Die Juweel van Distrik Ses

Cissie Gool was ʼn vrou van aksie wat daad by die woord gevoeg het in die Struggle. Die bak van ʼn vragmotor of ʼn straathoek was dikwels haar podium. Sy het dikwels ʼn menigte optoggangers gelei en mense aangemoedig om op te staan en te eis wat regmatig aan hulle behoort.

Sy het eenkeer gesê: “Moenie na die proefneming kyk nie. Sluit aan by die vryheidstryd. Dit is joune, dit is myne, dit is ons sʼn. Ons sal weerstand bied.” Sy is van haar kindertyd af aan politiek blootgestel en het nie weggeskram van ʼn geveg nie, veral as dit ʼn stryd om geregtigheid was. Zainunnisa “Cissie” Gool is vroeg aan die politiek blootgestel deur haar ma, Nellie James, ʼn Skotse sosialis, en haar pa, dr. Abdullah Abdurahman, wat ʼn boorling van Wellington in die Kaap was. Hy was ʼn mediese dokter wat in 1893 sy graad aan die Universiteit van Glasgow behaal het. Dr. Abdurahman was ʼn stigterslid en president van die African Political Organisation (APO) wat in 1902 gestig is. Die APO het ʼn uitsonderlike bydrae gelewer tot die Suid-Afrikaanse politiek van weerstand. Nellie Abdurahman was die stigter en president van die APO se vrouegilde. Die Kimberley African League in die 1880’s en die APO in 1902, was die eerste politieke organisasies om die term Afrikaan te gebruik om hulself en hulle lede te beskryf, wat oorwegend afstammelinge van slawe, migrante en inboorling Khoenas was en wat deur die koloniale burokrate as “gekleurd” geëtiketteer is.

Dr. Abdurahman het in 1904 die eerste swart persoon geword wat op die Kaapstadse stadsraad verkies is in ʼn tyd toe sommige wit raadslede onwillig was om selfs langs “gekleurde” mense te sit. Hy het tot sy dood ʼn stadsraadlid gebly in ʼn tyd toe swart mense nog baie beperkte stemreg gehad het.

Leier van die volgende geslag

Dr. Abdurahman was ook van 1914 tot met sy dood in 1940 ʼn lid van die Kaapse Provinsiale Raad. Hy was ʼn voorstander van die belange van die arm werkende mense van Kaapstad en hy was gekant teen segregasie, blanke oorheersing en rassisme. Dr. Abdurahman se politieke styl het egter verdof met die koms van ʼn jonger en sterker geslag wat verder gegaan het as beleefde geredetwis, propaganda en petisies binne die grense van die koloniale politieke raamwerk. Aan die hoof van hierdie geslag was dr. Abdurahman se dogter, Zainunissa Abdurahman, wat ook as “Cissie” of “Onse Cissie” (ons suster) bekendgestaan het.

Cissie Abdurahman het wortels in Indië, Suidoos-Asië en Skotland gehad. In die vyftigerjare het sy eenkeer vir ʼn joernalis gesê dat sy haar uiteenlopende wortels vier:

Dit het my verryk. As my pa nie die geleentheid gekry het om my ma te ontmoet nie, sou ek nie hier gewees het om u vraag te beantwoord nie.

Met hierdie stelling het sy ook erkenning gegee aan die sterk invloed wat haar ma in haar lewe gehad het. Talle mense het haar bloot as haar pa se dogter beskou. Sy was trots op haar uiteenlopende wortels.

Cissie se oupa, Abdul Rahman, is deur haar grootoupa, Abdul Jamalee, en haar grootouma, Betsy, gestuur om teologie te bestudeer by die Azhar Universiteit in Kaïro, een van die voorste leersentrums van daardie tyd. Abdul Rahman het na Kaapstad teruggekeer en hom in Wellington gaan vestig. Hy is met Khadija Dollie getroud en het vyf kinders gehad. Abdul het ook ʼn paar ander buite-egtelike kinders gehad. Abdullah was een van drie seuns van Abdul en Khadija, wat as medikus gepraktiseer het.

Cissie se oorgrootouers was slawe. Haar oupagrootjie, Abdul Jamalee, het ekstra werk teen betaling gedoen en hy het sy geld gespaar sodat hy sy en sy vrou, Betsy, se vryheid van slawerny kon koop. Die egpaar het later saam hard gewerk om ʼn klein besigheid op die been te bring. Dit was ʼn winkel op die hoek van Roeland- en Hoopstraat in Kaapstad. Die besigheid het ʼn baie nederige begin gehad in ʼn huis wat in ʼn besigheidsperseel omskep is. Bo die deur was die naam “Betsy Fruiterers” in swart letters agter op ʼn blikskinkbord geverf.

