Die nalatenskap van slawerny
Alhoewel slawerny nou onwettig is, is dit nie iets van die verlede nie.
Moderne slawerny is 'n werklikheid vir meer as 40 miljoen mense wêreldwyd. Hierdie mense word erg uitgebuit. Ongeveer 71% is vroulik en een uit elke vier is kinders. Mensehandel – die geweldadige of misleidende beweging van mense met die doel om hulle uit te buit – is 'n vorm van modern slawerny. Mensehandelaars word bemagtig deur die realiteit van geslagsongelykheid en politieke en ekonomiese onstabiliteit. Hulle bedryf hul besigheid wêreldwyd, op ons vasteland en in ons land.
Onder die slaaf-gemaakte mense was daar 'n aantal vaardige vissers vanuit die Ooste. Die see was die plek waar slaaf-gemaakte vissers 'n gevoel van vryheid ervaar het wanneer hulle gestuur is om te gaan visvang. Dit was ook 'n algemene gebruik vir slaaf-gemaakte mense in kusgebiede om hul karige diëte met visvang aan te vul.
Na die afskaffing van slawerny het visvang vir baie van die nasate van die slaaf-gemaakte mense van die Kaap 'n tradisionele beroep geword. Hierdie vaardigheid is van een geslag na die volgende oorgedra.
Visvang het aan vissermanne 'n gedeelde gevoel van identiteit en 'n gevoel van gemeenskap gegee.
Die meeste vissersgemeenskappe is arm, aangesien hul inkomste afhang van wanneer die volgende vangs inkom. Die see is egter in hul bloed.
Baie slaaf-gemaakte mans in kusgebiede was vissers. Toe slawerny afgeskaf is, het hulle steeds 'n inkomste verdien en hul gesinne onderhou as lyn- of treknet vissers.
Vis was deel van die dieet van 'slawe' aan die Kaap tydens die bewind van die VOC. Hulle het vis 'ingesout' as kos vir die Kompanjie-'slawe'.
Tradisionele treknet-vissers was geslagte lank die enigste verskaffers van harders. Hierdie vis was 'n belangrike bron van proteïene vir lae-inkomste Kaapse gesinne.
Vis is by die Kalkbaai-hawe of uit viswaentjies gekoop. Plaaslike gemeenskappe is deur die bekende klank van vishorings ingelig dat vars vis te koop was.
Treknet-visvang is 'n eeue-oue tradisie wat ontstaan het gedurende die tydperk van slawerny aan die Kaap. Hierdie vaardigheid word van geslag tot geslag oorgedra. Sekere gesinne is met spesifieke treknet-strande verbind. Treknet-visvang was tot voordeel van die hele gemeenskap. Almal wat gehelp het om die nette in te trek sou gratis vis kry. Dit was 'n algemene gebruik in vissersgemeenskappe.
Die visserskuit is onontbeerlik vir treknet-visvang en die rol van die 'uitkyker' is ook baie belangrik. Sodra die ‘uitkyker' die teken gee, begin die treknet-operasie. Party van die bemanningslede roei op 'n 'bakkie' (klein roeibootjie) see-in terwyl die 'uitkyker' hulle met 'n fluitjie en vlag lei na die skool visse. Die 'bakkie' roei dan rondom die skool visse en die net word oor die water uitgegooi.
Treknet-visvang is sedert die dae van slawerny 'n tradisionele leefwyse aan die Kaap.
Die San en Khoekhoen aan die Kaap was jagter-versamelaars en veeboere. Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) sou hul prekoloniale ekonomieë onder dwang met 'n kommersiële landbou ekonomie vervang. Die arbeiders op koloniale plase was slaaf-gemaakte mans asook ingeboekte Khoekhoe en San-mense.
Talle plaaswerkers in die Wes-Kaap vandag is die nageslag van of ingeboekte Khoekhoe-en San-arbeiders óf die slaaf-gemaakte mense aan die Kaap.
Slaaf-gemaakte mans moes die trauma van ontmanning verduur wanneer daar na hulle verwys is as seuns ('jongens') en nie mans nie. Hulle het nie die gesag gehad om hul gesinne te beskerm wat te eniger tyd van hulle weggeneem kon word nie. Hulle is tot alkoholverslawing gedryf – iets wat hul selfvertroue en hul drome sou vernietig.
