Anna de Koning

17de eeu

Portret van Anna de Koning in die 17de eeu geskilder. Dit is waarskynlik die enigste portret van ’n vrygestelde slaafgemaakte persoon aan die Kaap. Beeld: E313, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens (WKARD)

 

“… Anna de Koning het nogal vir haarself ’n naam gemaak in die Kaap. Sy het gevorder van slaafgemaakte vrou na die meesteres van die welbkende Kaapse eiendom, Groot Constantia.” South African History Online.

Anna het op vyfjarige ouderdom saam met haar ma Ansela (of Angela) omstreeks 1660 of 1661 in die Kaap aangekom. Sy is uit haar tuiste in Bengale ontvoer en ’n slaaf gemaak. Sy het later een van die rykste en invloedrykste vroue in die Kaapkolonie geword.

Anna en Ansela het vir ’n kort tydperk vir kommandeur Jan van Riebeek gewerk voordat hulle aan Abraham Gabbema verkoop is. Gabbema het die

dokumente wat Ansela se vryheid van slawerny bevestig het aan haar oorhandig die aand voordat hy na Europa teruggekeer het.

Anna was nou bevry van slawerny en haar gesin was nie meer gebonde aan die swaar lewe wat hulle leer ken het nie. In plaas daarvan is haar ma Ansela as ’n Christen gedoop en as ’n gerespekteerde lid van die Kaapse samelewing behandel. Sy het met ’n welgestelde boer getrou en Anna het in ’n groot huis aan die Heerengracht grootgeword.

In 1678 trou Anna met Olof Bergh, ’n welgestelde Sweed wat ’n amptenaar van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) en ekspedisieleier onder Simon van der Stel se regering was. Hulle was tien jaar getroud toe Olof gestuur is om ’n skat uit ’n skeepswrak te gaan red. Hy het besluit om ‘n deel daarvan (meestal brandewyn) vir homself te hou en is later gearresteer en van diefstal aangekla. Anna, Olof en hul kinders is na Robbeneiland verban. Na drie jaar op die eilandjie is Olof die geleentheid gebied om sy rang en invloed te behou, maar slegs indien hy vertrek om in Ceylon te gaan woon. Hy het die lewe in ballingskap gekies en op ’n skip na Ceylon geklim. Dit is moontlik dat Anna gekies het om in die Kaap te bly, of sy het hom dalk vergesel. Olof het in Ceylon verskeie rangbevorderings ontvang en rykdom vergader. Toe hy na die Kaap terugkeer, het hy verskeie eiendomme gekoop, waaronder die huis aan die Heerengracht, die De Kuilen plaas, ’n huis in die Tafelvallei, een naby die Groote Kerk in die stad, twee plase naby Piketberg en ’n plaas in Durbanville wat nou Groot Phesantekraal genoem word. Hy is kwytgeskeld van sy misdade en is tot Kaapse garnisoenbevelvoerder bevorder.

Gedeelte van Anna se boedelinventaris wat na haar dood saamgestel is. Hierdie dokument beslaan 32 bladsye en lys eiendomme, klere, juweliersware, wapens, medisyne, linne, meubels, huishoudelike goedere en meer en is ’n aanduiding van haar groot rykdom. Hierdie voorheen slaafgemaakte vrou het ook 27 slaafgemaakte werkers besit. Beeld: MOOC 8/5: 118, WKARD.

 

Toe Simon van der Stel sterf, het Olof en Anna Groot Constantia gekoop. Olof is in 1724 oorlede en al sy besittings is aan Anna bemaak. Sy het die meesteres van verskeie landgoedere geword en talle huweliksvoorstelle van die hand gewys. Anna het haar laaste jare as ’n ryk weduwee, ma, ouma en oumagrootjie uitgeleef.

Anna en Olof is die matriarg en patriarg van die Suid-Afrikaanse Bergh-familie.

Anna de Koning sou ook die matriarg van talle Suid-Afrikaanse families word.

Previous
Previous

Rahima Moosa

Next
Next

Catharina Ras