Plaaslike Nalatenskap van Slawerny

Slaaf-gemaakte mense werk op 'n dak in Kaapstad, 19de eeu. Beeld: E 1933, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

Met hierdie uitstalling bring ons hulde aan die duisende mense wat met geweld uit hul geboortelande in verskillende dele van Afrika en Asië ontwortel is en aan die Kaap in slawerny gedwing is, sowel as diegene wat plaaslik in slawerny gebore is; wat bygedra het tot die maatskaplike struktuur, ekonomie en die beboude omgewing van Kaapstad en die Wes-Kaap.


Protea Village, Kirstenbosch in die vroeë 20ste eeu. Foto: AG 15148, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

Die nalatenskap van Kaapse slawerny weerklink in ons name en vanne, ons kultuurgebruike, die kreoolse kos wat ons eet, die kreool-taal wat ons praat, ons musiek en die godsdienste wat ons beoefen.


Vrystelling-dag herdenking, 1904. Foto: E 7892, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

Stedelike en landelike gemeenskappe regoor die Wes-Kaap herdenk steeds die einde van slawerny. In plaas daarvan dat slegs sommige van ons op 1 Desember die jaarlikse herdenking bywoon, behoort ons almal te besin oor hoe hierdie dikwels vergete en verwaarloosde 'slawe' verlede ons samelewing en erfenis nie net regoor die Wes-Kaap nie, maar in Suid-Afrika as geheel gevorm het.

Slawerny het Suid-Afrika vanaf die begin van haar koloniale geskiedenis fundamenteel gevorm en baie van die boustene gelê vir 'n samelewing wat op rasse-onderdrukking gebaseer was. Apartheidswetgewing is net meer as 'n eeu na die vrystelling van slaaf-gemaakte mense afgedwing. Baie apartheidswette, soos die Groepsgebiedewet en die paswette, was gebaseer op wetgewing wat slaaf-gemaakte mense en die onteiende inheemse mense beheer het.


'Slawe'-klokke wat op verskeie plekke in die Wes-Kaap voorkom, is 'n tasbare herinnering aan die wydverspreide en ingrypende nalatenskap van slawerny. Foto: J 3767, Wes-Kaapse Argief- en Rekorddiens

Die nalatenskap van slawerny beïnvloed steeds ons perspektiewe. Dit noop ons om oop gesprekke te voer en stappe te neem om die armoede en trauma wat van geslag tot geslag oorgedra word, geslagsgebaseerde geweld, rassediskriminasie en diskriminerende praktyke in die landbou en huiswerk-industrieë te beëindig.  

Ten spyte van die harde werklikheid van slawerny en die voortgesette diskriminasie en beperkings op hul lewenskeuses na vrystelling, het ons slaaf-gemaakte voorouers merkwaardige veerkragtigheid getoon om bo uiterste teëspoed uit te styg. Die waardevolle bydrae tot die maatskaplike en ekonomiese welstand van ons huidige samelewing deur baie Suid-Afrikaners wat afstammelinge van die Kaapse slaaf-gemaakte mense is, behoort ons almal te inspireer om 'n beter toekoms saam te skep.

Next
Next

Slaaf-gemaakte Lewens