!Goroǀgôas (Krotoa) of Eva van Meerhof
17de eeu
’n 17de Eeuse skets van Khoekhoe-vroue in tradisionele drag met lyfversierings en juweliersware. ’n Vroulike kolonis is links sigbaar. Krotoa het Westerse klere gedra wanneer sy by die Van Riebeecks of haar man gewoon het, maar het haar Khoekhoe-klere aangetrek wanneer sy vir haar familie gaan kuier het. Beeld: World Digital Library
“…Die natuur se meesterwerk. Sy was ’n toegewyde Christen en het vlot Engels, Nederlands, Frans en Portugees gepraat. Sy was ook goed vertroud met die Bybel. Kortom, sy was prysenswaardig, opgelei in die vroulike ambagte en getroud met een van die snydokters wat die maatskappy dien.” Willem ten Rijne se beskrywing van “Eva”, 1673.
“Krotoa” (die Nederlandse spelling van !Goroǀgôas) was waarskynlik nie hierdie jong vrou se naam nie, maar sê eerder vir ons dat sy onder die voogdyskap van haar oom Autshumao (of Kx'aothumathub) of van Jan van Riebeeck en sy vrou Maria de la Quellerie was. Ons weet nie wat haar geboortenaam was nie.
!Goroǀgôas is aan die begin van die Hollandse besetting op die ouderdom van 12 deur Jan van Riebeeck ingeneem om vir sy vrou, Maria, as persoonlike bediende te werk. Sy het vinnig leer Nederlands praat en kon goed genoeg kommunikeer om ’n tolk te word. Haar oom, Autshumao, was ’n Khoekhoe-leier van die !Uriǁ’aeǀona (Strandlopers). Vir hom was !Goroǀgôas ’n nuttige bron van inligting oor die Hollandse gebruike.
!Goroǀgôas het jare lank opgetree as tussenganger en onderhandelaar tussen die Hollandse regering en die Khoekhoen. Sy was ’n sleutelfiguur tydens bepaling van die ooreenkoms wat gelei het tot die beëindiging van die Khoekhoe-Hollandse oorlog vanaf 1659-1660.
!Goroǀgôas is in 1662 as Christen gedoop en Eva genoem. Sy was die eerste Khoekhoen wat volgens die Christelike gebruik aan die Kaap gedoop is. Sy is twee jaar later met ’n Deense snydokter, Pieter van Meerhof, getroud. Weereens was sy die eerste Khoekhoen wat volgens die Christelike gebruik aan die Kaap getroud is. Sommige van die koloniste en regeringsamptenare het nie hierdie huwelik goedgekeur nie.
!Goroǀgôas se lewensomstandighede was baie moeilik. Haar eie mense was agterdogtig oor haar en na haar oom Autshumao se dood kon sy nie na haar familie terugkeer nie. Haar man is tydens ’n ekspedisie na Madagaskar vermoor en !Goroǀgôas is alleen met drie kinders agtergelaat. Die nuwe goewerneur, Zacharias Wagenaer, het ’n baie negatiewe siening van die Kaap gehad en het nie meer !Goroǀgôas se tolkdienste benodig nie. Sy het arm geword en die Hollandse regering daarvoor kwalik geneem. !Goroǀgôas het ’n alkoholis geword en prostitusie gesien as die enigste manier om ’n karige bestaan te maak.
Sy is in Maart 1669 gearresteer omdat sy weggeloop en haar kinders alleen agtergelaat het. Sy is na Robbeneiland verban vir die misdade van “immorele gedrag, dronkenskap en prostitusie”. Sy het vyf jaar later op die eiland gesterf en is by die Kasteel begrawe. Haar kinders, Jacobus, Pieternella en Salomon, is na Mauritius geneem. Pieternella van Meerhof, haar dogter, het later na die Kaap teruggekeer. !Goroǀgôas het ook twee seuns, Jeronimus en Anthonij, gehad wat buite die eg gebore is. Hulle is moontlik deur Anna en Evert van Guinea, vrygestelde slaafgemaakte mense, grootgemaak.
Vandag is vele Suid-Afrikaners afstammelinge van hierdie Khoekhoe-vrou wie se stem steeds gehoor kan word in die eerste dagboeke en amptelike dokumente van die Kaap.