Onderwyser, Struggle-ambassadeur en menseregte-aktivis (1935 – 1988)

Met die geboorte van Jakobus en Susan September se tweede kind op 30 Augustus 1938 in Gleemore Estate in Athlone, sou hulle nooit kon raai dat hulle dogter, Dulcie Evonne September, ʼn vryheidsvegter sou word wie se lewe in Frankryk deur ʼn sluipmoordenaar se koeël beëindig sou word nie. Dulcie September het die eerste vrou geword om die diplomatieke pos van die ANC se Hoofverteenwoordiger te beklee. Sy is in die uitvoering van haar pligte in ʼn vreemde land dood terwyl sy haar mense se strewe na vryheid gedien het.

Dulcie se verhaal begin met haar laerskoolonderrig by die Klipfontein Metodiste sendingstasie. Daarna is sy na die Hoërskool Athlone. Dit is hier in Athlone waar haar politieke grondslag gelê is toe sy die kloof tussen die wêreld waarin sy geleef het en dié van die bevoorregte blanke gemeenskap aan die ander kant van die spoorlyn ervaar het.

Die jong aktivis

Dulcie het teen 1955 ʼn onderwysdiploma aan die Wesley Opleidingskollege in Soutrivier behaal. Sy het haar loopbaan by City Mission School in Maitland begin. In 1956 het sy ʼn nuwe pos aanvaar by Bridgetown-Oos Laerskool in Athlone en ook by die onderwysersbond van Suid-Afrika aangesluit. Dit is hier waar sy by die Kaapse Skiereiland se studentevereniging betrokke geraak het en ʼn politieke pad begin volg het. Soos baie van die destydse jongmense het sy ondersoek ingestel na die verskillende politieke liggame wat in die vorige dekade begin is, byvoorbeeld die Unity Movement of South Africa.

Van die organisasies wat vir haar aanloklik was, was die African People’s Democratic Union of South Africa (APDUSA) wat uit die Unity Movement ontstaan het. Dulcie was egter gefrustreerd met dit wat sy die intellektuele gemaksone van APDUSA en die Unity Movement genoem het. Sy het ook voorbehoude gehad oor die teenstrydigheid van onderwysers in veilige regeringsposte wat daarop aanspraak gemaak het dat hulle die enigste ware “politiese” pad gevolg het. Daar was destyds baie onenigheid en spanning in politieke bewegings oor wat ʼn kollaborateur was. Dit het meegebring dat sy en ander jeugdiges gefrustreerd was oor die eng interpretasies van samewerking met die apartheidsmagte. Dulcie was in daardie tyd na aan aktiviste soos Neville Alexander, Marcus Solomon, Andreas Shipanga, Fikile Bam en ander.

Die Yu Chi Chan-klub

Saam met ʼn groep eendersdenkende aktiviste onder leiding van Neville Alexander was Dulcie deel van die vorming van ʼn militante studiegroep genaamd die Yu Chi Chan-klub. Hulle is deur die Chinese revolusie geïnspireer. Hulle het die klub na slegs meer as ʼn jaar ontbind en het in 1963 die National Liberation Front (NLF) gevorm. Vir hierdie jong mense het dit al hoe meer gelyk asof ʼn gewapende stryd die enigste pad vorentoe was. Die destydse aktiviste het Reg September, Alex la Guma, Basil February, James April en Barney Desai ingesluit, wat ondergronds en in ballingskap gegaan het om die gewapende stryd saam met Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die African National Congress (ANC), te ondersteun. Hulle is waarskynlik deur agente van die vyand geïnfiltreer, want ʼn skielike vlaag van onderdrukking en aanhoudings het die NLF getref terwyl hulle nog probeer het om van die grond af te kom. Tien van die NLF-kaders, waaronder Dulcie, is in Oktober daardie jaar in hegtenis geneem en sonder verhoor in die Roelandstraat-tronk aangehou. Hulle is op 15 April 1964 hof toe geneem op klagtes van sameswering om sabotasie te pleeg en politieke geweld aan te moedig ingevolg die Strafproseswet. Dulcie September is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis.

Toe sy in 1969 vrygelaat is, is sy onmiddellik onder ʼn vyf jaar lange inperkingsbevel geplaas. Dit het haar verhoed om aan politieke aktiwiteite deel te neem en om as ʼn onderwyseres te werk. Dit het ook haar sosiale en familielewe ernstig beperk. Na vier jaar onder die inperkingsbevel het Dulcie September aansoek gedoen om ʼn vertrekpermit sodat sy Suid-Afrika permanent kon verlaat. Sy het aan boord van ʼn oseaanskip vertrek en in ballingskap in die Verenigde Koningryk (VK) gaan bly. Daar het sy ʼn pos by Madeley College of Education in Staffordshire aanvaar.

In die VK het sy by die anti-apartheidsbeweging aangesluit en na ʼn rukkie het sy uit haar pos as onderwyser bedank en vir die International Defence and Aid Fund for Southern Africa gewerk. In die VK het sy saam met Reg en Hettie September gewerk, asook saam met Alex en Blanche la Guma, wat ondersteuning aan haar verleen het en met wie sy hegte bande ontwikkel het. In 1976 het sy besluit om by die ANC aan te sluit en sy het aktief betrokke geraak by die organisasie se Vroueliga.

