Slaaf-gemaakte Lewens
Slawerny aan die Kaap het duisende mense en hul gesinne geraak. Tussen 1658 en 1807 is 63 000 mense uit hul geboortelande ontvoer en as dwangarbeid na die Kaap gebring vir die uitbreiding van die nedersetting deur die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) en later die Britse koloniale owerhede. Die mense wat aan die Kaap gedwonge 'slawe'-arbeid moes verskaf, was van Madagaskar, Suid-Asië, Suidoos-Asië en Oos-Afrika afkomstig. Gedurende die vroeë VOC-tydperk aan die Kaap is sommige vanuit Wes-Afrika hierheen gebring.
Die lewenservarings van die slaaf-gemaakte vroue, mans en kinders op Leeuwenhof bied 'n blik op wat dit beteken het om 'n 'slaaf' aan die Kaap te wees.
Fisiese sowel as sielkundige geweld was deel van die ervaring van slawerny aan die Kaap.
Nadat hulle met geweld van hul gesinne en vriende in hul geboortelande weggevoer is en van hul kulture, tale en godsdienste vervreem is, is slaaf-gemaakte mense ook ander se 'eiendom' gemaak. Hulle het geen regte tot hul eie kinders gehad nie, insluitende die reg om hulle te kon beskerm; hulle kon nie eiendom besit nie; en het nie die vryheid gehad om te kies vir wie hulle wou werk of watter soort werk hulle wou doen nie.
Die groei van die Kaapse landbou-ekonomie was te danke aan 'slawe'-arbeid.
Leeuwenhof is oorspronklik in 1693 aan Guillam Heems toegeken.
Johannes Zorn was tussen 1799 en 1825 die geregistreerde eienaar van Leeuwenhof. Teen 1807 het hy 54 'slawe' 'besit' en in 1820 is die 'slawe'-kwartiere by Leeuwenhof gebou. Zorn was 'n lid van die Kaapse elite, wie se rykdom gebou was op die uitbuiting van 'slawe'-arbeid.
Volgens dokumente in die Argief was Leeuwenhof se 'slawe' afkomstig van Batavia, Bengale, Macassar, Madagaskar, Mosambiek en Mauritius. Party was mense wat in slawerny aan die Kaap gebore is.
Slaaf-gemaakte mense is as ekonomiese bates beskou wat as verband kon dien en verkoop of uitverhuur kon word vir wins.
Teen die einde van die 18de eeu is hierdie 'slawe' van Leeuwenhof teen die volgende pryse gevalueer of gekoop:
Adonis van die Kaap - 300 riksdaalders, Philida, Januarie, Februarie, Maart en April, almal van Mosambiek - 500 riksdaalders elk, Simon van Mauritius - 550 riksdaalders, en Domingo van Mosambiek - 743 riksdaalders.
"Slaves [at the Cape] were auctioned alongside pieces of household furniture, farm equipment and livestock, the essence of their humanity denied". Tracey Randle, 2017
Aan die begin van die 19de eeu het Zorn vir Simon van Mauritius by Jan Pieter Baumgardt gekoop. Hy sou moontlik in 'n soortgelyke kennisgewing vir 'n 'slawe'-veiling geadverteer word.
Die huishoudelike en plaaswerk wat deur slaaf-gemaakte vroue en mans onderskeidelik verrig is, was moeilik. Hulle moes die hele jaar lank aanhoudend swoeg, met min tyd vir rus.
"I am always working; I need to rest sometimes".
Slammat van Bougies, 'n slaafgemaakte plaaswerker, 1795
Die meerderheid van die 'slawe'-arbeidsmag van Leeuwenhof was manlike arbeiders. In 1816 het Zorn 15 arbeiders gehad wat van Mosambiek, Madagaskar en die Kaap gekom het.
Louis, Joseph, Michel, Francois, Mozes, Pero, April, Pietjie, Januarie, Afrika, Scipio, Sabel, Patientie, November en Moses het elke dag lang ure gewerk, en harde en fisies veeleisende werk gedoen.
