“Bruin Droomstad” – Die storie van Atlantis

Foto: African News Agency/ANA.

Kaart: Atlantis Omvangstudieverslag: Stad Kaapstad Veilige Stede Program

Atlantis – die uitkoms van die ruimtelike beplanning van apartheid

Atlantis is in die vroeë 1970’s ontwikkel as “model industriële nodus” binne die raamwerk van die ruimtelike ontwikkelingsbeleide van apartheid.  Hierdie beleide is ontwerp om Suid-Afrikaners fisies volgens rassegroepe van mekaar te skei en te verdeel. 

Atlantis is ontwikkel vir mense wat as “bruin” geklassifiseer is volgens apartheidswetgewing en was 45 km noord van Kaapstad, ver van die stadskern waar die meeste van die werke daardie tyd was, geleë.


Die groot, bewegende sandduine naby die voorgestelde ontwikkeling van Atlantis. Foto: African News Agency/ANA.

Stad in die sand

Voor 1973 is hierdie gebied gekenmerk deur sandduine en nie veel anders nie.

Mense is huisvesting en werksgeleenthede beloof om hulle na hierdie nuwe dorp te lok.   

Mense wat as “bruin” geklassifiseer is en uit verskillende gebiede van Kaapstad tydens die gedwonge verskuiwings moes trek, of wat wou ontsnap van die oorbevolkte omstandighede in die gebiede waar hulle gewoon het, het na Atlantis gekom met die hoop om hier ’n beter lewe te kom lei.


Eerste huise in Atlantis gebou, met Kaapstad ver weg in die agtergrond. Foto: African News Agency/ANA.

Altantis – “ver van die Kaap”

Die bevolking van Atlantis het gegroei van 0 in 1973 tot 30 000 in die 80's en tot net meer as 67 000 in 2011 (jongste sensusstatistiek).

’n Belangrike faktor vir diegene wat na Atlantis getrek het, was die dorp se algehele afsondering van die res van Kaapstad.

“Ek het nou ‘n huis gekry in Atlantis en dit is baie ver. Ek wil nie soontoe trek nie want dit is ver van my mense en werk. Wat kan ek maak.  Ek moet gaan vir ‘n dak, dis al hoop vir my. Ek wil weet hoekom hul ‘n township so ver van die Kaap gebou het.” 

C Samuels, Grassroots, Oktober 1980. 


Naamborde wat die name verskaf van maatskappye wat sakebelange in Atlantis het gedurende die ontwikkeling van die stad. Foto: Wes-Kaapse Museumdiens.

Ekonomiese ontwikkeling – die beginjare

Die sukses van Atlantis as 'n industriële nodus om werk te verskaf om “bruin” mense na die dorp te lok was afhanklik van grootskaalse ondersteuning van die regering. Die regering het ongeveer R1 500 miljoen in die projek belê.

Die regering het aansporings soos lae-koste lenings vir die aankoop van grond en geboue, ’n vermindering van maatskappybelasting, toelaes vir hervestigingskoste, afslae op treinvervoer en behuising vir personeel aangebied om besighede te lok.


Lugfoto van Atlantis Dieselenjinfabriek. Foto: African News Agency/ANA.

Besighede gelok deur regeringsaansporings

Meer as 100 sakeondernemings het die aansporings gebruik om na Atlantis te verskuif.  Ligte nywerheids- en vervaardigingsbedrywe wat maklik sonder beduidende investering kon skuif het algemeen voorgekom. 

Die grootste werkgewer, Atlantis Diesel Engine (ADE), is in 1979 gestig en meer as 2300 mense het vir hierdie onderneming gewerk.


Fabriekswerkers in Atlantis. Foto: Eric Miller/Africa Media Online.

Stadige industriële ontwikkeling beïnvloed werkskepping

Ondanks die aansporings van die regering was die industriële ontwikkeling baie stadig. Daar was eenvoudig nie genoeg maatskappye om al die mense wat in Atlantis kom werk soek in diens te neem nie.  Dit het gelei tot ' n hoë werkloosheidsyfer.  

Boonop het die 100 fabrieke wat gevestig is, hoofsaaklik werk met laer besoldiging geskep. 

Baie mense moes steeds na Kaapstad pendel vir werk en 'n groot deel van hul salaris aan vervoerkoste afstaan. Daar was op daardie stadium geen treinvervoer en dus was vervoerkoste baie hoog.


Sommige van die eerste huise wat in Atlantis gebou is. Foto: African News Agency/ANA.

Behuising in Atlantis

Mense is nie net werk nie, maar ook behuising in Atlantis belowe.  

Avondale was die eerste van die ses voorstede wat ontwikkel is, gevolg deur Saxonsea, Protea Park, Robinvale, Beacon Hill en Sherwood.

