Mamre Morawiese Sendingstasie – Nasporing van die geskiedenis van die Khoekhoen en voorheen slaafgemaakte mense

Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee

Geskiedenis

Mamre se geskiedenis is ’n verhaal van kolonisering, weerstand en aanpasbaarheid. Die dorp en sy Morawiese Sendingstasie wat behoue gebly het, is vandag daar om die verhaal te vertel van die Khodkhoen wat die eerste inwoners van die gebied was, sowel as die vrygestelde slaafgemaakte mense wat hulle hier kom vestig het op soek na ’n beter lewe.  

Tot vandag toe sluit die inwoners van Mamre afstammelinge van die Khoekheon en eertydse slaafgemaakte mense in.


Foto: Genadendal 18de eeu, onbekende kunstenaar, William Fehr Collection (B8), Iziko Museums van Suid-Afrika

Die Mamre Morawiese Sendingstasie

Die Morawiese Kerk is een van die oudste kerkgenootskappe binne die Protestantse godsdiens en het vroeg in die 18de eeu uit Duitsland na Suid -Afrika gekom. Die Morawiese sendingstasie by Mamre was die tweede een wat in die Kaap gevestig is, waarvan die eerste Genadendal in die Overberg was.


Skets: Korah/Koranna maak gereed om te trek (1831). Samuel Daniell (1775-1811), William Fehr Collection (H10), Iziko Museums van Suid-Afrika

Groenekloof beeste en militêre buitepos

Die plaas waarop die Sendingstasie gestig is, het bekend gestaan as Groenekloof en is later in 1854 herdoop tot Mamre. Die gebied was oorspronklik die tuiste van ' n Khoekhoen-groep, die Cochoqua, wat hul vee op hierdie vrugbare grond laat wei het.

In die vroeë 1700's het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC), aan boere toestemming verleen om hul vee in hierdie gebied te laat wei.

Die Longhouse. Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee

Tussen 1701 en 1791 het die VOC  'n militêre buitepos gestig om konflik tussen die inkomende koloniale boere en die Khoekhoe-inwoners te takel. Die militêre buitepos en die geboue wat daar opgerig is, is “De Kleine Post” genoem.  

Hierdie geboue bestaan vandag nog en vorm deel van die Morawiese Sendingstasie in Mamre. 

Die Long House, wat dateer uit 1697, is deur die VOC as militêre kaserne gebruik. 

Die pastorie. Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee

Die pastorie is ook gebou as deel van die militêre buitepos van die VOC en was die tuiste van Willem van der Stel wat na Groenekloof gekom het om die militêre buitepos te vestig. Dit is die oudste gebou op die sendingstasie met die gewel wat uit 1679 dateer.

Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee.

Die Cookhouse-gebou dateer uit 1700. Dit is 'n kort tydjie gebruik as 'n polisiekantoor en 'n tronk, maar het onlangs as 'n kombuis gedien tydens feestelikhede.


Foto: Sendingnedersetting te Groenekloof, 1818. Latrobe (1758-1836), William Fehr Collection (H70), Iziko Museums van Suid-Afrika

Vestiging van die sendingstasie

In 1791 verlaat die VOC die gebied en in 1808, nadat die Kaap deur Brittanje beset is, is De Kleine Post en die aangrensende plase aan die Morawiese kerk gegee om 'n sendingstasie te stig. Die aangrensende plase het twee ou Khoekhoe-nedersettings, Louwskloof en Krywagenskraal, ingesluit.

Die hoofdoel van die sendingstasie was om die Khoekhoen tot die Christelike geloof te bekeer. Die ligging is dus as uiters gepas deur die koloniale regering beskou, aangesien dit bestaande geboue bevat het wat deur die VOC agtergelaat is en ’n reeds gevestigde Khoekhoen-nedersetting as ’n terrein vir godsdienstige werk.


Foto: Adrian Jonker

Die Khoekhoen by die sendingstasie

Hans Klapmuts, Stamhoof van die Cochoqua, en sy volgelinge woon op die plaas Louwskloof wat in 1808 aan die Morawiese kerk gegee is. Alhoewel Hans Klapmuts hom 30 jaar lank teen bekering verset het, word baie van sy volgelinge bekeerlinge en verhuis hulle na die sendingstasie. 

Die eerste kerkdiens is in 1808 in Louwskloof gehou. Die opelug-diens is deur 100 mense bygewoon. Vandag is daar ’n gedenkteken op daardie plek, ter herdenking van die plek waar die eerste Christelike kerkdiens vir die Cochoqua plaasgevind het.  


Skets: Sendingnedersetting te Groenekloof, 1816, Latrobe (1758-1836), Parlement versameling

Die verhaal van Benigna Johannes – die ma van Mamre

Rosetta Klapmuts, Hans Klapmuts se suster, was een van die eerste inwoners van die sendingstasie. Sy het die naam Benigna Johannes aangeneem toe sy in 1813 gedoop is. Benigna het Stamhoof van die Cochoqua geword ná die dood van Hans Klapmuts en haar afstammelinge woon vandag nog in Mamre. 

Benigna het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van die Morawiese Sendingstasie by Mamre en haar lewensverhaal word vertel in ’n publikasie van die Morawiese Kerk, getiteld “Benigna van Groenekloof van Mamre”. Hierdie publikasie is in Afrikaans in 1873 gepubliseer. Sy was taamlik ryk en het ’n wa en beeste besit. Sy was ook vrygewig en het die sendingstasie toegelaat om haar wa en beeste te gebruik om boumateriaal en toerusting vir die bou van die kerk te vervoer.  

