Reënmaker, storieverteller en idealis (circa 1815 – 26 Januarie 1876)

In 1870 lê //Kabbo, ʼn revolusionêre Boesman-idealis wat pyp rook, honderde myle af om stadsmense te kry wat stories kan skryf en in boeke bewaar. Hy is aangevuur deur sy behoefte aan die bewaring van sy brose kultuur. Die gevolg van hierdie tog is ʼn argief wat oor ʼn tydperk van meer as ʼn duisend dae en nagte opgeteken is. Meer as ʼn eeu later is dit opgeneem in UNESCO se Memory of the World Register.

Die Bleek/Lloyd-argief, wat in die Universiteit van Kaapstad gehuisves word, bevat meer as honderd notaboeke en meer as 12 000 handgeskrewe bladsye. Dit is die magnum opus van die Victoriaanse filoloog, dr. Wilhelm Bleek, sy skoonsuster Lucy Lloyd en hulle informante. //Kabbo /Uhi-ddoro Jantje Tooren was die belangrikste informant.

Byna twee eeue gelede is ʼn seuntjie met die naam /Han≠i≠i – sy naam as kind beteken Vader se Begeerte – op ʼn wintersdag in 1815 in ʼn klein nedersetting naby Kenhardt in die Noord-Kaap gebore. Die mense rondom Bitterputs het feesgevier. Die sesde kind van Gwa-/ka en !Kwi-An het die gawe gekry wat van sy ouma aan moederskant en sy ma af kom.

Dit is die jaar 1815, die jaar toe Napoleon by Waterloo verslaan is en Brittanje die supermag van die 19de eeu geword het. Dit beteken dat die Kaap vir die tweede keer ʼn Britse kolonie is nadat die gebied weer eens van die Hollanders verower is. Hordes anti-Britse setlaars, Hollandse boere, het na die afgeleë gebiede getrek.

Botsende kulture

/Han≠i≠I, die seun wat genoem is na sy vader se begeerte en ʼn kind met uitsonderlike talente, het grootgeword in ʼn tyd toe setlaars en soms ander Afrikane, ingestel was op die totale vernietiging van sy mense. Hy bevind homself in die middel van botsende realiteite. Aan die een kant is sy mense, die /Xam-ka! ei, wat gelei word deur hulle verhouding met die geesteswêreld en dan is daar die indringers, wat honger is vir grond. Hollandse/Boere-kommando’s, soms bygestaan deur Korana- en Khoekhoe-mense, vorm sogenaamde “jaggroepe”. Hulle werklike oogmerk, wat gewoonlik vir die owerhede geheim gehou is, is die massaslagting van die /Xam-ka !ei.

Toe die begaafde seuntjie slegs nege jaar oud was, is sy pa en twee ouer broers tydens ʼn groot hongersnood dood. Na die inisiasierituele van sy eerste jagtog het sy naam as volwassene //Kabbo geword. Dit beteken die visionêr of dromer. Hy was in sy vroeë dertigs toe die goewerneur van die Britse kolonie die Kaapkolonie se grense verskuif het en die meeste van sy mense se grond van hulle weggeneem het. //Kabbo het ʼn visie gehad dat hy moes veg, en dus het hy weerwraak geneem.

ʼn Weerstandsbeweging

Die Dromer (die setlaars het hom Jantje Tooren genoem, en sy vriende het hom geken as /Uhi-ddoro Die Kruitvat) het met ʼn kruistog begin. Die witmense het die stryders “die Tooren-bende” genoem. Hulle het gesê hulle is niks anders as veediewe nie. Die aktiviste het teruggeveg teen die rassemoord. Hulle het watervoorrade vergiftig, die setlaars se vee gesteel en grensboere aangeval. Die Tooren-bende het die helde van die !Xam-ka !ei geword. Die Britse koloniale owerhede in die verre Kaap het geen manier gehad om teen hul guerrillataktiek te veg nie. Die afvallige Hollandse boere het op hulle beurt weer hierdie inheemse styl van weerstand by //Kabbo se mense geleer en dit gebruik in die oorlog teen die Britte. Niemand het die terrein beter geken as //Kabbo en sy aktiviste nie, want dit was hulle grond. Hulle het die heuwels en valleie geken. Hulle het die diere en plante geken. Hulle het die seisoene en die gevare geken. Die belangrikste is dat hulle selfs die spirituele vorm van dinge ken wanneer die grond slaap. Hulle sê die kennis is van die eerste mense af oorgelewer. Hulle vyande het ʼn groot agterstand gehad.

