het gehelp om van die slawe wat ontsnap het, weer te vang. Hy was inderwaarheid 'n toesighouer en volgens moderne standaarde sou hy as 'n verraaier beskou word.

Bevryde slawe het deel geword van die opgetekende “vry swart”-bevolking, wat ook gekleurde swerwers soos Merdijker-soldate van eilande soos Ambon in Suidoos-Asië, of matrose, handelaars en avonturiers ingesluit het.

Later in 1669 is 'n stuk grond naby Roelandstraat en Tuynhuys deur Kommandeur Jacob Borghorst aan Evert van Guinee toegeken. Hy het daar gewoon, en met vrugte en groente geboer. Dit was 'n taamlike groot stuk gesogte eiendom in die middel van Kaapstad en dit het goeie toegang tot water gehad. Hy het dit later uitgebrei deur in 1678 die aangrensende stuk grond by Hendrik Evertsz Schmidt te koop. Evert het later in sy lewe na Stellenbosch verhuis, waar hy die eerste van die vroeë vry swart boere was. Hy het die plaas Welgelegen gevestig. Anna is in 1684 oorlede en Evert is in 1688 oorlede.

Zwarte Maria, so genoem weens haar donker swart gelaat, is in slawerny by die Fort de Goede Hoop gebore en sy is saam met haar ma deur Boom aan hulle volgende eienaar, Coeijmans, verkoop. Evert van Guinee het hulle vryheid by Coeijmans gekoop. Vanaf die ouderdom van 13, toe sy in 1676 saam met haar ma gedoop is, het Zwarte Maria Evert begin ontpop. Aangesien sy haar lewe lank 'n slaaf was, was sy reeds 'n harde werker toe sy met die groenteboerdery gehelp het. Sy het Evert dopgehou en geleer om te boer. Haar goeie entrepreneurskap het ontwikkel uit haar betrokkenheid by die verkoop van produkte uit Evert se tuin. Evert het haar geleer hoe om transaksies te doen en hoe 'n mens grond kon bekom. Hierdeur het sy bedrewe geraak in besigheid en sy het in grond begin belê.

Die Everts se huishouding was onstuimig en hulle het 'n reputasie vir botsings ontwikkel. Buiten Anna se eie kinders het hulle twee kinders, wat in slawerny grootgeword het, in pleegsorg gehad. Al die vroue in die huishouding het gedurig met die gereg gebots. 

Hoewel Evert 'n suksesvolle groenteboer was, het hy gedurig lenings aangegaan en die geld slim in grond belê. Hy het egter nooit sy lenings terugbetaal nie. Dit was dalk ook Evert van Guinee wat Zwarte Maria die eerste keer met haar besigheidsondernemings gehelp het. Sy het egter ook geweet dat sy afstand moes handhaaf tussen haarself, die familie en die onstuimigheid van die Evert-huishouding in die middedorp.

 
 

'n Formidabele sakevrou

Zwarte Maria was innemend, diplomaties en boeiend as 'n persoon, en soos talle van die vroue wat aan slawerny onderwerp is of wat in slawerny gebore is, het sy goeie geleenthede gesoek en dit gebruik om soveel as moontlik afstand tussen haar en haar vorige lewe as 'n slaaf te bewerkstellig. Op die ouderdom van 16 is sy getroud met 'n vry swarte, die voormalige Angolese slaaf met die naam Jackie Joy van Angola (ook genoem Gracias van Angola). Dit was die eerste keer wat twee mense van Wes-Afrika in die Kaap in 'n kerk getroud is. Dit was haar enigste formele huwelik. 

Die jaar 1679 was vir haar 'n baie deurmekaar jaar. Sy is in daardie jaar daaraan skuldig bevind dat sy vir 'n ontsnapte slaaf skuiling gebied het. Sy is ses maande harde arbeid as straf opgelê. Sy is in daardie jaar ook getroud met een van die Kaap se mees sjarmante dwalende karakters. Dit was nie 'n lang huwelik nie, want die egpaar is in Julie 1680 geskei nadat Jackie Joy Zwarte Maria daarvan beskuldig het dat sy hom probeer vergiftig het. Mnr. Joy het sy gelyke teëgekom. Zwarte Maria het hierdie moeilike omstandighede oorkom en haar geluk het oor die volgende 33 jaar verander. 

Teen die einde van die 17de eeu was Zwarte Maria een van die mees formidabele boere en het sy verskeie plase in Kaapstad en langs die kus besit. Sy het baie groot sukses behaal. Sy het wingerde, vrugtebome, koring en mielies geplant en sy het met beeste en skape geboer. In 1713, voor haar ontydige dood, het Maria die eerste transportakte van die Verenigde Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie ontvang vir 'n plaas in die omgewing. Dit was 'n stuk grond net oor die nek tussen Tafelberg en Leeukop, reg tot by die see. Die stuk grond het later as Kampsbaai bekend geword.

Op die hoogtepunt van haar sukses het 'n Engelse besoeker, Samuel Briercliffe, wat die treffende Zwarte Maria Evert ontmoet het, haar soos volg beskryf:

“She is a tall woman, very black, having sparkling eyes which, though frightful in her, yet would be very killing in an English face, but she is a very good hostess, and provides for us splendidly and neatly withal …”

Hierdie ontmoeting het plaasgevind kort voor sy tydens die pokke-epidemie van 1713 oorlede is. 'n Deense skip waarop pokke uitgebreek het, het in Tafelbaai vasgemeer. Hulle het hulle vuil linne vir slawevroue gegee om in die rivier te was. Dit het meegebring dat die epidemie deur die hele kolonie en tot by die Weskus versprei het. Die getal sterfgevalle het elke dag groter geword. Maria is in Junie 1713 dood kort nadat sy haar testament op 8 Junie 1713 onderteken het. Haar seun Jacobus (by Willem ten Damme) is twee weke later ook weens pokke oorlede. Sy het 'n aansienlike boedel nagelaat aangesien sy een van die rykste mense in die kolonie was.

 
 

Daar is opgeteken dat Maria 'n aantal verhoudings gehad. Hierdie verhoudings het reeds in haar tienerjare begin, soos die geval was met al die vroue in die huis van Evert van Guinee. Sy was net met Jackie Joy getroud, maar het verhoudings gehad met 'n man met die naam Kraak, Willem ten Damme, asook met Bastiaan Colyn. Sy het vier kinders gehad by Bastiaan Colyn, een by Willem ten Damme en een by Kraak. Sy het moontlik ook een kind by Jackie Joy gehad. Maria Everts se seun, Johannes Colijn, het 'n bekende wynmaker op die plaas Groot Constantia geword. Hy was een van die eerste mense wat Kaapse wyne regoor die wêreld uitgevoer het. Dit het meegebring dat die Kaapse wyne gedurende die 18de en 19de eeu vir bykans 150 jaar 'n impak op die internasionale markte gehad het. 

Met die opening van Kaapstad se nuwe Internasionale Konvensiesentrum in 2003 het President Thabo Mbeki hulde gebring aan die innoverende pioniersgees van Zwarte Maria Evert. Hy het gesê dat dit sekerlik 'n triomf is vir afstammelinge van slawe wat in kettings in die Kaap aangekom het maar die rolmodelle was wat ons nou probeer navolg in die vorming en vernuwing van ons vasteland Afrika.


Bronne

Previous
Previous

Zainunnisa ‘Cissie’ Gool

Next
Next

Sheikh Yusuf van Macassar