Abdul en Betsy, wat eers slawe was, het die eienaars van ʼn baie suksesvolle varsproduktebesigheid geword. Dit was deur hierdie onderneming wat die volgende twee geslagte Abdurahmans die beste opvoeding kon kry. Abdullah was eers in die sendingskool van die Nederduits Gereformeerde Kerk, daarna in die Pauw Gedenkskool in Wellington en toe in Marist Brothers, ʼn private Rooms-Katolieke skool. Hy het matriek behaal aan die toonaangewende South African College School (SACS), waaruit die Universiteit van Kaapstad ontstaan het.

Cissie se pa is na Glasgow waar hy in 1893 hy as dokter gekwalifiseer het. Hy het in 1895 na Kaapstad teruggekeer en ʼn mediese praktyk geopen, waar hy tot 1930 gewerk het. Abdullah het Cissie se ma, Helen Potter James, ook bekend as Nellie, in Skotland ontmoet. Sy was die dogter van mnr. John Cumming James, ʼn prokureur van Glasgow, wat ʼn besonderse politieke rol in Skotland gespeel het. Hy het daar gewerk om gratis en verpligte onderrig vir kinders te verseker. Nellie James, ʼn sosialis, het hierdie selfde gevoel van maatskaplike verantwoordelikheid gehad. Dit het die aandag van Abdullah getrek. In Suid-Afrika het Nellie Abdurahman saam met haar man ʼn kampvegter geword vir die regte van die minderbevoorregtes. Die jong egpaar het in ʼn huis net om die hoek van Mountstraat, by Castle Bridge, in Distrik Ses gebly. Cissie, as ʼn leier vir die volgende geslag, was die eerste swart vrou wat ʼn meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad behaal het.

Talle vroulike mentors

Zainunnisa “Cissie” en Waradea “Rosie” was die twee dogters wat uit die huwelik van Abdullah en Nellie gebore is voordat hulle huwelik in 1923 in ʼn egskeiding geëindig het. Dr. Abdurahman is in 1925 met Margaret Stansfield getroud en hulle het na Kloofstraat in Kaapstad verhuis. Cissie was in daardie stadium getroud en het aan die universiteit gestudeer. Abdullah en Margaret het drie kinders gehad, naamlik ʼn dogter, Begum, en twee seuns, Abdullah Junior en Nizamodien.

Zainunnisa “Cissie” Abdurahman was die jongste dogter van Nellie en Abdullah en is op 6 November 1897 gebore. Hulle huis in Distrik Ses, wat as die Abdurahman Lodge bekendgestaan het, was altyd baie bedrywig. Die uiteenlopende politieke leiers wat destyds haar huis gereeld besoek het, was onder andere Hadji Ojer Ally, Ghandi, John Tobin, Clements Kadalie en Matthew Fredericks. Hierdie mans het uitsonderlike rolle gespeel in die opkomende APO. Party van hulle het rolle gespeel in die vroeë Congress Movement, waaruit die South African Indian Congress en die African National Congress (ANC) later ontstaan het.

Wit politici soos JX Merriman en JH Hofmeyr het ook die Abdurahman-huis besoek. Cissie se wonderlike ma, Nellie, en van die voorste vroulike politieke persoonlikhede van daardie tyd was die belangrikste mentors in Cissie en Rosie se lewens. Hierdie vroue het die skrywer Olive Schreiner, die Indiese leier Sarojini Naidu en die jong aktivis van Letland, Rachel Alexander, ingesluit.

Toe dr. Abdul Gool en Cissie getroud is, het hulle Sarojini Naidu by hulle in die huis onthaal. Die Gool-huishouding het die tradisie voortgesit om gereeld op Donderdagaande politieke besprekings te hou en om ʼn “oop huis” te hê vir debatte en die uitruil van inligting, soos wat aanvanklik in die Abdurahman-huishouding die geval was.

Nellie het ʼn sterk rol in Cissie se politieke ontwikkeling gespeel en dit is juis by haar ma wat sy haar vroeë sosialistiese ontwikkeling en mentorskap ontvang het. Haar ma het op die Kaapstadse en Wynbergse algemene onderstandsraad, die belastingbetalersvereniging, die munisipale vereniging vir vroue, die vroueliga vir stemreg en later ook in die nasionale bevrydingsliga se finansiële komitee gedien. Nellie Abdurahman was passievol oor gelykheid in onderwys en maatskaplike geregtigheid.