Die Dromer en sy stryders kon egter nie uithou teen gewapende kommando’s wat al groter geword het nie. Die koloniale owerhede in die Kaap het ʼn beloning uitgeloof vir die mense wat die leier van die Tooren-bende vang. //Kabbo het ʼn visie gehad wat nog meer oortuigend was as die een wat daartoe gelei het dat hy met die revolusionêre kruistog begin het. Die Visionêr, wat lief was vir sy pyp en wat ook as /Uhi-ddoro Die Kruitvat bekendgestaan het, het gesien dat die redding van sy mense in hul verhale gelê het. Hy het gedroom van ʼn setlaarsvrou wat die /Xam-taal sou verstaan en wat hul verhale op papier sou vaslê. Hy het gedroom dat die verhale sy mense van totale uitwissing sou red.

//Kabbo, die meesterstorieverteller wat sy terrein beter as enige indringer ken, laat toe dat hy en ʼn paar van sy medestryders gevange geneem word. Die koloniale owerhede stop hulle in ʼn tronk in Kaapstad waar die gevangenes ʼn nuwe keerwal vir die Tafelbaai-hawe moet bou.

Saamgesnoerde kragte

Soos wat dit altyd die geval is met ʼn epiese verhaal, strek die kragte wat in reaksie met //Kabbo se kragtige visie saamsnoer, oor kontinente heen. ʼn Passievolle Duitse akademikus, dr. Wilhelm Bleek, wat gereeld siek geword het, het na Afrika gekom om tale wat uitsterf te bestudeer. In Brittanje het die familie van Lucy Lloyd, ʼn goewernante, op die hakke van die 1820-setlaars per boot na Durban vertrek. Lucy en haar suster, Jemima, het ontsnap uit die kloue van ʼn pa wat hulle mishandel het en hulle het by die taalkundige, dr. Bleek, aangesluit. Dit was nie lank voordat Jemima en Wilhelm in Kaapstad getroud is nie. In daardie tyd het die siek, maar vasberade, dr. Bleek saam met sy skoonsuster, Lucy, begin met die taalnavorsing wat definisie gegee het aan die laaste stadium van sy lewe.

In daardie stadium is ʼn wet afgekondig wat die grense van die Kaapprovinsie van die Sakrivier na die Oranjerivier verskuif het. Dit het nog meer van die tradisionele jagveld van die /Xam-volk weggeneem. Wanneer hulle probeer het om kos vir hul families te kry, is al hoe meer mense soos //Kabbo vir veediefstal gearresteer en na die Breekwatergevangenis geneem.

In die lente van 1870 was dr. Wilhelm Bleek en Lucy Lloyd by die tronk op soek na mense om hulle te help om ʼn woordeboek saam te stel van die /Xam-taal wat besig was om uit te sterf. Hulle het aanvanklik vir Akunta, een van die jonger lede van die Tooren-bende, geneem om by hulle in hulle huis, The Hill in Mowbray, te gaan bly. Na ʼn paar maande waartydens hy geduldig sy taal vir die Bleek-Lloyd-span geleer het en vir hulle sy verhale vertel het, het Akunta gesê hulle het die vaardighede van //Kabbo, ʼn meesterstorieverteller, nodig. En so het die eerste deel van //Kabbo se visie ʼn werklikheid geword.

Toe //Kabbo, Die Visionêr, sien dat Lucy Lloyd en haar swaer na informante by die Breekwatergevangenis soek, het hy geweet dat Lucy die vrou was wat hy in sy droom gesien het. Die tronkowerhede het hom toestemming gegee om na die Bleek-huishouding, The Hill in Mowbray, te verhuis.

Toe ek //Kabbo se poëtiese verhale die eerste keer in die Bleek-Lloyd argief gelees het, het ek gesukkel om die argaïese uitdrukkings te verstaan. Ek was gefrustreerd met ʼn teks vol kinkels en draaie weg van sy oorspronklike gedagte in ʼn verlore taal, wat deur Lucy Lloyd na statige Engels oorgedra is. Die geskenk van die argief is ʼn kunswerk wat ons kan omarm en ons eie kan maak. Ek begin speel met die erfenis wat hy vir ons nagelaat het en vind ʼn ongeskrewe, ongesiene rykheid agter die woorde.