Hierdie slaaf-gemaakte mense is onderdanig gehou deur die wrede dopstelsel. 'Dop-tye' sou gedurende die werksdag met gereelde tussenposes deur slaweklokke aangekondig word. Historikus, Robert Shell beskryf die dopstelsel as die verdeling van die dag in 'dop', werk, 'dop', werk en 'dop'.
Dit blyk asof alkohol vir hierdie mense 'n manier gebied het om die omstandighede van hul onderdrukte bestaan te verdoof omdat hulle sou voel dat daar vir hulle geen uitkomkans was nie. Die vernietigende nagevolge hiervan is ook aan hul nageslagte oorgedra. Alhoewel baie mense daarin geslaag het om dit te oorkom, is daar nog ander vir wie hierdie nalatenkap 'n gebrokenheid en oneindige wanhoop veroorsaak het.
Volgens die historikus Robert Shell was slaaf-gemaakte vroue uit die Ooste, veral Bengale, die kus van Coromandel, Surat en Macassar, gesog vanweë hul vaardighede as naaldwerksters.
Hy het beskryf dat wanneer besoekers agtiende-eeuse Kaapse huise betree het, hulle 'n lang, breë gallery sou sien waar vier of ses slaaf-gemaakte vroue op klein houtbankies gesit en naaldwerk doen of gebrei het.
Na die afskaffing van slawerny het talle slaaf-gemaakte vroue as kleremakers hul gesinsinkomste aangevul. Hul nageslag sou in plaaslike fabrieke soos Rex Truform werk.
'Slawe-eienaars' se huishoudings het voordeel getrek uit die vaardighede van slaaf-gemaakte naaldwerksters wat die gesin se klere sou maak. Na die afskaffing van slawerny het uiters vaardige naaldwerksters hulself onderhou deur naaldwerk van die huis af te doen. Hulle het hierdie vaardighede ook aan hul dogters oorgedra.
Na die afskaffing van slawerny het baie voormalige slaaf-gemaakte 'wasvroue' wasgoed gedoen om die gesinsinkomste aan te vul. Veral vissers se vroue sou wasgoed inneem omdat hul mans se inkomste seisoenaal was.
Slaaf-gemaakte vroue in beide privaat huise en in die Slawelosie in die stad, snags 'n bordeel, was die slagoffers van seksuele geweld.
Seksuele vergrype teen slaaf-gemaakte vroue is tydens slawerny genormaliseer en is oorgedra na die hedendaagse Suid-Afrikaanse samelewing waar geslagsgeweld teen vroue 'n toenemende probleem is.
Slawerny was 'n traumatiese ervaring vir slaaf-gemaakte mense. Hul daaglikse ervarings was oorskadu deur werklike of dreigende geweld. 'n Gesinslewe was talle slaaf-gemaakte mense nie beskore nie weens die skeiding van gesinne Die sielkundige trauma wat deur slaaf-gemaakte mense ervaar is, het intergenerasionele nagevolge gehad en weerklink vandag nog in ons samelewing.
'Slawe-eienaars' sou die wreedste metode van geestelike wreedheid gebruik om slaaf-gemaakte vroue te beheer, te straf of seer te maak: Hulle sou slaaf-gemaakte ma's en hul kinders skei.
Die historiese trauma van gesinne wat geskei is en 'n gebrek aan die ervaring van 'n gesinslewe het verreikende intergenerasionele nagevolge vir hul nageslagte gehad.
Daisy Kadibil was 'n inheemse Australiese vrou wat as kind een van die 'gesteelde geslagte' kinders was wat deur die Australiese regering met geweld van hul ouers geskei is. Haar verhaal vorm deel van van die film The Rabbit Proof Fence.
Haar ervaring is soortgelyk aan dié van slaaf-gemaakte kinders wat in hul vormingsjare van hul ma's geskei is.
Haar afgeleefde gesig herinner ons aan die las van universele historiese trauma wat deur inheemse sowel as slaaf-gemaakte mense ervaar was wat as kinders van hul ouers geskei is.
Kaapstad het 'n besondere betekenis vir die afstammelinge van slaaf-gemaakte mense.
"It is the city that has shaped our unique historical legacy and it is our home. This city is carved into our psyche in a manner that is unimaginable for those whose history was shaped differently. It is the city of our haunted experiences, but also the city of our longing, hopes and dreams. Cape Town is our birthright, our mother."
Joline Young, historikus en afstammeling van slaafgemaakte mense aan die Kaap.
