Kaapstad Gesprekke - Milieu
Milieu bied ’n uitstalling van kunswerke uit die Kaapstad Museum se versameling aan met die eerste "gesprek" wat uit die begrip "plek" ontstaan. Waaruit bestaan plek en hoekom is dit betekenisvol; hoe word mense deur hul omgewing en situasies beïnvloed, en hoe omvorm hulle wedersyds hul omgewings?
“Plek” verwys na ’n spesifieke ligging of posisie. “Plek” is persoonlik weens ons uiteenlopende en individuele ervarings daarvan, of dit nou geografies of ’n geestestoestand is, en is gevolglik iets wat ons gebruik om onsself te oriënteer. Kreatiewe betrokkenheid by plek poog dikwels om diskoers tussen ’n omgewing en sy mense te bewerkstellig. In hierdie aanlynuitstalling inspireer Kaapstad dialoog oor die verskillende ervarings wat verband hou met Kaapstad as ’n plek. Dit word visueel aangebied deur die erkenning van plekke van kulturele belang, soos die Bo-Kaap en die traumatiese geskiedenis van Distrik Ses, asook verwysing na die uniekheid en natuurlike grootsheid van die Kaap, soos Tafelberg en die ‘Kaapse Dokter’. Dit beeld ’n verskeidenheid geleefde ervarings uit soos waar ons woon, hoe ons rondbeweeg en hoe ons floreer, uithou, feesvier, of deur ons omgewing uitgedaag word.
Kaapstad Gesprekke – Milieu deel gemeenskaplike geskiedenisse en alledaagse realiteite, en nooi kykers om hul eie ervarings by te dra tot die lewende argief wat deel van die Kaapstad Digitale Uitstalling uitmaak.
Die Bo-Kaap is ’n deel van Kaapstad, voorheen bekend as die “Maleier” Kwartiere. Dit is ’n voormalige rasgesegregeerde gebied wat teen die hange van Vlaeberg bokant die middestad geleë is, en as ’n historiese sentrum van “Kaap-Maleise” kultuur in Kaapstad erken word. Vandag het dit baie van sy karakter te danke aan die aard van sy huishoudelike argitektuur, meestal enkelverdiepinghuise met plat dakke in 'n verskeidenheid helder kleure geverf.
Tony Grogan is ’n spotprenttekenaar, illustreerder en kunstenaar wat in Kaapstad woon. Hy is een van die voorste figure van Suid-Afrikaanse spotprentkuns en die langdienende redaksionele spotprenttekenaar van die Cape Times waarby hy in 1974 aangesluit het. Grogan het die Suid-Afrikaanse geskiedenis opgeteken en het volwasse- sowel as kinderboeke geïllustreer. Sy tekeninge en skilderye is ook uitgestal en word in verskeie private en korporatiewe versamelings verteenwoordig.
Die gebied bekend as Distrik Ses, was die tuiste van ’n gemeenskap verteenwoordigend van diversiteit ten opsigte van taal, godsdiens, ekonomiese klas en geografiese gebied van herkoms. Dit het bestaan uit ’n lewendige gemeenskap van die voormalige slaafgemaakte mense, handelaars, ambagsmanne, arbeiders en immigrante met noue bande met die stad en die hawe. Onder die apartheidsregering is Distrik Ses ingevolge die Groepsgebiedewet van 1950 op 11 Februarie 1966 tot ’n “wit groepsgebied” verklaar, en teen 1982 is die maatskaplike weefsel van die gemeenskap vernietig. Meer as 60 000 mense is met geweld na dorre, afgeleë gebiede bekend as die Kaapse Vlakte verwyder en hul huise in Distrik Ses is deur stootskrapers platgetrek.
Tyrone Errol Appollis is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, musikant en digter. Hy het kuns aan die Foundation School of Art in Observatory studeer, en onder Cecil Skotnes by die Gemeenskapskunsprojek van 1982 tot 1986 betrokke geraak. Appollis het aan talle plaaslike en internasionale uitstallings deelgeneem en sy werk word in beide private en openbare versamelings gehou. Sy kleurvolle kunswerke weerspieël die veranderende tye in Suid-Afrika tydens die bevrydingstryd. Appollis se werk word geïnspireer deur die idee van kuns as kruiskulturele dialoog en die oortuiging dat kuns politieke en maatskaplike versoening kan bevorder.