Nellie Abdurahman was die stigterspresident van die APO se vroueliga in 1909 – ʼn liggaam wat deur die meeste historici misgekyk is. Binne twee jaar nadat Nellie Abdurahman die APO se vroueliga in haar huis begin het, het dit gegroei tot meer as 70 takke. Nellie was baie aktief in die breër politiek, veral in die bevordering van opvoeding, en sy is in 1928 benoem om in die stadsraad te dien, maar sy is nie verkies nie. Nellie was ook, saam met Olive Schreiner, baie aktief in die vroue se beweging vir stemreg. Dit was dus haar moeder se invloed as ʼn vroue-aktivis en president van die APO se vroueliga wat daartoe gelei het dat Cissie haarself in die 1920’s met die APO geassosieer het en ʼn vrouekolom vir die organisasie se koerant geskryf het.

Die Universiteit van Kaapstad en Sam Kahn

Nadat Cissie in 1917 by die Universiteit van Kaapstad geregistreer het, het sy ʼn ruk lank verskillende studieprogramme gevolg en ook by die radikale Boheemse kringe van die universiteit betrokke geraak. Hier het sy Europese sosialiste soos Lancelot Hogben en die Trotskis Frederick Bodmer ontmoet en die eerste keer met kommuniste in aanraking gekom. Dit was ook hier dat sy Sam Kahn, ʼn Joodse student wat by UK regte studeer het, ontmoet het. Hy was die president van die debatvereniging, die regsvereniging en voorsitter van die Joodse studentevereniging. In 1932 het Sam Kahn by die Kommunistiese Party van Suid-Afrika (KPSA) aangesluit, en later het hy ʼn stadsraadlid geword. Sam Kahn is in 1948 tot die parlement verkies as die kommunistiese verteenwoordiger vir Afrikane. Hy is in 1952 uit sy setel in die parlement geskors. Sam Kahn het Cissie se lewenslange kameraad en vriend geword en later het hy haar minnaar en campanero geword.

Later jare het Nellie, Cissie se ma, baie meer radikaal geword as haar man en sy het die opkomende bevrydingspolitiek van hulle kinders se generasie omarm. Cissie het haar sosialistiese denke by haar ma geleer en dit het daartoe gelei dat sy in 1933 by die KPSA aangesluit het nadat dit deur Ray Alexander en Johnny Gomas aan haar bekend gestel is.

Op ʼn tydstip toe die KPSA ʼn heeltemal nuwe vorm aangeneem het, het sy in die politieke buro (of Politburo) gedien, wat die uitvoerende komitee van die KPSA was. Cissie het tot met die ontbinding van die KPSA in die party gebly. Toe die party weer as ʼn ondergrondse organisasie na vore gekom het, het sy ʼn geheime lid van die veranderde SAKP geword. Dit is interessant om daarop te let dat talle gewilde biografieë probeer om hierdie sentrale element van haar lewe, wat haar bydrae tot die bevrydingstryd omskryf, heeltemal weg te laat.

Cissie is in 1919 met dr. Abdul Hamid Gool getroud, wat destyds aktief was in die Suid-Afrikaanse Indiese politiek. Hy was ook ʼn lid van die APO. Abdul en Cissie het gedurende hulle huwelik van 14 jaar drie kinders gehad – Rustum, Marcina en Shaheen. Regdeur hulle huwelik en moederskap het Cissie volgehou met haar studies en in 1933 het sy die eerste swart vrou geword wat ’n meestersgraad in sielkunde by UK behaal het. Drie jaar later, in 1936, is Cissie Gool en dr. Abdul Gool uitmekaar, en het sy saam met Sam Kahn gebly. Talle mense het dit as ʼn skandaal beskou. Die Gools is in 1942 amptelik geskei.

Distrik Ses – ʼn Politieke broeines

Terwyl hulle getroud was, het die Gool-huishouding in Searle Straat, Distrik Ses, weekliks vergaderings vir linkse politici, vakbondaktiviste en medereisigers gehou. Diegene wat praatjies en byeenkomste bygewoon het, ongeag of dit as sprekers of as deel van die gehoor was, het oor die grense van liberale, Marxis-Leniniste, Trotskis, Staliniste, ensovoorts gestrek. Kunstenaars soos Gregoire Boozaaier en skilders soos Frieda Locke het hier skouers geskuur met politieke protagoniste soos Sam Kahn, IB Tabata en Moses Kotane wat dikwels, soos Cissie, in die sitkamer swaarde gekruis het met die trotse liberale dr. Abdurahman. Hulle het ook aangesluit by vurige vakbondverteenwoordigers soos Ray Alexander en Eddie Roux in die evaluering van die rol van georganiseerde arbeid in die Struggle. Dit was in hierdie gees en klimaat dat Cissie Gool haar vermoë ontwikkel het om nou saam te werk met mense met verskillende politieke oortuigings, veral met dié aan die ver linkse kant van die politieke spektrum.