Hulle moes hul 'eienaar' se perde, beeste, bokke en varke versorg; sy wingerde plant en versorg en druiwe pars om wyn te maak, asook sy koring saai, oes en dors.
Dieselfde 'slawe' wat die wingerdstokke versorg en die druiwe gepars het, het gedurende die dag gereelde porsies wyn gekry. Hierdie destabiliserende dopstelsel was teen die 18de eeu reeds goed aan die Kaap gevestig.
"The devastating repercussions of this form of labour control through alcohol dependency continues to affect communities into the present".
Tracey Randle, 2017
Leeuwenhof se sier- en marktuine is deur slaaf-gemaakte tuiniers versorg. In 1816 sluit dit die tuiniers Cato en Snap in wat albei van Batavia afkomstig was. Cato was toe reeds 70 jaar oud.
Sommige van die vars produkte uit Leeuwenhof se marktuin is in die stad deur die slaaf-gemaakte smouse genaamd Azor van Madagaskar en Baatjie van Batavia verkoop.
Die wins wat hulle gemaak het, het aan hul 'eienaar' behoort.
In 1816 het Zorn se gesin sewe slaaf-gemaakte 'huisjongens' gehad. Philip, Frederik, William, Carli, Louis, Dam en Patientie, wat al 70 jaar oud was. Hulle was van die Kaap, Batavia en Bengale afkomstig.
Hulle moes huishoudelike werk of persoonlike take vir hul 'eienaar' verrig.
Dié volwasse mans moes die vernedering verduur om 'jong' ('seun') genoem te word.
Teen 1816 het Zorn se groot getal 'slawe' twee manlike kokke van Mauritius genaamd Francois en Apol ingesluit, sowel as twee koetsiers: die plaaslik gebore Siloa en Pieter van Madagaskar.
Zorn het ook hoogs bekwame 'slawe'-vakmanne 'besit'. Ceasar van Madagaskar en Mey van Batavia was messelaars. September van Batavia was 'n skoenmaker.
Hierdie mans het waarskynlik nie net vir Zorn gewerk nie, maar hul dienste is moontlik uitverhuur vir sy wins – 'n algemene gebruik aan die Kaap.
Nadat September in 1818 vrygestel is, het sy skoenmaakvaardighede hom moontlik in staat gestel om sy eie besigheid te begin.
Die ekonomiese voordeel van 'slawe'-arbeid was tot die direkte voordeel van die 'slawe-eienaar'. Dit kom na vore uit die omstandighede waaronder Hendrik Johannes Fehrsen, 'n vroeëre eienaar van Leeuwenhof, ingestem het om sy 'slaaf' die plaaslik gebore Adonis van die Kaap in 1797 aan die 'vry vrou', Roosje van Batavia, oor te dra. Die voorwaardes het bepaal dat Adonis moes aanhou om klere vir Fehrsen se gesin te maak teen geen betaling. Roosje mag nie voordeel uit sy vaardighede getrek of hom verkoop het nie. In plaas daarvan moes sy instem om voorsiening te maak vir die bedrag wat nodig was om sy vryheid na haar dood te koop.
Zorn se gesin het teen 1816 nege 'huisbediendes' gehad wat vir hulle gewerk het. Hulle was Sericus van Mauritius wat al 60 jaar oud was, asook Regina wat maar net 12 jaar oud was, Spasie, Christina, Sara, Doortjie, Marietjie, Diana en Rosina, wat almal plaaslik in slawerny gebore is.
Christina het later gedros.
Dros was een vorm van persoonlike verset teen slawerny. Ander vorms van verset teen slawerny deur slaaf-gemaakte mense het brandstigting en selfs selfdood ingesluit.
Die behandeling van 'slawe'-arbeiders aan die Kaap het baie verskil en is bepaal deur wie hul 'eienaars' was.