Peter Clarke was bewus van die dramatiese gebeure wat tydens die periode van politieke verandering rondom hom afgespeel het, en het hierdie bewustheid vergelyk daarmee om “veraf donderweer te hoor” wat “dreunings meebring wat nie geïgnoreer kan word nie”. Clarke se bewustheid van die situasie blyk selfs in sy meer subtiele, peinsende werke soos die etswerk “Silence” waarin ‘n atmosfeer van isolasie heers. “Silence” herinner ook aan Clarke se ikoniese drieluik “Haunted House” (1976) uit dieselfde tydperk, wat as ’n landskap van die gees beskou kan word, waar stiltes die afwesigheid verteenwoordig in stories wat mense vertel, veral rondom pynlike ervarings.
Peter Clarke is in Simonstad gebore waar hy vanaf 1944 in die dokke gewerk het. Hy het besluit om ’n voltydse kunstenaar te word na ’n besoek aan Tesselaarsdal in 1956. Hy het in 1961 etswerk aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kuns aan die Universiteit van Kaapstad studeer. Hy het ’n spesiale permit gehad om as ’n persoon van kleur aan ’n inrigting wat vir witmense gereserveer is, te studeer. Clarke het sy studies aan die Rijksakademie van Beeldende Kunsten van 1962-1963 voortgesit en in 1978 ’n kursus in drukkuns by die Atelier Nord in Oslo voltooi. In 1967 is Clarke en sy gesin onder die Groepsgebiedewet van 1950 met geweld na die Ocean View informele nedersetting verskuif, waar hy ’n kunswerkswinkel vir minderbevoorregte kinders bedryf het. Hy was ’n produktiewe kunstenaar en het gedurende ’n loopbaan wat oor meer as ses dekades strek, onvermoeid as kunstenaar, digter en skrywer in 'n breë spektrum van media gewerk – skilder, drukwerk, teken, collage, en sy kenmerkende handgemaakte kunstenaarsboeke. Clarke se werk handel oor onderdrukking, armoede en onteiening, maar die indringende maatskaplike kommentaar word deur die oorheersende gevoel van die viering van oorwinning getemper.
Die White Monday Disaster
Dertien episodes oor ’n man (Wolraad Woltemade) en sy geleende perd uit die geskiedenis van die Kaap in 1773, gebaseer op die ooggetuieverslag van Charles Peter Thunberg, ’n Sweedse natuurkenner en chirurg vir die Vereenigde Oostindische Compagnie. Woltemade was ’n Kaaps-Hollandse melkboer wat op 1 Junie 1773 gesterf het terwyl hy matrose uit die wrak van die skip De Jonge Thomas in Tafelbaai gered het.
Cecil Skotnes was ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat veral bekend was vir sy geverfde en ingesnyde houtpanele, treffende houtblokafdrukke, openbare muurskilderye, tapisserieë en beeldhouwerk. Hy was ook bekend vir die baanbrekerswerk wat hy verrig het vir die bevordering van ’n manier om kuns te vervaardig wat natuurlike pigmente en inheemse hout gebruik het om visuele stories oor die geskiedenis van Afrika uit te beeld. Hy was die kultuurbeampte by die Pollystraat-kunssentrum en ewe bekend as onderwyser, mentor en kunstenaar. Sy lewenslange missie was om talent te koester en kreatiwiteit aan te moedig, veral op plekke waar die apartheidsregering hierdie moontlikheid doelbewus uitgesluit het. Hy het ’n goue medalje van die Staatspresident ontvang vir diens in die land en vir sy bydrae tot die derassifisering van Suid-Afrikaanse kuns.
Die Baai van Storms of Tafelbaai (later herdoop tot die Kaap van Goeie Hoop) aan die suidelike punt van die Kaapse Skiereiland, is blykbaar deur die Portugese seevaarder, Bartolomeu Dias in 1488 op sy terugreis na Portugal benoem, nadat hy vasgestel het wat die suidelike grense van die Afrika-vasteland is. Die Kaap is bekend vir sy stormagtige weer en onstuimige see en is geleë by die samevloeiing van die warm Mosambiek-Agulhas-seestroom vanaf die Indiese Oseaan en die Benguela-seestroom vanaf die Antarktiese waters.
