Lady Anne Barnard

18de en 19de eeu

’n Skets van Lady Anne Barnard, 1783. Beeld: E2848, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

 

“Ek dink hardop op papier, gee my opinies daaroor, vertel my storie waar of onwaar soos ek kans sien om dit te hoor ... soms verbeel ek my dat ek met my susters praat, soms skryf [ek]... net vir myself,” Lady Anne Barnard oor haar dagboeke, September 1799.

Min vroue is so sinoniem met die Kaap soos Lady Anne Barnard. Anne Lindsay was die dogter van die graaf van Balcarres in Skotland en sy jong vrou. Anne was die oudste van 11 kinders. Sy was besonder na aan haar suster Margaret en die twee het saam ’n huis in Londen opgerig. Margaret het saam met haar man, en Anne langsaan in ’n kleinerige woonstel gewoon. Anne het talle vryers verwerp, insluitend Henry Dundas, die magtigste Skotse politikus wat as die sekretaris van die krygsraad gedien het. Haar verbintenis met Dundas was lewenslank en hy was ’n sleutelfiguur in haar verhuising na die Kaap.

Anne was 43 jaar oud toe sy ’n huweliksaanbod van Andrew Barnard aanvaar het. Hy was ’n junior offisier met geen rang, geen rykdom, twee

kinders en baie skuld. Sy het senuweeagtig aan ’n paar van haar vriende geskryf en gesê: "die wêreld sal dink ek is mal om die aanbod te aanvaar!" Nadat Andrew en Anne getroud is, het sy vir Dundas gevra om vir haar jong man ’n werk te kry. Dundas se reaksie was om met ’n gewaagde voorstel vorendag te kom: Andrew kon ’n pos kry, maar as sekretaris van Lord George Macartney aan die Kaap die Goeie Hoop. Anne was vreeslik bang om van Engeland af Kaap toe te trek, maar sy was vasbeslote om haar man te vergesel. Hulle het Londen verlaat gewapen met "drank, piekels, Windsor-stoele, honde, gewere, port, skryfbehoeftes, lampe en perde."

Aan die Kaap was Lady Anne die amptelike gasvrou en ‘eerste’ vrou van die Kolonie aangesien Heer Macartney se vrou in Londen agtergebly het. Anne was meer as net ’n gasvrou en sy was baie gelukkig in die Kaap. Sy het hier ’n soort geluk gevind wat sy nêrens elders ervaar het nie. Anne het Tafelberg in haar man se broek uitgeklim, haar botaniese waarnemings gedokumenteer en tientalle waterverfskilderye geverf wat die lewe, voorkoms en gevoel van die Kaap aan die einde van die 18de eeu vasgevang het.

Waterverfskildery deur Lady Anne Barnard van ’n slaafgemaakte vrou van die Kaap die Goeie Hoop wat as ’n “hulpkok” in haar huishouding gewerk het, 1793. Beeld: Lady Anne Barnard, openbare domein, via Wikimedia Commons.

 

Waterverfskildery deur Lady Anne Barnard van ’n Khoekhoe-vrou wat sy beskryf as die “Vrou van die stamhoof”, 1799. Beeld: Lady Anne Barnard, openbare domein, via Wikimedia Commons.

 

Sy het na die binneland gereis en Swellendam besoek via Stellenbosch, Genadendal en toe Saldanhabaai en Blouberg voordat sy terug na die Kasteel gekeer het. Die reis was ’n maand lank, maar dit het verskeie roerende waterverfskilderye opgelewer van die mense wat Lady Anne op haar reise ontmoet het, insluitend slaafgemaakte werkers en lede van die inheemse bevolking. Haar verblyf in die Kaap het vyf jaar geduur, maar dit het aan haar die geleentheid gebied om as reisiger, skrywer, kunstenaar en waarnemer te floreer. Haar tekeninge en dagboeke word vandag nog gebruik as verwysings na die lewe in die Kaap tydens die eerste Britse besetting.

Previous
Previous

!Goroǀgôas (Krotoa) of Eva van Meerhof

Next
Next

Zainunnisa “Cissie” Gool