Die klere wat deur hul 'eienaars' voorsien is, het die slaaf-gemaakte mense van die Kaap duidelik van vry mense onderskei. Dit is insiggewend dat die manlike 'slawe'-arbeiders nie toegelaat was om skoene te dra nie.
Daar was tot 1823 geen wetlike beheer oor die voedsel wat aan slaaf-gemaakte mense gegee is nie. Sommige besoekers aan die Kaap het geskryf dat baie van die 'slawe' in private besit goed gevoed is en dikwels dieselfde kos as hul 'eienaars' geëet het. Ander is egter so sleg gevoed dat honger hulle daartoe gedryf het om kos vir hulself en hul kinders te steel.
In 1808 skryf 'n Russiese besoeker,
"the slaves in this colony are kept very poorly - they are dressed in rags, even those who serve at the table of their masters".
Daar was weinig verskil tussen die behandeling van slaaf-gemaakte mense en die Khoekhoen, wat by Kaapse koloniste ingeboek en gedwing is om huishoudelike of plaaswerk te doen.
Zorn se vroulike 'slawe' het huiswerk en naaldwerk gedoen, gekook, wasgoed gewas en kinders opgepas.
Dit was 'n algemene gebruik aan die Kaap dat slaaf-gemaakte vroue naby die vuurherd in die kombuis sou slaap. Dit was waarskynlik die geval op Leeuwenhof voordat die 'slawe'-kwartiere' gebou is. Slaaf-gemaakte vroue, wat op hierdie manier afgesonder was, is kwesbaar gemaak vir seksuele uitbuiting.
Alhoewel ons nie die name ken van al die slaaf-gemaakte mense wie se arbeid bygedra het tot die bou van die Leeuwenhof herehuis en die 'slawe'-kwartiere nie, behoort die bydrae van hul arbeid tot hierdie historiese geboue erkenning te geniet.
Daar was vroeër "ou slawe-beddens ingebou in ['n] muur [van die] linker agterste kamer" van die 'slawe'-kwartiere en dit het oorspronklik ook stalle bevat.
Slaaf-gemaakte paartjies en hul kinders kon enige tyd geskei word, aangesien hulle apart van mekaar verkoop kon word. Hierdie traumatiese gebeure het slaaf-gemaakte mense baie emosionele skade berokken omdat hulle nie verseker was van langtermyn verhoudings of stabiele gesinslewens nie.
In Augustus 1825 verkoop Zorn sy slaaf-gemaakte 'huisbediende' met die naam Marietjie aan PL Cloete van Kaapstad. Marietjie van die Kaap het ten minste nege jaar op Leeuwenhof gewoon en vyf van haar kinders is daar gebore. Haar babadogter Christina is ook op Leeuwenhof begrawe. Slegs drie van haar kinders is saam met Marietjie verkoop: die vyfjarige Frans, die driejarige Christiaan en die twee maande oue Frits. Die hartseer wat Marietjie moes ervaar het toe sy haar agtjarige dogter Coba moes agterlaat, is ondenkbaar.
Dwarsdeur die geskiedenis van slawerny aan die Kaap het slaaf-gemaakte mense verhoudings en gesinne gehad. Hierdie gesinsbande was broos en kwesbaar en uitgelewer aan die nukke, grille en besluite van 'slawe-eienaars'. Hierdie bande kon op enige tydstip verbreek word. Slaaf-gemaakte mense is getraumatiseer gelaat terwyl hulle na hul geliefdes gehunker en verlang het.
Slaaf-gemaakte paartjies wat in die Christelike geloof gedoop is, mag eers vanaf 1823 wettiglik getrou het. Paartjies wat die Islam-geloof beoefen het, het egter waardigheid gevind in Moslem-huweliksplegtighede, hoewel hul huwelike dan nie deur die wet erken is nie.
