Van Distrik Ses na die Koninklike Ballet

Net soos Haarlem in New York, het Distrik Ses ook sy eie “Haarlem Renaissance” of kulturele oplewing gehad. Skrywers, komponiste, fotograwe, filmmakers, dramaturge, digters, musici, dansers, kunstenaars en sosio-politieke aktiviste het gefloreer en hul merk gemaak op die wêreldverhoog, maar hulle is die geleentheid vir loopbaanbevordering in hulle eie land ontsê. Min ander plekke kan met so ʼn ontploffing van talent en die impak daarvan spog. In die lig van die struikelblokke waarvoor die mense te staan gekom het, was dit niks minder as ʼn wonderwerk nie.

Die Hyman Lieberman Instituut en die Marion Instituut in Distrik Ses was kultuursentrums van uitnemendheid. Verder af in die straat was die Eoan-groep, die wegspringplek van talle sterre soos Johaar Mosaval, wat sy balletloopbaan daar begin het. Vir hom was dit die begin van ʼn reis wat na die Royal Ballet Opera School in Londen gelei het, en hy het ʼn hoofdanser by die Royal Ballet geword.

Dit is inderdaad ʼn skande vir die apartheidsregering en die stadsowerhede, en tragies vir die mense van Distrik Ses, dat die tuiste van meer as 60 000 mense gesloop is en dat mense met geweld verwyder is tydens die apartheidsregering se program vir die verskuiwing van groepe op grond van ras in die stad.

Die name en prestasies van mense uit Distrik Ses is volop: Abdullah Ibrahim, Basil Coetzee, Lennie Lee, Bea Benjamin, Zane Adams, Hotep Galeta, Alex la Guma, Richard Rive, Rozena Maart, Adam Small, Taliep Petersen, George Hallett, Gregoire Boonzaier, Sandra McGregor, James Matthews en Trevor Jones is maar net ʼn paar van daardie name.

Johaar Mosaval is op 8 Januarie 1928 in Distrik Ses in Kaapstad gebore. Hy was een van nege kinders in sy gesin. Sy familie was afstammelinge van slawe uit Suidoos-Asië. Die slawe is in die 17de en 18de eeu in die Indonesiese eilandgroep gevange geneem en aan die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie (NOIK) verkoop. Die slawe is as die belangrikste bron van arbeid na die Kaap gebring en het van ambagsmanne en huisbediendes tot bouers en plaaswerkers ingesluit. Die verhaal van hoe Johaar na die sterre gereik het en self ʼn ster geword het, is ʼn verhaal van triomf ten spyte van apartheid en teëspoed.

Dulcie Howes

Dulcie Howes, ʼn prominente figuur in die Suid-Afrikaanse dansarena, het Johaar Mosaval in ʼn laerskool se pantomime gesien en gereël dat hy van 1947 tot 1949 die balletskool by die Universiteit van Kaapstad bywoon. In daardie tyd was dit ongehoord en daar was baie kritiek en teenkanting van witmense. Johaar was ook onder druk van sy konserwatiewe Moslem-familie omdat dans as nie-Islamities beskou is. Dit was ook vir Mosaval nie ʼn maklike scenario om die enigste gekleurde persoon in die instelling en in die klas te wees nie. Hy onthou daardie tyd baie goed: “Apartheid was op sy hoogtepunt en daar was nie plek vir my nie. Sy het die rassegrens verbreek deur my na balletklasse te neem. Ek moes agter in die klas staan. Die blanke seuns in die klas het my skeef aangekyk as ek voor in die klas beland het.”