Die internasionale verhoog

Dulcie September het sterk na vore gekom toe 1979 as die Internasionale Jaar van die Kind verklaar is. Sy is verkies tot voorsitter van die ANC se komitee vir die Internasionale Jaar van die Kind in Londen, waar sy saam met ander aktiviste soos Ilva McKay en Eleanor Kasrils gewerk het. Met konferensies wat in Frankryk, Finland en Kanada gehou is, is sy as kampvegter vir kinderregte betrek. Sy het ook saam met NRO’s, regerings, internasionale vroueliggame en die Verenigde Nasies gewerk. In die loop van haar werk het sy te doen gekry met militante liberalistiese vroue soos Hettie September, Florence Mophosho, Lindiwe Mabuza en Mankekolo Mahlangu. In een stadium is daar van haar verwag om saam met Eleanor Kasrils ʼn seminaar van die Internasionale Arbeidsorganisasie in Tanzanië by te woon.

Weens die roepstem van Afrika het Dulcie verhuis en voltyds in die streeks- politieke komitee by die ANC se hoofkantoor in Lusaka gewerk. Sy is verkies tot voorsitter van die voorbereidende komitee van die ANC se Vroueliga se konferensie wat by Kabwe, Zambië, en in Luanda, Angola, gehou is. Dit was deel van die viering van die 25ste herdenking van Suid-Afrika se Vrouedag. Sy is ook verkies om by Mittah Seperepere aan te sluit om die ANC se vroue-afdeling te verteenwoordig by die Wêreldkongres vir Vroue vir Gelykheid, Nasionale Onafhanklikheid en Vrede wat in Oktober 1981 in Praag, Tsjeggo-Slowakye, gehou is.

Dit was binne hierdie konteks wat Dulcie September in 1983 aangestel is as die ANC se hoofverteenwoordiger in Frankryk, Switserland en Luxemburg. As ʼn hoofverteenwoordiger moes Dulcie militêre opleiding ondergaan en sy het ʼn kort kursus in die Sowjetunie voltooi.

Een van haar pligte as hoofverteenwoordiger was om in Frankryk, Switserland en Luxemburg steun te werf vir disinvestering en om haar te beywer vir volle ekonomiese sanksies teen die Suid-Afrikaanse regering. Frankryk het destyds ʼn aansienlike gedeelte van Suid-Afrika se militêre vliegtuie en vlootvliegtuie verskaf.

Kuba was altyd vir Dulcie September ʼn bron van inspirasie en op 11 Oktober 1985, toe Alex la Guma, die ANC se hoofverteenwoordiger in Kuba, oorlede is, is Dulcie na Havana om Blanch la Guma te ondersteun en te vertroos. Vir die volgende nege maande was Dulcie baie besig op die internasionale front waar sy haar beywer het vir die oplegging van sanksies deur Frankryk en die internasionale gemeenskap teen Suid-Afrika.

Oor die volgende twee jaar het Dulcie die Franse sowel die Suid-Afrikaanse regerings die stryd aangesê deur te help om een van die mees formidabele anti-apartheidsbewegings, gebaseer in die drie lande wat direk onder haar missie geval het, in Europa uit te bou. Die effek daarvan het uitgekring na die res van Europa. Sy het ʼn veldtog geloods op grond van die arrestasie en gevangehouding van Pierre Andre Albertini vir politieke aktiwiteite wat met die ANC verbind is. Ten tyde van sy arrestasie deur die apartheidsregering het Albertini as ʼn dosent in Frans by die Universiteit van Fort Hare gewerk as deel van ʼn uitruilprogram van die Franse regering. Dulcie se veldtog was gerig op sy vrylating.

Hierdie voorval is gebruik om die veldtog vir sanksies te verstewig en sy het gou na vore gekom as ʼn bedreiging vir sterk magte in Europa se ondergrondse vuurwapenhandel. Die wêreld het begin warm word vir Dulcie. In ʼn buurland, België, het die ANC se hoofverteenwoordiger, Godfrey Motsepe, twee sluipmoordpogings oorleef. Dulcie het egter die ANC-leiers se aanbod om haar uit die gevaar te verskuif van die hand gewys. Op 29 Maart 1988, op die ouderdom van 53, is Dulcie September net buite die ANC se kantoor in Parys in ʼn sluipmoordaanval dood. Sy is vyf keer van agter af met ʼn 22 kaliber-vuurwapen met ʼn knaldemper geskiet toe sy haar kantoor oopgesluit het nadat sy die pos gaan haal het.

Twintig duisend roubeklaers het haar begrafnis bygewoon om hul laaste eer te bewys. Dulcie se naam is dwarsoor die wêreld in straat- en plekname verewig. Daar is boeke en artikels oor haar geskryf, en sy was die onderwerp van artistieke werke waaronder toneelopvoerings, danse, grafiese kuns en liedere. Sy was ʼn gewone jong meisie van Kaapstad wat as ʼn vrou versterk is deur haar gevangeneming en inperkingsbevele. Sy het oor die wêreldverhoog gestap en sterk weerstand gebied teen die bose magte van apartheid. Dulcie September het geveg en gesterf sodat nuwe geslagte vry kan wees.

Daar word geglo dat die moord op Dulcie September op bevel van die apartheidsregime deur huurmoordenaars uitgevoer is, moontlik in samewerking met die Franse geheimediens en/of internasionale netwerke wat handelgedryf het in vuurwapens, kernenergie en olie.

ʼn Eenvrouvertoning oor haar lewe, geskryf deur Basil Appollis en Sylvia Vollenhoven en opgevoer deur Denise Newman, is op uitnodiging in Parys by ʼn Franse kultuurfees opgevoer. Die eerste Adelaide Tambo-toekenning vir menseregte in die kunste is toegeken aan Cold Case – Revisiting Dulcie September.

Bronne

ANC Biography Brief, Dulcie September 1935-1988; www.anc.org.za
Groenink Evelyn, Dulcie, Hani, Lubowski – A story that could not be told (2013).
ANC Today, Dulcie September: A dedicated cadre cut down by act of cowardice; (August 2002).
Khumalo Fred, A muse for the misunderstood; (Sunday Times, 15 September 2009).