In Desember 1799 staan Zorn en Cornelia Theron, weduwee van die vorige eienaar van Leeuwenhof, Johan Michiel Elser, borg vir 'n Kaapse gebore 'slawe'-gesin. Hulle was 'die vrygestelde slaaf Jacob', sy metgesel, die 'vrye vrou' Victoria, en haar kind Hendrik. Hierdie voormalige 'slawe'-gesin moes belowe dat almal saam gedoop sou word, hul geen finansiële ondersteuning sou vra of 'n las vir die Kaapse owerhede sou word vir 'n tydperk van 20 jaar nie.
Slaaf-gemaakte vroue se liggame het aan hul 'eienaars' behoort, al het hulle lewensmaats en kinders gehad.
Slaaf-gemaakte vroue was gedwing om hul 'eienaars' se kinders te borsvoed en hulle te versorg, terwyl hulle die behoeftes en versorging van hul eie kinders onder dwang moes verwaarloos. Daar was ook gevalle waar hul 'meesters' hulle gedwing het om seks te hê met valse beloftes van vryheid vir hulself en hul kinders. Op hierdie en talle ander maniere moes slaaf-gemaakte vroue die risiko loop van geestelike en fisiese mishandeling deur beide hul 'eienaar' se vrou en hul eie lewensmaats. Die sielkundige skade van sulke traumatiese ervarings vir hulself en die oordra van hierdie trauma aan hul kinders en opeenvolgende geslagte is onmeetbaar.
Gedurende die tydperk van slawerny aan die Kaap is daar nie 'n enkele man – slaaf-gemaak of vry − skuldig bevind aan die verkragting van 'n slaaf-gemaakte vrou nie.
Die gevolge van die fisiese en seksuele aanranding van slaaf-gemaakte vroue weerklink tot vandag toe in ons gemeenskappe in die vorm van onaanvaarbare vlakke van geslagsgebaseerde geweld.
Die kinders van slaaf-gemaakte vroue, ook kinders wat deur die 'slawe-eienaar' verwek is, is in slawerny gebore en as die 'eienaar' se 'eiendom' beskou. Indien die 'slawe-eienaar' egter met die slaaf-gemaakte vrou sou trou of die kind wettig sou aanneem, sou die status van haar en haar kinders verander van slaaf-gemaak na vry.
Anders as hul moeders is 'slawe'-kinders se slaaf-gemaakte vaders nie in amptelike dokumente opgeteken nie − nog 'n bewys van die feit dat koloniale amptenare en 'slawe-eienaars' nie die gesinslewe van slaaf-gemaakte mense erken of respekteer het nie.
Twintig slaaf-gemaakte kinders is tussen 1816 en 1833 op die Leeuwenhof-landgoed gebore. Hulle is beskou as die wettige 'eiendom' van Johannes Zorn en later sy weduwee Catharina Christina Scheller. Hulle name was Pierre, Saartjie, Lena, Coba, Adriaan, Christina, Isaac, Albert, Jacob, Frans, Christiaan, Carolina, Ram, Lucrees, Louisa, Elias, Frits, Sara, Thomas en Regina.
William van die Kaap was een van die talle slaaf-gemaakte kinders wat van hul normale kinderjare ontneem is, aangesien hy vanaf tienjarige ouderdom as 'n 'huisjongen' by Leeuwenhof gewerk het.
Sedert die vroeë dae van die nedersetting aan die Kaap tot diep in die 18de eeu was daar huwelike tussen vrygestelde voormalige slaaf-gemaakte vroue en Europese mans. Talle Suid-Afrikaanse stambome sou uit hierdie huwelike voortspruit.
Anna de Koningh is gebore in slawerny in Batavia en het in die tweede helfte van die 17de eeu saam met haar slaaf-gemaakte ma, Angela van Bengale, aan die Kaap aangekom. In 1678 trou Anna met Oloff Bergh, 'n vooraanstaande VOC-amptenaar. Ironies genoeg het Anna self 'n 'slawe-eienaar' geword en ten tyde van haar dood het sy volgens rekords 27 'slawe' 'besit'.
Johanne Magdalena Bergh, dogter van Anna en Olof is getroud met Daniel Godfried Carnspeck wat Leeuwenhof vanaf 1740 besit het.