Braam Kruger het sy studies in grafiese ontwerp in 1975 voltooi. Later in sy lewe was hy ook bekend as ’n sjef, kosskrywer en restaurateur. Hy is vir die 100 Vita Art Now-uitstalling gekies en sy werk het deel van die Kaapstad Driejaarlikse uitstallings gevorm. Kruger was ’n voormalige student van litografie aan die Frans Masereel se Centrum voor Grafiek in België. Sy etse spreek van ’n uiters bekwame tekenaar. Alhoewel hy kuns in verskeie media geskep het, sal Kruger onthou word vir sy skilderye wat deur ’n verskeidenheid style gekenmerk is, vanaf fantasie gelaaide pop, tot romanties ekspressionistiese werk en die eenvoudige “kitsch”.
Tafelberg is ’n plat berg wat ’n ikoniese landmerk vorm wat oor die stad Kaapstad uitkyk, maar dien as meer as net ’n toeriste-aantreklikheid. Vir baie simboliseer dit Kaapstad en baie inheemse verhale, die voorheen slaafgemaakte mense aan die Kaap, sowel as hedendaagse gemeenskappe wat hul lewens teen die agtergrond van die berghange leef.
Lyn Smuts het in die Vrystaat grootgeword waar die oop ruimte en lug haar beïnvloed het. Sy het in 1972 aan die Michaelis Skool vir Beeldende Kuns van die Universiteit van Kaapstad gegradueer, gevolg deur ’n BA Honneurs aan die Universiteit van Natal, Pietermaritzburg in 1973. Sy het in 1976 ’n nagraadse student aan die Academie voor Schone Kunsten in Gent geword. Smuts was sedertdien betrokke by verskeie kunsaktiwiteite, insluitend onderrig, die bestuur van ’n gemeenskapskunsprogram, die aanbieding van werkswinkels en wegbreekseminare en werk saam met ander kunstenaars. Sy is aangetrokke tot etswerk wat gekenmerk word deur tasbaarheid en die krag van uitdrukking wat die digte lae bied. Tydens die politieke spanning van die 1980’s en 1990’s het haar werk ’n besorgdheid oor die menslike toestand weerspieël. Na 1994 het sy weer op die natuur begin fokus en tekeninge in situ gemaak wat in drukwerktegnieke omgeskakel is. Smuts ondersoek tans die visualisering van klank met ’n spesiale belangstelling in natuurstrukture.
“Kaapse Dokter” is die plaaslike naam vir ’n sterk, dikwels aanhoudende en droë suidoostewind wat berug daarvoor is dat dit in en om die Kaapse Skiereiland waai. Die naam kom van die plaaslike oortuiging dat dit Kaapstad van besoedeling en siektes skoonmaak.
Solomon Siko se artistieke bewussyn is in die nadraai van die Soweto-opstand in 1976 gevorm. Hy het van 1987 tot 1989 Kuns aan die Gemeenskapskunsprojek in Woodstock, Kaapstad, studeer. Hy stal sedert 1992 by die Cape Gallery uit. Solomon is ’n kranige satirikus en visuele storieverteller en kies beelde vir hul sterk assosiatiewe waardes. In ’n post-koloniale wêreld, verbeeld sy werk soeke na bemagtiging, deelname en ’n stem vir almal.
Die geskiedkundige, Joline Young, het oor die kunswerk besin en opgemerk dat slawerny baie bekwame vissermanne van die Ooste na die Kaap gebring het. Slaafgemaakte mense in kusgebiede was ook bekend daarvoor dat hulle hul skaars diëte deur visvang aangevul het. Na slawerny, het visvang ’n tradisionele beroep geword vir baie afstammelinge van mense wat in die Kaap slawe gemaak is. Hulle het hierdie vaardigheid van een geslag na die volgende oorgedra.