Voor 1980 is huiseienaarskap nie toegelaat nie. In plaas daarvan is woonstelle of semi-losstaande eenhede van die Streeksraad gehuur.  Diegene wat nie die huur kon bekostig nie, is uitgesit en mense wat reeds in Atlantis gewerk het, het voorkeur geniet.  


Stadsraadsbehuising in Atlantis. Foto: Chris Ledochowski/ Africa Media Online

Swak gehalte behuising

Die gehalte van die stadsraadshuise was swak. Die huise is swak ontwerp en die ventilasie was swak. Die mure was soggens nat van kondensasie en muf het ’n groot probleem geword.

Atlantis het ook as die “gogga-dorp” bekend gestaan weens die baie goggas wat in die asstene gebroei het wat gebruik is om die huise te bou.


Betreuring van die gebrek aan dienste “Hier in Atlantis bly ons in die bos” Grassroots koerant, Maart 1982

Gebrek aan geriewe – Atlantis maak you flenters!

Daar was ook ’n gebrek aan geriewe soos kleuterskole, hoër- en laerskole, winkels en gesondheidsorg toe mense aanvanklik na Atlantis getrek het. Dit het die swaarkry van mense wat na die dorp “in die bos” verhuis het net nog erger gemaak.

Teen 1980 het Atlantis slegs 'n klein aantal winkels en kommersiële ondernemings gehad. Behalwe huise en fabrieke was daar geen banke, poskantore, supermarkte of bakkerye nie. Inwoners moes hul pos in Mamre, vyf kilometer van Atlantis, afhaal.


Witsand informele nedersetting. Foto: Peter Chadwick/Africa Media Online

Witsand informele nedersetting

Die toestroming van swart trekarbeiders, hoofsaaklik vanuit die Oos-Kaap, het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die informele nedersetting Witsand aan die buitewyke van die ooste van Atlantis. Die eerste wonings is in die 1980's opgerig.

Weens apartheidswetgewing kon slegs mense wat as “bruin” geklassifiseer is in Atlantis woon. Tot en met 1990 kon swartmense nie in Atlantis woon nie. Hulle is slegs toegelaat om daar te werk. Fabriekeienaars is ook die reg geweier om aansoek te doen dat hulle op die fabrieksperseel kan bly.

Met verloop van tyd het mense wat toegelaat is om in Atlantis te bly maar nie die huur kon bekostig nie na Witsand getrek.


Leë fabriek in Atlantis in 1987. Foto: Chris Ledochowski/Africa Media Online

Atlantis in die 80’s…groter ekonomiese probleme

Die situasie in Atlantis het in die 1980's vererger weens die wêreldwye ekonomiese krisisse. Internasionale sanksies om druk op die Suid-Afrikaanse regering uit te oefen om apartheid te beëindig het ook daartoe gelei dat verskeie internasionale maatskappye en beleggers die land verlaat het.

Die laaste strooi was toe die regeringsaansporingskemas vir besighede in Atlantis in 1989 gestop is. Atlantic Diesel Engine, een van die oorspronklike en grootste werkgewers, het toegemaak.

Meer as 'n derde van die vervaardigingsgeleenthede wat gegenereer is, het verlore gegaan.


Die afgelegde Charmaine van Wyk, op die voorgrond, staan by ’n vriend op die trappe van hul Atlantis raadsblok: "Indien jy nie kan werk kry nie, hoe kan jy huur betaal?", 1985. Foto: African News Agency/ANA.

Swaarkry en lyding

Hoë werkloosheidsyfers en toenemende armoede het daartoe gelei dat baie gesinne uitsettings in die gesig gestaar het.


Gesinne staar uitsettings in die gesig in Atlantis, Grassroots koerant, Desember 1985.

Die inwoners praat…

“Jy sien elke dag nuwe mense wat werk soek. Daar is baie ander wat moed opgegee het. Hulle gaan nie meer uit om werk te soek nie, want daar is net eenvoudig nie werk nie.”

- Noel Williams, Voorsitter van Atlantis Inwonersvereniging

“Nie een van ons het gevra om hier te kom woon nie. Ek bly hier vir nege jaar. Die boere het ons belas met probleme. Ek kan nie meer snags slaap nie. As ons uitgesit word, waar gaan ons met ons kinders? Die tyd het angebreek dat ons moet saamstaan. In die woorde van Nelson Mandela: “Ons moet vir ons regte veg.”

- Charles Neelse

(Uit Grassroots koerant, April 1985)


Stigting van die Atlantis Behuisingsaksiekomitee, Grassroots koerant, Maart 1982.

Die Atlantis Inwonersvereniging gaan oor tot aksie, Grassroots koerant, Maart 1985.

