Catharina Ras

17de eeu

Skildery van Catharina Ras. Beeld: Steenberg plaas

 

“Catharina was ’n ongelooflik sterk onafhanklike vrou,” Baron van R(h)eede van Oudtshoorn, Goewerneur van die Kaapkolonie vanaf 1772.

Die rooikop Duitse weduwee, Catharina Uftings was maar 22 jaar oud toe sy in die Kaap geland het. Sy het alleen gereis en haarself as ’n man vermom in die koel Julie-maand van 1662. Catharina is minder as twee maande later getroud met die soldaat en vryburger Hans Ras.

Ras het grond langs die Liesbeeck Rivier gehuur en daarop geboer. Dit was sy verantwoordelikheid om ’n wabrug genaamd “die brugh van Hans Ras” te bestuur. Catharina het in die huis in die middel van die plaas ingetrek en sy en haar man het vier kinders gehad.

Catharina, of Tryn soos wat hulle haar genoem het, het teen 1672 haar tweede man in ’n leeu-aanval verloor. Volgens een van die stories wat aan Tryn verbind word, het sy op haar perd gespring, die leeu wat haar man doodgemaak het ingejaag en hom net daar doodgeskiet. Verskeie verhale het die rondte gedoen oor haar perdryvaardighede en haar vasbeslotenheid. Sommige van die verhale het effens legendaries of mities geklink. Hierdie stories vertel egter vir ons iets van haar dapperheid as ’n vrou tydens die beginjare van die Kaapkolonie.

’n Weduwee met vier jong kinders het nie ’n maklike lewe gehad nie. Catharina het haar derde man, Francois Champelaer van Ghent, ontmoet. Hulle het saam haar vorige man se plaas en ’n huis in Tafelvallei naby die Fort van Goeie Hoop gekoop. Francois het ’n jaar later gaan visvang en nie teruggekeer nie. Hy is deur Khoekhoen van stamhoof Gonnema se stam doodgemaak.

Tryn is drie maande later weer getroud met ’n kneg genaamd Lourens Cornelissen. Hulle het twee dogters saam gehad. Cornelissen is op tragiese wyse deur ’n olifant doodgemaak.

Tryn Ras het toe getrek om op ’n stuk grond onder die Steenberg te boer. Sy het op hierdie grond verlief geraak en het die grond aanvanklik gehuur, maar later ’n volle titelakte van Simon van der Stel versoek. Sy het ook aangedring op eienaarskap van die grond. Die eienaarskap is aan haar toegeken en Catharina het haar plaas “Swaaneweide” genoem. Dit beteken eetplek van die swane. Sy is later met haar vyfde man, Matthys Michelse, getroud. Hy het haar ondersteun en gehelp om op die grond te boer.

Catharina Ras het die eerste vroulike grondeienaar aan die Kaap geword. Haar plaas was ook die eerste geregistreerde plaas. Tryn het ook haar eerste man se van gehou ten spyte van haar latere lhuwelike. Dit was ’n sterk standpunt wat sy ingeneem het in ’n samelewing waarin vroue bekend was deur die mans met wie hulle getroud was.

Previous
Previous

Anna de Koning

Next
Next

Bertha Solomon