Langdown was ’n grafiese kunstenaar en skilder van landskappe, dorpstonele en figure. Hy het litografieë, houtsneewerk, etse, monotipes, gravures en olieverfskilderye geproduseer. Hy het in Plettenbergbaai, ’n klein vissersdorpie aan die Suidelike kus van Afrika wat sedertdien uitgebrei het tot 'n gewilde kusvakansieoord, grootgeword. Sy pa was ’n voormalige oopsee-walvisjagter. Langdown het aanvanklik privaat studeer onder leiding van Katherine Harries en het ’n beurs van die Cape Three Century Foundation ontvang om sy studies van 1963-1964 aan die Rijks Akademie in Amsterdam voort te sit. In 1988 het Langdown ’n BA-graad aan die Universiteit van Port Elizabeth (die huidige Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit) voltooi en aan verskeie internasionale uitstallings deelgeneem. Sy werke vorm ook deel van verskeie prominente private en institusionele versamelings. Langdown se skilderye toon ’n diep begrip van en simpatie vir die mense en gebeure in die wêreld rondom hom.
Vrye onderneming (“free enterprise”), of die vrye mark, verwys na ’n ekonomie waar pryse, produkte en dienste deur die mark eerder as die regering bepaal word. Besighede en dienste is vry van regeringsbeheer. Alternatiewelik kan vrye onderneming na ’n ideologiese of regstelsel verwys waarvolgens kommersiële aktiwiteite hoofsaaklik deur private maatreëls gereguleer word. In hierdie kunswerk beeld Mgijima informele handel uit, ’n vorm van private onderneming wat buite die formele ekonomiese stelsel plaasvind.
Vuyisani Mgijima se kuns is deurdrenk met herinneringe aan plattelandse kinderjare, wat sterk kontrasteer met die daaglikse oorlewingstryd wat hy in die township van Mitchell's Plain in die Kaapse Vlakte ervaar het. Mgijima is tydens Winter- en Somerskoolprogramme aan die Universiteit van Fort Hare in Alice aan kuns bekendgestel. Hy het in 1988 by die belangrikste Gemeenskapskunsprojek in Distrik Ses aangesluit en aan die einde van sy eerste jaar borgskap ontvang om verder aan die Foundation School of Fine Art in Observatory te studeer.
Soos wat die geval met Mgijima se werk "Free Enterprise" is, beeld Willie Bester se “Mobile Shop” informele handel in ’n township uit. Volgens Stats SA 2021 word 17,8% van die land se indiensneming uit die informele sektor gegenereer, wat oorwegend handelsgeoriënteerd is.
Willie Bester is in Montagu in die Wes-Kaap gebore en het hom tydens sy kinderjare besig gehou met die produsering van kuns uit die materiaal wat hy in sy omgewing gevind het. Bester skep metaalbeeldhouwerke met behulp van maklik bekombare optelgoed, soos weggegooide motoronderdele en gereedskap wat sy kunswerke (veral sy beeldhouwerke) ’n “steampunk”-estetika gee (‘n styl van ontwerp wat historiese gegewens met anachronistiese tegnologie kombineer). Bester se gebruik van alledaagse voorwerpe sou deurgaans ‘n belangrike deel van sy kenmerkende styl bly, waarvoor hy reeds vir die afgelope drie dekades as een van Suid-Afrika se mees herkenbare en veelsydige weerstandskunstenaars herken word. Sy keuse van onderwerpe is deur die ongeregtighede van apartheid geïnspireer, en die teleurstelling en ontsteltenis wat hy voel in reaksie op korrupsie en maatskaplike mislukkings in die post-apartheid-era.
Peters verklaar dat sy “regte stories vertel, soos wat dit is” van dinge wat in mense se tuistes of elders gebeur. Sy sê: “daar is redes waarom dinge in ons lewens gebeur, ons is nie net hier nie, daar is baie dinge wat in ons lewens uitmekaarval.” Om besittings in ’n trollie saam te karwei, kan in hierdie linosnee moontlik omstandighede van haweloosheid aandui. Volgens die Wes-Kaapse regering se hulpbronne was daar 4862 haweloses in Kaapstad in 2019. ’n Meer onlangse studie wat deur U-Turn, Khulisa Streetscapes en MES in November 2020 vrygestel is, beweer dat die syfer nader aan 14 000 mense is.