Cissie Gool het inderdaad ʼn groot krag geword in die politiek op ʼn verenigde front. Dit het egter nie beteken dat sy nie betrokke geraak het by ernstige kritiek op die ideologiese onbuigsaamheid van die ver linkses nie. Dr. Abdul Gool was passievol betrokke by die politiek van die South African Indian Congress (SAIC). Cissie se swaers, Goolam Gool en Jainab Gool, was van die grootste voorstanders van die Trotskyite Workers Party of South Africa, en hoewel dit moeilik gegaan het, het Cissie op grond van haar passievolle oortuiging ten opsigte van die bevordering van ʼn verenigde front tussen 1935 en 1942 saam met hulle by meewerkende politieke werk betrokke geraak.

Met die opkoms van die nie-Europese eenheidsbeweging, met Goolam Gool, Jane Gool en IB Tabata as die leiers, het Cissie Gool se pad geskei van hulle enger konsep van “ideologiese purisme as die enigste basis vir eenheid.” Cissie het geglo hierdie benadering was verdelend in terme van haar strategie om ʼn breër front te verenig, nie op ideologiese gronde nie, maar met ʼn breër fokus op algemene belange.

Die bou van ʼn verenigde front

In die ontnugtering en wegbeweeg van die Kaapse liberale paternalistiese politieke tradisie, het ʼn nuwe neiging in die Kaapse politiek begin, en dit is sedertdien voortgesit. Radikalisme het ʼn doel op sigself geword en ʼn bisarre mededingendheid het na vore gekom waar elke voorstander daarop aanspraak wou maak om meer radikaal en suiwerder in hulle oortuigings te wees.

In teenstelling hiermee was Cissie Gool se politieke standaard om eenheid te bou en om te fokus op sleutelkwessies wat vir die meeste swart werkers belangrik was. Sy het ook daarop gefokus om hierdie eenheid uit te brei om ander klasse en formasies in te sluit wat daarop gerig was om die vordering op die neo-Nazi-pad waarop die Suid-Afrikaanse regering vinnig beweeg het, te stuit. Die ultra-radikale en verdelende benadering van sommige van haar aanvanklike bondgenote het elke beweging van haar getreiter. Cissie het egter vaardig geraak in die kuns om hierdie neiging onskadelik te stel en nog steeds daarin te slaag om diverse opponente van Suid-Afrika se “nuwe regses” nader te trek. Dit het egter meegebring dat sy as “ideologies verkeerd” en “besoedel” gekritiseer is deur die luidrugtige Arbeidersparty van Suid-Afrika en soms deur haar eie Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party of die SAKP.

Cissie Gool het deur drie grade beweeg voor sy tot haar reg gekom het as ʼn formidabele politikus. Sy moes eers ontslae raak van die magtige Abdurahman-handelsmerk van haar pa. Sy het effektief aanbeweeg toe sy met dr. Gool getroud is. Haar man en sy uitgebreide familie se politiek het Cissie egter ook versmoor omdat sy vinnig tot buite die eng grense daarvan gegroei het. Albei hierdie situasies was vir haar ʼn tipe gradeplegtigheid – die wegbeweeg van die patriargie van die mans in haar lewe.

Cissie het ook wegbeweeg uit die ingeperkte wêreld van die Universiteit van Kaapstad, wat uitstekende onderrig gebied het, maar wat ander hindernisse van die Kaapse paternalistiese liberalisme en kolonialisme gehad wat die vrye denke van ʼn anti-kolonialis beperk het.

Nadat Cissie Gool in 1930 haar eerste groot toespraak tydens die verlening van stemreg aan vroue gelewer het, het sy gevind dat sy ʼn openbare stem gehad het waarby die mense aanklank gevind het. Sy het geprotesteer teen die feit dat slegs blanke vroue stemreg gekry het. By hierdie vergadering was dit die eerste keer duidelik wat Cissie anders as ander gemaak het. Sy het ʼn punt in haar toespraak bereik waar sy gesê het: “om te praat is nie goed genoeg nie”. Sy het die mense aangespoor om haar te volg en sy het hulle onmiddellik in ʼn spontane optog na die parlement gelei om Hertzog en sy ministers te konfronteer.