Die mense van Atlantis verenig en mobiliseer mekaar

“Ons moet een woord praat en een pad stap”

– Inwoner van Atlantis

Daar was ’n dringende behoefte aan sterk en doeltreffende organisasie om die verskeie probleme van die Atlantis-gemeenskap, insluitend bustariefverhogings, die dreigement van uitsettings, hoë kospryse en werkloosheid, te takel.

Dit het gelei tot die stigting van gemeenskapsorganisasies soos die Atlantis Inwoners Behuisingsaksiekomitee, die Atlantis Inwonersvereniging en die Atlantis Vroueorganisasie in die 80's.


Mense wat in Atlantis gewerk het, is minder betaal as diegene wat dieselfde werk in Kaapstad gedoen het, Grassroots koerant, Junie 1981.

Labour unions in Atlantis

Soos wat die geval regoor Suid-Afrika was, was die vakbonde in Atlantis ook betrokke by die stryd teen armoede en die ongeregtighede van die apartheidswetgewing.

Die vakbonde het veral aandag geskenk aan die laer lone wat werkers in Atlantis in vergelyking met die werkers in Kaapstad ontvang het. Toe hulle uitgevind het van die aansporings wat maatskappye in Atlantis ontvang het, het hulle daarop aangedring dat hierdie aansporings weerspieël word in ’n soortgelyke verhoging van lone vir werkers.


Foto: Wes-Kaapse Museumdiens.

Atlantis in die 1990’s en in die 20ste eeu in

Werkloosheid het ’n hoogtepunt van ongeveer 40 persent in 1992 bereik. Die omstandighede het nie na die eerste demokratiese verkiesings wat in 1994 gehou is verander nie. Lewensomstandighede het, om die waarheid te sê, aanhou versleg. Die wêreldwye ekonomiese krisis van 2008-2009 het gelei tot 'n tweede golf van ekonomiese probleme. Binne ’n tydperk van 18 maande het 10 fabrieke toegemaak en een het verskuif.


Foto: African News Agency

Atlantis vandag – geweldige potensiaal, maar ’n stad wat geteister word deur misdaad en bende-aktiwiteite

Atlantis het vandag ’n winkelsentrum, aktiewe entrepreneuriese aktiwiteit, vervoerinfrastruktuur en vier hoërskole wat verskeie talentvolle individue oor die jare heen opgelewer het. Sy grootste bate is steeds sy passievolle en toegewyde mense. 

Die nalatenskap van armoede en werkloosheid het Atlantis egter berug gemaak vir sy hoë vlakke van misdaad en bende-aktiwiteite.

“Die verlore stad Atlantis – soveel geure, soveel talent, soveel persoonlikhede, soveel potensiaal, maar slegs bekend vir misdaad.”

Monique Hanson, joernalis van Atlantis.


Hisense fabriek in Atlantis. Foto: Hisense.

Atlantis – Verlore stad verrys uit die as

Die deursettingsvermoë en passie van die gemeenskap, nuwe staats- en sakebeleggings en beduidende infrastruktuuropgraderings het nietemin hernude hoop vir Atlantis gebring.

In 2013 is daar nuwe lewe geblaas in die industriële gebied wat in die 1970’s ontwikkel is met die vestiging van nuwe groot sakeondernemings soos Tellumat Electronic Manufacturing en Hisense elektronika fabrieke.

“Vir die mense van Atlantis bring hierdie fabriek hoop dat die las van armoede en werkloosheid wat die mense in hierdie gebied jare lank geteister het, omgekeer kan word.”

Ebrahim Patel, Minister van Ekonomiese Ontwikkeling tydens die amptelike opening van Hisense.


Foto: Wes-Kaapse Regering.

Die toekoms van Atlantis lyk rooskleurig – en groen

President Cyril Ramaphosa het in Desember 2018 amptelik die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone (SEZ) vir Groen Tegnologieë bekendgestel. 

Hierdie sone word gebruik vir die vervaardiging en verskaffing van dienste in die groen tegnologie mileu. Windturbines, sonpanele, biobrandstof, elektriese voertuie, materiaalherwinning en groen boumateriaal is voorbeelde van inisiatiewe wat moontlik in die toekoms hier ’n plek kan vind. 

Na verwagting sal dit R3,7 biljoen se beleggings oor die volgende 20 jaar lok.


Image: Western Cape Museum Service.

Stemme uit Atlantis …

Ons het ‘n paar van die inwoners van Atlantis uitgevra oor hulle opinies oor en verwagtings van Atlantis.

“As deel van die jonger geslag is ek trots om deel te wees van Atlantis. Ek glo daar is 'n groot potensiaal vir groei en uitbreiding ... Die positiefste wat tans in Atlantis gebeur, is dat individue standpunt inneem om veranderinge binne Atlantis teweeg te bring.”