As ‘n drukmaker, skilder en musikant, weerspieël Sophie Peters se uitbeeldings haar persoonlike geskiedenis, haar emosionele verbintenisse, en haar verhouding met die plekke en tye waarin sy grootgeword het en steeds leef. Peters is in Johannesburg gebore en het in 1985 na Kaapstad verhuis, vasbeslote om kuns te studeer. Sy het haar opleiding by die Gemeenskapskunsprojek (CAP) in 1987 voltooi. Peters het in 1995 haar eerste solo-uitstalling by die Association of Art in Bellville gehou en het sedertdien aan talle groepuitstallings deelgeneem. Haar werke is in verskeie institusionele versamelings opgeneem en sy het projekte vir onder meer die Robbeneiland-museum voltooi en illustrasies vir kinderboeke geskep.
A Few South Africans is ’n 1980’s reeks wat tydens die apartheidsjare geproduseer is om die geskiedenis van vroue te vier wat ’n rol in die stryd om vryheid gespeel het. Poskaarte wat uit die reeks gedruk is, is destyds wyd versprei. Saak no 6831/21, 1985 is naamloos, want sy was maar een van duisende in dieselfde situasie. “Saak no 6831/21” het geen reg gehad om in Kaapstad onder apartheidsregulasies te woon nie, al was haar man ’n kontrakwerker aan ’n Kaapse maatskappy verbonde. Sy het haar getroude lewe in informele nedersettings deurgebring, voortdurend agtervolg deur amptenare, met voortdurende dreigement van aanhouding en deportasie. Al wat sy wou gehad het, was om as ’n gesin saam met haar man en kinders te woon.
Sue Williamson is in die Verenigde Koninkryk gebore en het in 1948 saam met haar gesin na Suid-Afrika geëmigreer waar sy steeds in Kaapstad woon en werk. Williamson, wat as drukmaker opgelei is, werk ook met installasiekuns, fotografie en die videokuns. In die 1970’s en 1980’s het sy werk gelewer wat maatskaplike verandering tydens apartheid aangespreek het, en het bekend geword vir haar reeks portrette van vroue wat by die land se politieke stryd betrokke was. Williamson se werk verskyn in talle openbare versamelings regoor die wêreld en het verskeie toekennings en genootskappe ontvang.
“At Home” bied ’n blik op die private ruimte en die verhouding tussen huis en self. Die konsep van “huis” of “tuiste” kan ons identiteite kweek, beskerm en uitdaag, of dien as die bewaarplek van ons persoonlike onsekerhede. Die “self” by die huis word ‘n metafoor om ons verhouding tot die ruimtes waarbinne ons verkeer, te verken.
Hardy Botha is bekend vir sy satiriese kommentaar op Suid-Afrika se apartheidsverlede. Hy het ’n diploma in Beeldende Kunste van die voormalige Oranje Vrystaat Tegniese Kollege ontvang. Hy het sy eerste solo-uitstalling in 1973 gehou en van 1979-1980 verder studeer aan die Michaelis Skool vir die Kunste. Botha het in 1987 die Dakar Dialogue bygewoon, ’n geskiedkundige konferensie tussen lede van die Instituut vir Demokratiese Alternatiewe in Suid-Afrika (IDASA) en die African National Congress (ANC). In dieselfde jaar het hy saam met Jan Visser die Dal Josaphat Kunsstigting in die Paarl gestig. Botha het tot 1991 aan die Universiteit van Stellenbosch doseer.
’n Vernissage (van Frans, wat oorspronklik “vernis” beteken) is ’n term wat gebruik word vir ’n voorskou van ’n kunsuitstalling, wat privaat kan wees en voor die formele opening plaasvind. In die konteks van Podlashuc se kommentaar kan dit ook beskou word as ’n verwysing na hoe die kunswêreld van hierdie tydperk instrumenteel was in praktyke van uitsluiting.