Na daardie optog na die parlement het Cissie Gool, haar ma Nellie en ʼn jong kommunistiese immigrant van Letland met wie Cissie bevriend was, naamlik Ray Alexander (ʼn vakbondleier), aan talle openbare vergaderings deelgeneem om stemreg vir alle vroue te eis.

Ontmoet Ray Alexander

Cissie is aan die vurige sewentienjarige kommunistiese immigrant voorgestel toe Alexander in 1930 in die gehoor van ʼn vergadering in die Kaapstadse Stadsaal opgestaan het. Die vergadering het gefokus op die rassistiese uitsluiting van swart vroue van stemreg. Alexander het gesê sy het gedink die spreker het ʼn fout gemaak deur iets weg te laat. Die spreker op die verhoog was niemand anders as Sarojini Naidu, ʼn bekende leier in die Indiese Nasionale Kongres van Indië nie. Cissie was voorsitster van die vergadering waarheen Alexander saam met Johnny Gomas gekom het. Cissie was so beïndruk met die jong vrou dat sy Ray Alexander genooi het om by haar op die verhoog aan te sluit. Sy het haar later ook na haar huis genooi.

Nellie Abdurahman het die jong Ray Alexander toegelaat om haar huis vir vergaderings te gebruik en om talle comrades wat “net verby gekom het” en by vakbond- of partywerk betrokke was, te huisves. Dr. Abdul Gool het op sy beurt Alexander se dokter geword en die jong Ray het gou vir hom ʼn konstante stroom werkers en vakbond- en party-aktiviste gebring vir “pro bono”- mediese advies.

“Aunty” Ray, soos wat sy later onder almal bekend sou wees, het een van die bekendste en mees geliefde vakbondlede in Suid-Afrika geword en die grondslag gelê vir byna elke moderne vakbondorganisasie wat vandag bestaan.

Sy het Cissie met meer as 40 jaar oorleef en sy het dikwels gepraat oor die werk wat hulle saam gedoen het. Ray en Cissie het ʼn baie groot invloed op mekaar gehad, selfs al het hulle soms driftig van mekaar verskil. Die kameraderie van die verskillende vroue in haar lewe het ʼn baie groot rol in die vorming van Cissie Gool gespeel toe sy in die middel van die 1930’s ontluik het.

Teen 1933 het Cissy Gool, onder die inspirerende invloed van Ray Alexander, formeel aangesluit by die Kommunistiese Party van Suid-Afrika, waarby sy gedurende die vorige drie jaar deur Johnny Gomas ingelyf is. Teen 1938 het die KPSA ʼn besluit geneem om die uitvoerende gesag tydelik na Kaapstad te verskuif, en teen daardie tyd was Cissie Gool saam met Ray Alexander, Jack Simons, Sam Kahn, Johnny Gomas, en James la Guma op die uitvoerende raad, wat as die Politieke Buro bekend gestaan het. Bill Andrews was die voorsitter en Moses Kotane was die sekretaris. Tot en met die verbanning van die KPSA het die uitvoerende gesag van dié party in effek nooit wegbeweeg uit Kaapstad nie. As ʼn mens kyk na die KPSA-dokumente wat in daardie tyd deur die Politieke Buro uitgestuur is, sien ʼn mens ʼn kwalitatiewe verandering, en Cissie se verenigde front teen fascisme en ten gunste van grond, gelykheid en vryheid skemer duidelik deur.

Bondgenote van die kommuniste

Cissie Gool het in 1935 baie nou saamgewerk met ʼn groep kommuniste, waaronder twee wat ons kan sê op “vroeë swart bewustheid” ingestel was, naamlik Johnny Gomas en James la Guma. Op 1 Desember 1935, die dag van bevryding van slawerny, het Cissie Gool die Nasionale Bevrydingsliga (National Liberation League (NLL)) bekend gestel en die eerste president van die organisasie geword. Die NLL was ʼn beweging met ʼn verenigde front wat ʼn oproep gedoen het vir ʼn politieke alliansie van al die onderdruktes teen die gemeenskaplike vyand, die “wit kapitalistiese imperialiste”. Die organisasie het ʼn swart slaaf met deurgekapte kettings en ʼn brandende fakkel wat omhoog gehou word, as hulle embleem aanvaar. Hulle leuse was “Vir gelykheid, grond en vryheid”. Dit was die eerste en enigste keer dat die mense van Kaapstad se wortels in slawerny op ʼn beduidende manier gebruik is, en dit was ʼn trotse oomblik omdat dit een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van Suid-Afrika was.