Ongeag Howes se moeite, het apartheid verhoed dat Mosaval ʼn dansloopbaan in sy vaderland kon volg omdat teaters en verhoë “slegs vir witmense” was. Hy het egter in 1950 ʼn kans gekry toe twee bekende besoekende balletdansers – Alicia Markova en Anton Dolin – hom raakgesien het. Hulle het vir Mosaval ʼn beurs gereël sodat hy na die bekende Sadler’s Wells Ballet School in Londen kon gaan. Binne ʼn jaar het hy by die Royal Ballet School aangesluit en nog ʼn jaar later het hy deel geword van die Royal Ballet Company. Teen 1953 was Johaar Mosaval, die jong man van Distrik Ses, goed op pad om ʼn bekende balletdanser te word.

In 1956 is Mosaval tot ʼn solodanser bevorder en het hy sy eerste solo vir die kroning van Haar Majesteit Koningin Elizabeth II by Covent Garden gedans. Verskeie koninklikes van regoor die wêreld, sowel as talle ander wêreldleiers, was saam met haar in die gehoor. Mosaval sê:

“Die absolute hoogtepunt van my loopbaan was toe ek gekies is om my heel eerste solo vir die Royal Ballet te dans, in die opera Gloriana, wat spesiaal deur Benjamin Britton vir die kroning van Haar Majesteit Koningin Elizabeth II gekomponeer is.”

Teen 1960 het Mosaval die pos van hoofdanser beklee en teen 1963 is hy beskou as die gelyke van legendariese dansers soos Dame Margot Fonteyn, Rudolf Nureyev, Dame Beryl Grey, Nadia Nerina en Svetlana Beriosova. In 1965 was hy ʼn senior hoofdanser, die eerste gekleurde persoon in hierdie pos. Hy het oral in die wêreld getoer saam met die Royal Ballet en saam met die bekendste ballerinas soos Margot Fonteyn, Svetlana Beriosova, Lynn Seymour, Merle Park en Nadia Nerina, wat ʼn Suid-Afrikaner was, gedans. Hy is nie toegelaat om saam met Nerina in sy geboorteland te dans nie. Hy het opgetree in balletopvoerings wat gechoreografeer is deur Frederick Ashton, Kenneth MacMillan, Ninette de Valois, en twee Suid-Afrikaners, David Poole en John Cranko.

Vergelyk met Nijinsky

Johaar Mosaval se briljantheid as ʼn karakterdanser met sy eie kenmerkende onberispelike tegniek het hom in die boonste liga geplaas. ʼn Kritikus wat oor sy optrede as Puck in 1967 geskryf het, het gesê: “Dit lyk asof die rol van Puck spesiaal vir Johaar Mosaval geskryf is. Sy oënskynlike vermoë om in die middel van ʼn belangrike toneel tot stilstand te kom, laat ʼn mens dink aan die soortgelyke aanspraak wat ten opsigte van Nijinsky gemaak is.” In 1975 het Mosaval begin oorskakel na onderrig toe hy uitgetree het uit opvoerings, en hy het die eerste danser geword om die diploma vir professionele dansonderrig by die Royal Opera House te voltooi.

Hy het ook die Winston Churchill Travelling Fellowship-toekenning van die Britse Koningmoeder ontvang. Daarmee het hy kontemporêre dans en jazz in die Verenigde State gaan studeer. Sy roemryke loopbaan by die Royal Ballet het 25 jaar geduur en Johaar Mosaval het in 1976 met wonderlike herinneringe na Kaapstad teruggekeer. Hy het nooit die Eoan-groep vergeet nie en voordat hy permanent teruggekeer het, was dit vir hom baie aangenaam om in staat te wees om by twee geleenthede voor tuisgehore op te tree in David Poole se “Pink Lemonade” en “The Square” wat deur die Eoan-groep opgevoer is. Nadat hy permanent na Kaapstad teruggekeer het, het Mosaval vir Kruik Ballet in die titelrol van Petrouchka as gaskunstenaar verskyn. Daarmee het hy die eerste swart danser geword om in die Nico Malan Operahuis (nou Kunstekaap), wat slegs vir witmense bedoel was, op te tree. Hy was ook die eerste swart Suid-Afrikaner om op plaaslike televisie te verskyn. Hoewel dit gelyk het na geleenthede wat verandering bring, het die werklikheid Mosaval hard getref.