Ons erfenis by die VN

Die Lloyd-Bleek-versameling San-volksverhale is in 1997 in UNESCO se Memory of the World Register opgeneem. Dit is ʼn erfenis wat die meeste afstammelinge van //Kabbo en die /Xam-ka !ei-volk, wie se taal verdwyn het, nie ken nie. Ons gemeenskappe, wat deur misdaad, verslawing en armoede vernietig is, kan baie voordeel trek uit die helende krag van //Kabbo se verhale. In plaas daarvan dat ons ons kinders met oorsese volksverhale grootmaak, kan ons ʼn gevoel van trots skep met verhale soos dié:

The girl arose, the girl of the Early Race
!Xwe-|na-ssho-!ke
She put her hands into the wood ash
Threw it up into the sky. She said to the wood ash
You must become the Milky Way
You must white lie along in the sky
The Milky Way is the Milky Way
while it used to be wood ash
My mother is the one who told me

Geïnspireer deur beelde van ʼn jong boesmanmeisie wat sterre in die hemel rondstrooi, sal ons onsself in die narratiewe van ons lewens, in die omstrede geskiedenis van ons land, bevind. Ons, die “baster”-afstammelinge van mense soos /Han≠i≠i //Kabbo /Uhi-ddoro Jantje Tooren, is feitlik verwyder uit die amptelike geskiedenis. Hulle het //Kabbo ook Mantis-man genoem omdat hy die reën opdrag kon gee. Sy ander naam, Kruitvat of /Uhi-ddoro, verwys na sy vermoë om bonatuurlike dinge te laat gebeur, of om lig te bring. //Kabbo, die storieverteller, kon ʼn mens se verbeelding prikkel. Hy kon //Kaggen die Mantis, die kern van die paradoks van die heelal, verstaan. Hy was klein en broos, maar tog groot in enige vorm wat hy kies. Soms sagmoedig, soms wreed en meestal chaoties. Buitestanders wat sukkel om te verstaan, noem hom ʼn “bedrieër”. Ander sê hy is die Satan. Die oningeligtes noem hom bloot “hotnotsgod”. Die Mantis is gemaklik met alles, soos wat die verhale in die Bleek-Lloyd-argief toon.

Betrokkenheid by die voorvaders

Rupert Sheldrake, Britse wetenskaplike en skrywer, wat bekend is vir sy voorstelle oor “morfiese velde” sê verstandelike aktiwiteit is nie-lokaal, nie beperk tot die binnekant van ons breine of liggame nie. Gedagtes strek veel verder as die brein, amper soos wat selfoonkommunikasie nie tot die handstuk beperk is nie. Hierdie tipe wetenskaplike siening van die vloeibaarheid van die menslike bestaan is die agtergrond vir //Kabbo en die verhale van ons voorvaders. Daar is wêreldwyd ʼn bewuswording van ʼn nuwe manier van dink, ʼn nuwe manier om onsself binne die landskap van die verlede te sien. In hierdie bewustheid maak ordelike tyd plek vir ʼn nie-lineêre, onderling verwante realiteit wat ʼn weerspieëling is van Einstein se bewering dat ons tyd net uitgedink het sodat ons alles wat gelyk gebeur kan hanteer.

//Kabbo het tradisionele verhale sowel as biografiese inligting en inligting oor die geskiedenis en kultuur tot die Bleek-Lloyd-versameling bygedra. Dit is waardevolle hulpbronne vir historici, antropoloë en ons mense wat graag voordeel wil trek uit ʼn /Xam-perspektief oor gebeure op die Kaapse grens in die negentiende eeu, of wat die /Xam-kultuur wil verstaan. Sy narratiewe word gekenmerk deur die lengte en komplekse ontwikkeling van die storielyn.

Een verhaal, skryf Andrew Bank oor Jupiter en sy kind, beslaan vyf aantekeningboeke, 300 bladsye en vyf maande. Lucy Lloyd het opgemerk dat //Kabbo ʼn uitstekende verteller was en dat hy geduldig toegekyk het tot ʼn sin neergeskryf is voordat hy verder vertel het. Hy was bly oor die gedagte dat die boesman-verhale deur middel van boeke bekend sou raak.

Bronne, erkennings en skakels

The Keeper of the Kumm deur Sylvia Vollenhoven (Tafelberg). Volledige besonderhede van “The Keeper of the Kumm”-projek wat bestaan uit ʼn film, ʼn boek (Tafelberg 2016) en ʼn aanpassing vir musiekteater verskyn by www.visioninafrica.com. Kumm is die woord vir storie en enigiets wat in die nou uitgestorwe /Xam-taal vertel en oorvertel word.

Claim to the Country deur Pippa Skotnes (Jacana & Ohio University Press)

My Heart Stands In the Hill deur Janette Deacon & Craig Foster (Struik)

The Broken String: The Last Words of an Extinct People by Neil Bennum

Bushmen In A Victorian World – The Remarkable story of the Bleek-Lloyd Collection of Bushman folklore deur Andrew Bank (dubbele verhaal)

The Digital Bleek & Lloyd, Universiteit van Kaapstad se sentrum vir argiefbewaring  (Centre for Curating the Archive) http://lloydbleekcollection.cs.uct.ac.za/

The Courage of ||kabbo: Celebrating the 100th anniversary of the publication of Specimens of Bushman Folklore geredigeer deur Janette Deacon en Pippa Skotnes (UCT Press)