Geskiedenis

Mamre is ’n dorpie aan die Weskus ongeveer 50 km noord van Kaapstad se sakekern, maar steeds binne die grense van die Stad Kaapstad. Die VOC het Mamre gebruik as ’n buitepos vir die aanhouding van vee, maar die Hollandse Goewerneur van die Kaap het dit in 1701 omskep in ’n militêre buitepos. Hierdie buitepos is Groenekloof genoem en is opgerig om die setlaars se vee te beskerm teen Khoi-groepe wat die besetting van grond deur die koloniste betwis het. Die Groenekloof vee- en militêre buitepos het voortbestaan tot 1791. In 1808 het die Britse regering aan Morawiese sendelinge van Genadendal toestemming verleen het om ’n sendingstasie hier te stig. Groenekloof was die tweede Morawiese sendingstasie in suidelike Afrika en is in 1854 herdoop na Mamre.

Vrygestelde slawe en Khoikhoi-groepe in Mamre

Volgens sendingrekords was die meeste van die bykans 700 mense wat tussen Januarie 1839 en Desember 1852 aansoek gedoen het om toestemming om hulle in Groenekloof te vestig voormalige slawe. Nadat die vrystelling van slawe in 1834 afgekondig is, is die Kaapse slawe gedwing om ’n vakleerlingskap van vier jaar te voltooi. Hierdie vakleerlingskap het op 1 Desember 1838 geëindig. Groenekloof het op 2 Desember 1838 ’n dankseggingseremonie gehou. Alhoewel die meerderheid van die Mamre-nuwelinge slawe was, het die Morawiers aanvanklik daarop gekonsentreer om Khoi-groepe te bekeer. Selfs voordat vrygestelde slawe in Mamre aangekom het, is daar klinkklare bewyse van noue werks- en familieverhoudinge tussen vry Khoi-gemeenskappe en slawe wat saam op omliggende plase gewerk het voordat hulle vrygestel is.

‘n Skets van Groenekloof Sendingstasie deur James Backhouse, circa 1840. Bron: Ludlow, 1992.

Lewe op die sendingstasie

Die sendingstasie het aan nieblankes ’n lewe gebied wat baie van privaat plase en die stad verskil het. Hulle het die geleentheid gekry om ’n ambag te leer, geleerdheid te bekom en op sendinggrond te boer. Die implikasie hiervan was gewoonlik groter onafhanklikheid en beter werk as om ’n permanente plaaswerker te wees. Sommige mans het steeds verkies om as seisoenale plaasarbeiders te werk. By die sendingstasie is graan en lewende hawe hoofsaaklik vir selfonderhouding aangehou. Oorskot voorraad is by markte in Kaapstad en Malmesbury verkoop en die sendingstasie het die meeste van die wins bestuur. 64% van die mense wat tussen 1839 en 1843 by Groenekloof aangekom het, was families wat op soek was na beter lewensomstandighede en hulpbronne. Die sendingstasie het ’n ruimte gebied waar families wat ontwrig en uitmekaar gedryf is deur slawerny weer betekenisvolle bande met mekaar kon smee en ’n lewe saam kon bou.

Bo en behalwe sy kleurvolle geskiedenis bied Mamre ook jaarliks die Mamre Veldblomfees in September aan.

Bronne

Ludlow, E. H. 1992. “Missions and Emancipation in the south Western Cape: A case study of Groenekloof (Mamre), 1838-185”. Ongepubliseerde meesterstesis [Universiteit van Kaapstad].

Beck, P. 2016. “A short history of Mamre’s Moravian Mission Station”. 4 September. The Heritage Portal