Hierdie oomblik het voortgebou op die grondslag wat gelê is deur die slaweopstand wat in 1808 deur Louis van Mauritius en Abraham van der Kaap gelei is en wat geëindig het met Suid-Afrika se grootste verraadverhoor en die teregstelling van Louis en die ander leiers. Twintig jaar later het die tweede groot verraadverhoor in ons geskiedenis plaasgevind toe 156 aktiviste verhoor is. Die simboliek van bevryding van slawerny wat die NLL gebruik het en die gebruik daarvan om groter betekenis aan die breër vryheidstryd te gee, was baie sterk. Cissie Gool was instrumenteel in die stigting van die NLL en sy is verkies as president van die organisasie, wat gestaan het vir grond, gelykheid en vryheid.

Die NLL het weggebreek van die gematigde liberale tradisionele raamwerk wat tot in daardie stadium die versetpolitiek in die Kaap oorheers het. Dit het die politieke paradigma van weerstand in die Wes-Kaap verander en die ICU en APO verbygesteek. Die ICU en APO, wat voorheen die dominante kragte was, was vinnig besig om agteruit te gaan. Met die opkomende spektrum van fascisme in Europa, die burgeroorlog in Spanje en die effek wat dit regoor die wêreld gehad het, het Cissie Gool, dr. Abdul Gool, Johnny Gomas, James la Guma, Sam Kahn en ander ook in dieselfde jaar die leiding geneem met die vestiging van ʼn anti-fascistiese liga as ʼn voorloper tot die bekendstelling van die NLL.

Hoewel die National Liberation League sterk kommunistiese leiers gehad het, was dit ʼn algemeen linkse organisasie wat linkse liberaliste, individuele sosiale demokrate, aanhangers van Garvey, Trotskis van die Arbeidersparty van Suid-Afrika, onder leiding van Goolam Gool, en enigiemand wat toegewyd was aan die kwessie van grond, gelykheid en vryheid, ingesluit het. Dit was onvermydelik dat dit tot interne konflik sou lei, veral tussen die Arbeidersparty van Suid-Afrika, die Trotskis en die ander, maar ook tussen die baie sterk “swart bewustheid”-lede en diegene wat nog ʼn sterk oortuiging gehad het dat die blanke werkersklas ʼn sentrale rol gehad het om in die stryd om bevryding in Suid-Afrika te speel. Daar is aangevoer dat daar liewer klem geplaas moes word op die klassestryd eerder as op swart bevryding. Selfs die voorste lede van die kommunistiese party was verdeeld oor hierdie aangeleenthede en tot in daardie stadium was daar sterk verdeling binne die KPSA, wat aanleiding gegee het tot skorsings en selfs tot ineenstorting in sommige streke. Cissie Gool moes hard werk in ʼn poging om al die verskillende neigings en komplekse verhoudings bymekaar te bring binne die Verenigde Front en om op die drie belangrikste kwessies te fokus, naamlik grond, gelykheid en vryheid.

Organisasies soos die APO en die ICU, wat kort voor daardie tyd kommuniste en ander linksgesinde lede uit sy geledere geskop het, is nou oorskadu deur die NLL en die nuwe nywerheidsvakbonde en die oorkoepelende liggaam, die Raad van Nie-Europese Vakbonde, met 158 000 lede. Die propaganda en versigtige benadering tot weerstand is fundamenteel verander deur die NLL-platform, wat aanvanklik die politieke idee van ʼn nasionale liberale beweging in Suid-Afrika bekendgestel het, sodat dit verskil het van die hervormingsbeweging wat die politieke terrein tot in daardie stadium oorheers het.

Dit was ʼn groot keerpunt in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en Cissie Gool was aan die stuur van sake. Dit het die weg gebaan vir die volgende 60 jaar van die nasionale bevrydingstryd. Hierdie gebeure wat besig was om te ontvou, het ʼn groot invloed op die KPSA regoor die land gehad en dit het ook ʼn impak gehad op die African National Congress, wie se jeugliga in 1949 die organisasie radikaal getransformeer het.

ʼn Tweede keerpunt in die Suid-Afrikaanse politiek wat reeds genoem is en waar Cissie Gool ook die sentrale dryfkrag was, was die bekendstelling van die politieke begrip van “alliansie” of “verenigde front”. Die begrip van ʼn verenigde front het tydens die Spaanse weerstandsbeweging begin, asook in Nazi-Duitsland en die Europese lande wat die meeste bedreig is deur Duitse uitbreiding. Die idee is die duidelikste uitgedruk deur die idees van Georgi Dimitriov.