Marianne Podlashuc is in 1932 in Holland gebore, waar sy deur die Nazi-besetting van Nederland tydens die Tweede Wêreldoorlog geleef het. Nadat sy in 1952 vanaf Delft na Suid-Afrika geëmigreer het, het sy haar as praktiserende kunstenaar in Bloemfontein gevestig. Vyf jaar later trou sy met die Suid-Afrikaanse kunstenaar Alexander Podlashuc saam met wie sy die Bloemfontein-groep van kunstenaars in 1958 gestig het. Die lyding wat sy in haar vormingsjare moes verduur, het ’n impak op haar as 'n deernisvolle mens gehad, maar ook as ’n kunstenaar wie se werk ’n weerspieëling van ’n diepgaande bewustheid van sosiale ongelykhede was. Hierdie bewussyn word veral weerspieël in Podlashuc se Suid-Afrikaanse werk van die 1950’s en 1960s. Esmé Berman beskryf die gestileerde beeld as ’n kragtige manifestasie van Podlashuc se reaksie op die realiteite van minderbevoorregte plaaslike gemeenskappe.
Die teenstrydigheid in ons verhouding met beide die ongenaakbare en manjifieke Suid-Afrikaanse omgewing, word met ’n rustige interieur soos Podlashuc se balkontoneel in sy koel kleure, gebalanseer. Balkonne kan vergelyk word met idees van binne en buite wees, areas van bymekaarkom en herinneringe skep, plekke van verwagting en afwagting, of bloot ’n plek om die uitsig te geniet en om oor die wêreld wat verbygaan te besin.
Alexander Podlashuc is in 1930 in Pretoria in ’n Russiese emigrantfamilie gebore. 'Pod”, soos hy by sy familie, vriende en studente bekend gestaan het, was ’n uitstekende grafiese kunstenaar, skilder en kunsopvoeder. Sy formele artistieke opleiding het by die Michaelis Skool vir Beeldende Kuns aan die Universiteit van Kaapstad begin toe hy net 16 was. Podlashuc se kritiese en ietwat rebelse aard, sowel as sy belangstelling in moderne kuns, het daartoe gelei dat hy met sy mentors gebots het en hy is uit die skool geskors. Sy lewe het afsonderlike loopbane in Pretoria, Bloemfontein, Port Elizabeth en Kaapstad ingesluit.
As deel van die Stad se infrastruktuur, word ekonomiese en maatskaplike aktiwiteite deur openbare vervoer moontlik gemaak waarvan die doeltreffendheid en bekostigbaarheid daarvan uiters belangrik is. Metrorail-treine wat pendelaars in Kaapstad bedien, is al lank daarvoor bekend dat hulle oorvol is. Treinstasies en infrastruktuur is gevandaliseer, wat ’n onbetroubare diens tot gevolg gehad het. Tydens Covid-19 het die situasie vererger. Volgens die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (PRASA) loop 5 uit 12 treine wat in 2019 deur Metrorail bedryf is nie meer nie. Die sentrale lyn, die besigste spoorlyn in die Stad wat sommige van die armste gebiede bedien, loop nie meer nie.
Tyrone Errol Appollis is ’n Suid-Afrikaanse kunstenaar, musikant en digter. Hy het kuns aan die Foundation School of Art in Observatory en by die Gemeenskapskunsprojek van 1982 tot 1987 onder Cecil Skotnes studeer. Appollis het aan talle plaaslike en internasionale uitstallings deelgeneem en sy werk word in beide private en openbare versamelings gehou. Sy kleurvolle kunswerke weerspieël die veranderende tye in Suid-Afrika tydens die bevrydingstryd. Appollis se werk word geïnspireer deur die idee van kuns as kruiskulturele dialoog en die oortuiging dat kuns politieke en maatskaplike versoening kan bevorder.
Siko is bekend vir sy sketse van die wêreld om hom, en sy lewendige skilderye is die teater vir ’n verbeeldingryke uitbeelding van die straatlewe in die Kaap.
Solomon Siko se artistieke bewussyn is in die nadraai van die Soweto-opstand in 1976 gevorm. Hy het Kuns aan die Gemeenskapskunsprojek in Woodstock in Kaapstad van 1987 tot 1989 studeer, en stal sedert 1992 by die Cape Gallery uit. Solomon is ’n kranige satirikus en visuele storieverteller wat sy beelde kies weens hul sterk assosiatiewe waardes. In ’n post-koloniale wêreld, verbeeld sy werk soeke na bemagtiging, deelname en ’n stem vir almal.