Distrik Ses was 'n op-en-wakker gemeenskap met diverse mense. Baie van hulle was voormalige slaaf-gemaakte mense wat hulle hier gevestig het na die vrystelling van 'slawe'. Hoewel 'slawe-eienaars' deur Brittanje vergoed is tydens die afskaffing van slawerny, het voormalige 'slawe' geen finansiële ondersteuning ontvang om hul lewens as vrye mense oor te begin nie.
Uitgebreide gesinne, sterk gemeenskapsbande en mededeelsaamheid het arm gemeenskappe gehelp om omstandighede van uiterste armoede te kon oorkom. Die ouer garde het 'n ogie oor die kinders gehou.
Armoede het gelei tot oorbevolkte lewensomstandighede wat noodgedwonge aanleiding gegee het tot gedeelde lewens, ruimte en hulpbronne.
Die joernalis Brian Barrow het in 1966 die volgende oor Distrik 6 geskryf:
In 1966 the journalist Brian Barrow wrote of District 6:
"Go into one of the fruit and vegetable shops and you soon realise how the very poor manage to live. In these shops people can still buy something useful for 1d [penny]. They can buy one potato if that is all they can afford at the moment, or one cigarette. You can hear them ask for an olap patiselli (a penny’s worth of parsley), a tikkie [tiekie] tamaties or a tikkie swartbekkies (black-eyed beans), a sixpence soup-greens, an olap knofelok (garlic) or olap broos, which means a penny’s worth of bruised fruit."
Na die afskaffing van slawerny het die Bo-Kaap die tuiste geword van talle voormalige slaaf-gemaakte mense. Dit was die oorsprong van die Bo-Kaap-gemeenskap. Vandag staar hierdie gemeenskap, waar Islam beoefen word, die uitdagings van gentrifikasie in die gesig.
Alhoewel beide Christene en Moslems voorheen hier gewoon het, staan die Bo-Kaap lank reeds bekend as die 'Maleierbuurt'. Klein kothuise is hier snoesig onder die berg geleë. Die minaret van die moskee, waarvandaan die oproep van die Athzaam om aanbidding kom, kyk oor hierdie kothuise uit.
'n Uitsig oor Bo-Kaap onderaan Leeukop.
Na die afskaffing van slawerny het voormalige slaaf-gemaakte mense hulle in die gebied gevestig en 'n hegte gemeenskap gevorm.
'n Bekende voormalige inwoner van Bo-Kaap was die historikus Achmat Davids. Volgens hom "het die gekoloniseerde mense van die Kaap ’n baie belangrike bydrae gelewer tot die ontwikkeling van Afrikaans".
Kinders in die Bo-Kaap speel sorgeloos onder die wakende oog van volwassenes in die gemeenskap.
Alhoewel die Bo-Kaapse gemeenskap die 1960's se gedwonge verskuiwings gespaar was, staar hul vandag die krisis van verbrokkeling as gevolg van gentrifikasie in die gesig.
Die Nasionale Party het in 1948 aan bewind gekom. Tussen 1955 en 1957 het apartheid die ruimtelike beplanning in en om Kaapstad herskep. Mense is op grond van ras gedwing om uit die middestad na gesegregeerde townships op die Kaapse Vlakte te verskuif. Die apartheidsregering se streng 'Meesterplan' het in 1966 hierop gevolg. Die doel was om al Kaapstad se inwoners van kleur uit die stedelike gebiede te verwyder. Hierna sou hulle in dan in hoëdigtheid-nywerheidsgeboue op die Kaapse Vlakte hervestig word in wat as 'n "toekomstige Kleurlingstad" beskryf is.
Die grootste slagoffers van die gedwonge verskuiwings was die jeug. Don Pinnock beskryf die impak van gedwonge verskuiwings op jongmense en sê dat "armoede en die ontsaglike maatskaplike manipulasie van apartheid ernstige spanninge veroorsaak het en gelei het tot die vorming van bendes as 'n manier waarop tieners die impak van hierdie emosionele stres probeer hanteer het".
In hierdie skildery beeld die kunstenaar Léshaan Moses die geweld van bende-inisiasie uit. Inisiatiewe soos die Heal the Hood-projek wat Emile Jansen in 1988 gestig het, bied talle jongmense 'n positiewe alternatief vir bende-aktiwiteite in die vorm van dans, musiek en kuns.