Tydens die 7de Komintern in Moskou in 1935 het Dimitriov die behoefte aan ʼn wêreldwye, verenigde anti-fascistiese front verduidelik en dit het amptelike partypolitiek geword. Die KPSA sou baie hard saam met die NLL, die All-African Convention en die ANC moes werk met die oog op die bou van ʼn breër verenigde front. Hierdie begrip sou in die 1950’s en weer in die 1980’s ʼn belangrike rol gespeel het en sou tot in die 21ste eeu ʼn dominante kenmerk van die Suid-Afrikaanse politiek bly. In 1938 is Cissy Gool verkies tot president van die Nie-Europese Verenigde Front wat gevorm is om organisasies te koördineer tot ʼn anti-imperialistiese bevrydingsfront wat ʼn verskeidenheid organisasies byeengebring het.

Hierdie groepe het gepoog om “gekleurde”, Indiese en inheemse Afrika- politieke groepe onder een sambreel te bring. In 1943 het Cissy Gool ʼn lid van die nasionale uitvoerende raad van die Anti-Coloured Affairs Department Organisation (anti-CAD) geword. Die Departement van Kleuringsake (die CAD) was ʼn gehate departement van die apartheidsregering. Daarna het sy in die leierskap van die Cape Passive Resistance Council gedien, en later in die 1950’s het sy ook in die Franchise Action Council gedien.

Ten spyte van die kritiek deur regses en van diegene wat links van die WPSA was, het Cissie Gool as die president van die Verenigde Front onvermoeid gewerk om die verskillende magte bymekaar te hou en om op aksie te fokus.

Die African National Congress, die APO, die Cape ICU, die KPSA, die opkomende vakbondbeweging, die WPSA en enige ander progressiewe organisasie wat die stakings, boikotte en massa-optogte gesteun het, het saamgewerk onder die United Front Campaign. In die middel van die 1930’s was daar sterk teenkanting teen die Hertzog-wetsontwerpe wat ʼn georkestreerde poging was om selfs die heel kleinste tekens van politieke regte van swart Suid-Afrikaners te verwyder. Hierdie wetsontwerpe het die eerste grondslag gelê vir die apartheidstelsel wat in 1948 ingestel is nadat die Nasionale Party aan bewind gekom het.

Cissie en talle van haar strydgenote onder die linksgesindes kon sien dat die Suid-Afrikaanse regering dieselfde pad as die fascistiese Spanje, Italië en Duitsland gevolg het. Die NEUF, wat in 1938 gestig is, was ʼn breër front wat nie verwar moet word met die Non-European Unity Movement (die NEUM) wat vyf jaar later gestig is nie. Die NEUM is in 1943 as deel van ʼn federale liggaam met ʼn tien-punt-program gestig en was nou verbonde aan een faksie binne die Anti-Coloured Affairs Department Organisation, die All-African Convention en die Anti-Segregation Council.

Hoewel Cissie Gool ook ʼn rol in die uitvoerende leierskap van die anti-CAD gespeel het, was sy en baie ander gekant teen die faksiebenadering van die Trotskis in die organisasie, wat ʼn eng ideologiese siening oor die organisering van die opposisie se stemme gehad het. Die anti-CAD-organisasie het later die anti-Coloured Advisory Council (anti-CAC) geword en is deur die NEUM oorskadu.

Politieke binnegevegte

Die oorspronklike poging om ʼn nuwe verenigde front te vorm, in die vorm van die NEUM waarin Goolam Gool se WPSA ʼn leidende rol gespeel het, het later weer in twee groepe verdeel op grond van enger uiteenlopende ideologiese verskille. Dit het die organisasie eers disfunksioneel gemaak en later jare was daar ʼn mate van herlewing in die vorm van die Unity Movement. Nog later het die neiging weer in die 1990’s na vore gekom as die Workers Organisation for Socialist Action met ʼn soortgelyke platform as die WPSA vyftig jaar tevore. Die NEUM se verhaal is egter ʼn verhaal in eie reg.

Dit is belangrik om daarop te let dat na die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme in 1950, wat ʼn vernietigende effek op die lewens van kommuniste soos Cissie Gool gehad het, die regering in 1951 die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers afgekondig het. Die doel van hierdie wet was om gekleurde kiesers van die kieserslys te verwyder. Die Franchise Action Committee (FRAC) is gestig om teenkanting te bied teen die regering se nuwe beweging en om ʼn dwarssnit van die burgerlike organisasies, insluitend blanke ondersteuners soos die anti-fascistiese oudweermagsmanne van die Fakkelkommando, die Springbok Legioen (wat linksgesinde weermagsmanne georganiseer het) en die burgerregteliga, byeen te bring. Kommunistiese leiers soos Cissie Gool, Johnny Gomas, Reg September en Sam Kahn het saam met ander uit die organisasie vir oudweermagslede, die Springbok Legioen, leiding geneem in hierdie veldtog.