Hierdie dogter van 'n voormalige slaaf-gemaakte vrou het ná haar man se dood vir twintig jaar op Leeuwenhof geboer.
Anna het deur haar dogter Johanna Magdalena en haar elf ander kinders een van die land se matriarge geword na wie talle diverse Suid-Afrikaners hul afkoms kan naspoor.
Teen die einde van die 18de eeu het ekonomiese faktore, humanitêre veldtogte, godsdienstige debatte wat die moraliteit van slawerny bevraagteken het en toenemende weerstand deur slaaf-gemaakte mense die dryfvere geword vir internasionale pogings om slawerny te beëindig.
Sedert die 1760's het verskillende Britse menseregte-aktiviste, humanitêre en godsdienstige leiers 'n lang, moeilike stryd gevoer om slawerny te beëindig. Kampvegters vir slawerny het 'n vals beeld geskep van gelukkige en goed behandelde slaaf-gemaakte arbeiders en 'bediendes'. Volgens hulle was die winsgewende mensehandel noodsaaklik vir die Britse ekonomie.
Die ywer van die afskaffers van slawerny het 'n sterker sentiment teen slawerny in Brittanje laat ontwikkel. Voormalige slaaf-gemaakte Afrikane soos Olaudah Equiano, wat in Brittanje gewoon het, het die onmenslikheid en gruwels van slawerny beklemtoon deur hul eie ervarings daarvan te deel. Ander afskaffers het aangevoer dat die slawehandel nie meer ekonomies sin maak nie en minder winsgewend geword het as voorheen.
Uiteindelik het openbare steun in Brittanje vir die afskaffing van slawerny so sterk geword dat dit nie meer geïgnoreer kon word nie en in 1807 het die Britse parlement uiteindelik 'n wet ingestel vir die afskaffing van die slawehandel.
Hierdie wet het nie slawerny beëindig nie − slegs slawehandel. Slaaf-gemaakte mense was steeds nie vry nie en 'slawe-eienaars' het steeds die ekonomiese voordele van slawerny geniet. Onwettige slawehandel sou ook nog dekades lank voortgeduur.
Teen 1807 was die Kaap deel van die Britse Ryk en dus beïnvloed deur besluite wat in Londen geneem is. Die Britse verbod op slawehandel het beteken dat geen slaaf-gemaakte mense meer wettiglik na die Kaap gestuur kon word nie. Diegene wat reeds hier 'slawe' was en hul pasgebore kinders het egter die 'eiendom' van hul 'eienaars' gebly en kon steeds verkoop word.
Gedurende die volgende paar jaar het Brittanje meer wette ingestel om die lewens van die Kaap se slaaf-gemaaktes te verbeter (verbeteringswette) en die omstandighede het vir sommige verbeter.
Sommige 'slawe-eienaars' het hierdie hervormings en wette vir die beskerming van die slaaf-gemaaktes geïgnoreer en voortgegaan om hul 'slawe' te mishandel. Alhoewel sommige slaaf-gemaakte mense wettige klagtes oor hul 'eienaars' se optrede aanhangig gemaak het, kon baie mense nie hul mishandeling aan die Beskermheer en Bewaarder van Slawe (wat deur die koloniale regering aangestel is) rapporteer nie.
Slawerny aan die Kaap was beëindig weens 'n besluit van buite eerder as interne invloed. Daar was min steun van plaaslike 'slawe-eienaars' vir die afskaffing van slawerny. In plaas daarvan het hulle maatreëls vir die verbetering van slaaf-gemaakte mense se lewensomstandighede en hul vrystelling ten sterkste teengestaan.
Die afskaffers van slawerny het hulle onverpoos beywer vir die beëindiging van slawerny, terwyl die verset, rebellies en opstande deur slaaf-gemaaktes toegeneem het.
