Bertha Solomon

20ste eeu

Foto van Bertha Solomons. Beeld: openbare domein, via Wikimedia Commons.

 

“In my Wetsontwerp het ek omtrent sewentig persent gekry van wat ek wou hê – daar is nog ’n paar dinge uitstaande. Daar is in enige loopbaan geen plaasvervangers vir volharding en harde werk nie.”

Bertha was net vier jaar oud toe sy van Rusland af in Kaapstad aangekom het. Sy het die Good Hope kweekskool en die Anglikaanse Bisdom Kollege (Bishops Kollege) bygewoon en een van die eerste Joodse studente by die kollege geword. Nadat sy as onderwyseres gekwalifiseer het, het Bertha met Charles Solomon getrou en na Johannesburg verhuis.

Tien jaar later in 1923 het Bertha regte studeer, haar eie praktyk geopen en die eerste vroulike advokaat geword wat voor die Transvaalse Provinsiale Afdeling in Pretoria verskyn het. Bertha was die enigste vroulike advokaat wat lid was van die Johannesburg Balie en tientalle vroue het haar kom sien.

Destyds het Suid-Afrikaanse wetgewing vroue gestroop van die reg toto eiendomsbesit, die reg om hul eie verdienste te bestuur en die reg om te stem. Voor die reg is vroue as minderjariges beskou en hulle kon nie ’n bankrekening oopmaak sonder hul man se toestemming nie. In die geval van egskeiding het ’n vrou geen voogdyregte gehad nie en sy het outomaties haar kinders verloor ingevolge die gemeneregtelike huwelik. Bertha was getuie van die lyding wat vroue weens die tekortkominge van die wet moes verduur. Dit het daartoe gelei dat sy haar lewenslange roeping nagejaag het: die reis na stemreg vir vroue en die uitdaging om die wet te verander om die lewens van vroue te verbeter.

Sy het by die Beweging vir Vrouestemreg aangesluit totdat ’n wetsontwerp vir vroue om te stem in 1930 goedgekeur is. Die wetsontwerp was ’n teleurstelling vir Bertha, aangesien stemreg slegs aan wit vroue gegee is.

Bertha het voortgegaan om die eerste vroulike Provinsiale Raadslid te word. Sy het haar vir die parlementêre verkiesing van 1938 beskikbaar gestel en gewen. Haar eerste rol in die parlement was die stigting van ’n sopkombuis in Jeppestown. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, was sy een van die stigters van die Suid-Afrikaanse Vrouehulplugmag.

Bertha Solomon het vir meer as 20 jaar geveg om ’n wetsontwerp, genaamd die Wetsontwerp op Huweliksake deur te voer. Die wetsontwerp is uiteindelik in 1953 goedgekeur en dit het aan vroue die regte van eiendomsbesit en toesig oor hul kinders gegee. Daardie jaar het sy ’n vrou van die jaar-toekenning ontvang.

Die Bertha Solomon-sentrum in die hedendaagse Jeppestown dien steeds die gemeenskap van Johannesburg.

Previous
Previous

Catharina Ras