Massa-byeenkomste

Die gematigde liberale en pro-United Party (UP)-organisasie, die Coloured Peoples National Union, het ook aan die FRAC-veldtog teen die ontneming van stemreg vir “gekleurde” kiesers deelgeneem. Groot byeenkomste met meer as 10 000 mense en dramatiese optogte het plaasgevind saam met veldtogte vir handtekeninge en dae waarop weggebly is van die werk. Daar was nooit voorheen so ʼn suksesvolle mobilisering van ʼn dwarssnit van die Suid-Afrikaanse samelewing op ʼn breë anti-regerings- politieke platform nie.

Die NEUM het ʼn baie eng anti-samewerkingsbenadering gevolg, wat ʼn aanval was op hierdie unieke breë front en wat ʼn aggressiewe en neerhalende benadering teenoor die ANC gevolg het en die verbanne kommuniste gekritiseer het as “opportuniste” weens samewerking met “gekleurde” organisasies soos die Coloured Peoples National Union en blanke liberale organisasies.

Cissie Gool, die taktikus, was ontsteld oor die onvolwassenheid binne die NEUM en die organisasie se versuim om in te sien dat hulle aanvalle tot voordeel was van die regering, wat so pas kommuniste verban en geïsoleer het en wat nou die ANC, die vakbonde en geallieerde organisatoriese groepe op hulle persele gehad het.

Die lesse van die omverwerping van die linkse republiek deur die fasciste in Spanje en die opkoms van die Nazi’s, is nie verstaan nie. Die Trotskis en anargiste in Suid-Afrika het dieselfde rampspoedige pad as hulle Europese eweknieë gevolg. Volgens Reg was hierdie pad tot ʼn groot mate dieselfde as die gediskrediteerde en mislukte Europese politieke idees wat aangehang is as ʼn modieuse radikalisme onder intellektuele middelklaselemente.

Die ontneming van die “gekleurde” kiesers se stemreg is voorafgegaan deur die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, wat aanleiding gegee het tot ʼn dekadeslange skrikbewind deur die apartheidspolisiestaat teenoor linkse en nasionale bevrydingstrukture en individue.

Die harde werk van die breë verenigde front van FRAC het teen 1953 doodgeloop en hierdie tipe breë front sou eers weer in die 1980’s verskyn in die vorm van die United Democratic Front en die Mass Democratic Movement. ʼn Sterk alliansie van eendersdenkende organisasies, eerder as ’n “front”, kon in 1955 byeenkom as die Congress of the People, en die Vryheidshandves is aanvaar.

Stadsraadlid

Die KPSA is in 1953 opnuut saamgestel as die ondergrondse Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), maar het besluit om nie enige openbare verklarings te maak nie. Daar is besluit om liewer deur ander strukture en fronte te werk. Eers in 1960 het die organisasie weer begin om openbare verklarings te maak. Met een voet in die mees progressiewe strukture van die dag, het Cissie Gool met haar ander voet in die hoofstroom-verkiesingspolitiek gestaan en is sy in 1938 verkies tot die Kaapstadse Stadsraad, as raadslid vir Woodstock Wyk 7. Sy was die eerste swart vrou wat ʼn stadsraadslid geword het en sy het tot met haar dood in 1963 in die stadsraad gedien. Sy is ook hieroor deur die radikale ver linkses gekritiseer en hulle het haar as ʼn “reformis” geëtiketteer.

Reg September, een van die stigters van die South African Coloured People’s Congress, het uitgebrei oor hoe Cissie Gool sterk geglo het aan die gebruik van enige politieke ruimte wat die geleentheid gee om voordeel vir die werkers te kry. Sy het ook die soms godsdienstige styl van revolusionêre intellektuele argumente verwerp wat in leunstoele gevoer is en wat gewild was onder die radikale sjiek middelklas- Boheemse kringe waar mense dikwels die woord “werkersklas” saam met baie revolusionêre retoriek gebruik het, maar geen sinvolle kontak met werkers, die werkloses en die armes gehad het nie. Cissie Gool het dikwels gesê dis beter om by aksies betrokke te raak eerder as om te praat. Sy het mense aangespoor om aksie te neem en sy het geïrriteer geraak met die handboekrevolusionêre wat nooit die politiek van haar studentdae ontgroei het nie. Sy het haar na organies revolusionêre mense gewend wat uit die werkersklasse na vore gekom het en wat deur die vakbonde en die KPSA-strukture en nagskole leiding geneem het.