Hy het in die middel van een van die mees onstuimige tydperk na Suid-Afrika teruggekeer aangesien nuwe geslagte jeugdiges moeg was daarvoor dat ʼn land beheer word deur mense en ʼn ideologie wat ʼn demper op hulle drome van vooruitgang geplaas het. ʼn Nasionale jeugopstand het uitgebreek. Die opstand het in Soweto begin en oor die land uitgebrei tot in Kaapstad. Mosaval het onmiddellik iets baie prakties gedoen om jongmense te help om hulle drome te verwesenlik.

Mosaval het in 1977 sy eie balletskool geopen en hy is aangestel as die eerste gekleurde persoon wat as ʼn inspekteur van ballet onder die ou regering gewerk het. Hy het gou bedank toe hy uitgevind het dat hy net binne sy eie “aangewese ras” moes werk. Omdat hy die regering op hierdie manier uitgedaag het, is sy balletskool deur die apartheidsregime gesluit omdat dit nie ʼn onderskeid tussen “rasse” getref het nie.

Talle toekennings

Mosaval het sy hart en sy nie-rassige beginsels gevolg deur sy wonderlike talent, ervaring en liefde vir ballet na alle jong mense te bring sodat die verborge vuur en onontginde talent vrygelaat kon word. Hy het aangehou om onderrig te gee elke keer as hy uitgenooi is of waar hy ook al ʼn plek kon kry om onderrig te gee.

Toe Mosaval ʼn toekenning vir lewenslange prestasie van die Kuns- en Kultuurtrust ontvang het, het hy sy eie gevoel van prestasie en vervulling opgesom en sy hoop uitgespreek vir toekomstige geslagte –

“Kuns en kultuur was ʼn integrale deel van my lewe en is ʼn belangrike deel van die Suid-Afrikaanse erfenis, wat ons moet tentoonstel. Ek hoop jong dansers droom daarvan om hierdie honger na die kunste te bevredig en dat hulle besluit om hierdie drome met uitnemendheid, grasie en fisiese skoonheid ʼn werklikheid te maak.”

Johaar Mosaval het onder andere die volgende toekennings ontvang:

  • Dancer’s Teaching Diploma van die Royal Opera House (1975)
  • Winston Churchill-toekenning (1975)
  • Koningin Elizabeth II se Silwer Jubileem-medalje vir sy dienste ten opsigte van ballet in die Verenigde Koninkryk (1977)
  • Toekenning van die Wes-Kaapse Kuns, Kultuur en Erfenis (1999)
  • Wes-Kaapse Provinsie – Sertifikaat van die Premier (2003)
  • Kaapse Drie-Eeue-Stigting – Molteno Goue Medalje (2005)
  • Stad Kaapstad – Burgerlike Eretoekenning
  • Die Kuns- en Kultuurtrust – toekenning vir sy lewenslange prestasie in dans (2016)

Bronne

  • Sirhan Jessa. Cultural Heritage Regeneration of District Six – A creative tourism approach. Meestersverhandeling. Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (2015)
  • Horst Koegler. Mosaval, Johaar – Concise Oxford Dictionary of Ballet (2de uitgawe). Oxford University Press (1982)
  • Marina Grut. The History of Ballet in South Africa. Human & Rousseau. Kaapstad (1981)
  • Denis-Constant Martin. Sounding the Cape – Music, Identity and Politics in South Africa. African Minds. Kaapstad (2013)
  • Wikipedia. Johaar Mosaval 
  • Hilde Roos. Opera production in the Western Cape – strategies in search of indigenization. Doktorale verhandeling. Universiteit van Stellenbosch (2010).
  • Ciraj Shahid Rassool. The Individual, Auto/biography and History in South Africa. Doktorale verhandeling. UWK (2004)