- Elfino, 23, inwoner van Atlantis en lid van Rotaract.

Image: Atlantis Business Chamber.

“Atlantis is 'n goeie plek en daar gebeur baie positiewe dinge hier, maar dan gebeur daar ook baie slegte dinge soos bende-aktiwiteite, mishandeling, verkragting, moorde ens. 

Gemeenskapsprojekte vind deurgaans plaas en dit is goed vir die gemeenskap. Wat ek graag sou wou verander, is die ingesteldheid van die jongmense, aangesien hulle dink dat bende-aktiwiteite die regte pad is.”

- Melisaa Scheepers, 24, inwoner van Atlantis, werksaam as Skoolbestuurder.

Foto: Wes-Kaapse Museumdiens

“Op die oomblik is die gevoel van gemeenskap groot. Corona het baie mense bymekaargebring. Die ouer garde is 'n krag in ons gemeenskappe aangesien hulle toesien dat baie mense die regte pad loop .... Ons kinders het hierdie pilare in die gemeenskappe nodig, aangesien hulle leiding nodig het.

Daar word 'n paar goeie inisiatiewe uitgevoer, maar dit duur nie altyd voort nie en word nie volgehou nie. Die waarde gaan dus verlore. Ons politici moet meer aktief raak in die daaglikse lewe van ons mense. Dis nie reg dat ons hulle net sien wanneer daar verkiesings is nie.”

- Wayne, 56, entrepreneur en pastoor woonagtig in Atlantis.

Foto: Wes-Kaapse Museumdiens

“Atlantis is die beste plek om in te wees, hoewel ons hier goed en sleg vind, maar ek voel steeds dat ek hier 'n toekoms kan bou en daarna streef om 'n beter mens te word... Ons as gemeenskap staan altyd saam in tye van misdaad.”

- Jenny-Lee Fielies, 22, inwoner van Atlantis.

Foto: Wes-Kaapse Museumdiens

“My hele gesin woon hier, so dit is my tuisdorp en ek is mal daaroor. Ek en my vriende sal probeer om 'n verskil te maak. Ons wil 'n beter lewe hê, so ons praat oor baie dinge wat ons hier wil doen.

Ek en al my vriende hou daarvan om sokker te speel en ons speel oral, maar soms is dit nie veilig hier nie. Ons moet onsself beskerm.”

- Bevan, 16, leerder van Atlantis.

Foto: Wes-Kaapse Museumdiens

“Ek het my lewe en besigheid hier in Atlantis gebou. My 2 kinders woon en werk ook in Atlantis. Ons het 'n gebalanseerde lewe hier, alhoewel ons droom van baie positiewe veranderinge. Ons sal nooit ophou glo dat dinge rondom ons sal verbeter nie, aangesien ons deel kan wees van die verandering.”

- Wayne, 56, entrepreneur en pastoor woonagtig in Atlantis 

“Mense hier gee nie sommer op nie. Hulle probeer dinge uitwerk. Selfs die kinders, hulle kan moeilik wees, maar jy kan sien hulle wil ook beter doen. Die kerke en masjieds en al die ander godsdienste, hulle moet mense meer help, want ons kan nie op die regering staatmaak nie. Die skole is baie goed, hul help met voedingskemas, maar hulle sukkel met geld.”

- Mymoena, 43, Vrugte- en groenteverkoper van Atlantis.

Image: Western Cape Museum Service.

“Vir iemand wat die afgelope 40 jaar in Atlantis bly, voel ek dat die lewe moeilik is weens bendegeweld and werkloosheid. Ek dink Atlantis sal van krag tot krag gaan as ons die gemeenskap betrokke kan kry om die jeug to motiveer om verder te studeer.”

- ico Wagenstroom, 64, lid van die Atlantis Rotariërklub.

Image: Western Cape Museum Service.

“Atlantis is my tuiste vir amper 35 jaar

Ek is mal oor my stad

Ek het baie positiewe goed en groei gesien oor die jare.

Ek het ook die vernietigende gevolge van armoede gesien, maar ook baie goeie mense wat ‘n verskil probeer maak

Ek het jong mense gesien wat nie meer weet watter kant toe nie, maar ek het ook dié gesien wat ten spite van hul omstandighede presteer” 

- Moira Mentoor, 55, onderwyser van Atlantis.


’n Spesiale woord van dank aan die Atlantis Besigheidskamer sonder wie hierdie uitstalling nie moontlik sou gewees het nie.


Verwysings:

Previous
Previous

Kaapstad Gesprekke - Milieu

Next
Next

Gugulethu: 'Ons Trots' herwin