Sommige Britse beleidmakers was voorstanders van menseregte wat deur die Verligting en revolusies vir fundamentele regte en vryhede geïnspireer is. Ander was oortuig dat slawerny binnekort minder winsgewend sou word weens die verwagte agteruitgang van die plantasiestelsel. 'n Kombinasie van hierdie faktore het uiteindelik gelei tot wetgewende verandering om die eeue oue gebruik van slawerny te beëindig.
Slawerny het uiteindelik onwettig geword toe die Wet op die Afskaffing van Slawerny in 1833 deur die Britse parlement goedgekeur is. Op 1 Desember 1834 is plaaslike slaaf-gemaakte mense vrygestel van slawerny. Hulle moes egter 'n 'vakleerlingskap' (slegs in naam) van vier jaar voltooi. Dit het die belange van slawe-eienaars beskerm eerder as dié van hul 'bevryde' werkers wie se slawerny prakties tot 1838 verleng is.
Vir sommige slaaf-gemaakte mense, soos November van die Kaap, 'n 'slawe'-arbeider van Leeuwenhof, was vrystelling net te laat. Hy is op 63-jarige ouderdom slegs vier maande voor vrystelling oorlede.
Na hul vrystelling moes die voormalige slaaf-gemaakte mense van Leeuwenhof vol hoop gewees het vir 'n beter toekoms. Na afloop van hul 'vakleerlingskap' is die meeste van die voormalige Kaapse 'slawe' egter in uiterste armoede vrygelaat.
Alhoewel die 'slawe-eienaars' vergoeding van Brittanje ontvang het, het geen van die voormalige slaaf-gemaakte mense ondersteuning gekry om hul 'nuwe' lewens te begin nie. Hulle het dus eintlik min ander keuses gehad as om na sendingstasies te verhuis of aan te hou werk as loonarbeiders in soortgelyke omstandighede as voorheen.
"…after [emancipation] we would hire ourselves to a good ['master']; and that's where it was good to be free".
Manisa of the Cape, 1914.
Talle voormalige slaaf-gemaakte vroue het van plek tot plek geloop om hul kinders en ander gesinslede wat elders verkoop is, te vind. Sommige gesinne was gelukkig genoeg om met hul geliefdes herenig te word, maar baie was nie.
Sommige van die voormalige slaaf-gemaakte mense en hul nageslag sou hul lewens daaraan wy om hul gemeenskappe en die behoeftiges van Kaapstad te help. Anna 'Suster Nannie' Thembo (soms Tempo) was die dogter van voormalige slaaf-gemaakte ouers van Mosambiek. Anna het sedert 1914 Kaapstad se gestrande en behoeftige vroue en meisies gehelp. Later het sy die 'Sister Nannie Rescue Home for Homeless and Friendless Girls' gestig. Hier is hulle van skuiling voorsien en het hul wasgoed ingeneem om uitgawes te dek terwyl hulle werk as 'huisbediendes' gesoek het. 'Nannie-huis' was 'n baken van hoop in die middestad vir talle totdat die tehuis in 1960 na Athlone moes skuif.
Daar was wel sosiale klasse onder die voormalige slaaf-gemaakte mense. Vakmanne het 'n groter kans gehad om beter omstandighede vir hulself en hul gesinne te skep. Mans wat kon messel, skoene, klere en meubels maak of skrynwerk doen het na kothuise in die stad verhuis om hul eie besighede te begin. Baie het welvarend geword, maar dekades later sou hul gesinne weer uitmekaar geskeur word deur die gedwonge verskuiwings tydens apartheid.
Daar was 'n reuse maatskaplike gaping aan die Kaap tussen slaaf-gemaakte en vry mense. Dit het beteken dat die besonderhede van die lewens van slaaf-gemaakte mense selde opgeteken is omdat dit van min belang was vir die meerderheid koloniale amptenare en ander vry mense. Daar het na hul vrystelling min in hierdie opsig verander. Ons weet dus nie tans wat van die voormalige 'slawe' van Leeuwenhof geword het nie. In die toekoms sal ons dalk meer oor hulle te wete kom vanuit verhale wat deur hul nasate oorgedra word, of uit ander navorsing.