Ten spyte van die feit dat Benigna na Mamre getrek het, het die Johannes familie steeds op die nabye Louwskloof plaas gebly tot in die vroeë 1970’s toe hulle onder dwang verskuif is ingevolge apartheidswetgewing.


Die kerk in die 1930’s. Foto: Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika

Die Morawiese Kerk in Mamre

Werk aan die kerk in Mamre het in 1808 begin en is teen 1818 voltooi. Dit beteken dat hierdie een van die oudste kerke in Suid-Afrika is.

Die kerk vandag. Foto: Kaapstad Museum, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport.

Die klok is in 1872 geïnstalleer en weeg 250 kg. Foto: Kaapstad Museum, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport.

Die Marcusson kerkorrel kom uit Denemarke en is die oorspronklike orrel. Dit dateer uit 1887. Foto: Kaapstad Museum, Wes-Kaapse Departement van Kultuursake en Sport.


Foto: Mamre/Groenekloof (1856), Dominee DW Suhl, William Fehr Collection (H81), Iziko Museums van Suid-Afrika

Die aankoms van vrygestelde eertydse slaafgemaakte mense in Mamre

Na die stigting van die sendingstasie het Khoekhoen uit die omliggende gebiede steeds by die gemeenskap aangesluit. Die meerderheid van die nuwelinge in 1838 was egter vrygestelde slaafgemaakte mense wat hulle daar gevestig het na die afskaffing van slawerny in die Kaap in dieselfde jaar.

Die argiewe van die Morawiese Kerk toon aan dat die meeste van die 700 mense wat toestemming gevra het om hulle tussen Januarie 1839 en Desember 1852 in Groenekloof te vestig, eertydse slaafgemaakte mense was. Die meerderheid van hulle het van plase in die Koeberg, Blaauwberg en Malmesbury distrikte gekom. Sommige het van so ver as Swellendam en Clanwilliam gekom.


Skets: Groenekloof Sendingstasie, omstreeks 1814. James Backhouse, Wes-Kaapse Argief (M250)

Noue bande tussen Khoikhoi en die vrygestelde eertydse slaafgemaakte mense

Baie van die vrygestelde eertydse slaafgemaakte mense wat hulle in Mamre gevestig het, het reeds ’n verbintenis met die sendingstasie gehad, aangesien hulle daar kerkdienste bygewoon het. Daar is ook etlike bewyse van noue samewerking en familieverhoudinge tussen vrye Khoekhoen-gemeenskappe en slaafgemaakte vakleerlinge*, wat saam op omliggende plase gewerk het voor die slaafgemaakte vakleerlinge vrygestel is.

Die rekords toon dat Groenekloof op 2 Desember 1838* ’n dankseggingseremonie gehou het om die einde van slawerny te vier – ’n aanduiding van die noue bande tussen die Khoekhoen-gemeenskap by die sendingstasie en slaafgemaakte mense op daardie tydstip.

*Alhoewel slawerny in 1834 afgeskaf is, is slawe in die Kaap gedwing om 'n vierjarige vakleerlingskap te voltooi wat op 1 Desember 1838 geëindig het.


Mamre Morawiese Sendingskool. Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee.

Die rol van die sendingstasie in die lewens van die Khoekhoen en vrygestelde eertydse slaafgemaakte mense

Alhoewel die lewe by die sendingstasie vereis het dat die mense volgens die reëls en regulasies van die Morawiese Kerk lewe, het die sendingstasie ’n ruimte gebied waar families wat deur slawerny uitmekaar gedryf is, herenig kon word en ’n lewe saam kon bou.

By die sendingstasie het diegene wat hulle daar gevestig het, die geleentheid gekry om 'n ambag te leer en op sendinggrond te boer. Dit het oor die algemeen meer onafhanklikheid en beter werk as 'n permanente plaaswerker op privaat plase beteken.

Onderwys was ook 'n belangrike deel van die doelwitte van die Morawiese Sendingstasie. Die eerste skoolklasse is in die Pastorie en in die Long House gehou. In 1876 is ’n klein skool by die bestaande geboue gevoeg.


Foto: Mamre Morawiese Erfeniskomitee

Boerdery by die sendingstasie

In die vroeë jare was die ekonomie van Groenekloof hoofsaaklik op bestaansboerdery gebaseer. -  

Die Ou Watermeul staan vandag nog daar en is ’n bewys van die vrugbare landbougrond van die gebied wat aan die kant van die Swartland – die broodmandjie van die Wes-Kaap – geleë is. Donkies of muile is aanvanklik gebruik om die koring te dors voordat dit by die Ou Watermeul gemaal is. Dit dateer uit 1844 en is in 1973 tot 'n nasionale monument verklaar. 


Morawiese Kerk in Distrik Ses.  Foto: Wikimedia.

Mamre en die pad vorentoe

Namate Mamre gegroei het, was daar nie genoeg grond vir almal wat hulle gevestig het om onafhanklike boere te word nie.  Baie mans het hulle tot seisoenale plaaswerk gewend, terwyl vroue huiswerk gedoen het. 

Sommige van die mense uit die Mamre-gemeenskap het hulle ook in omliggende gebiede, insluitend Kaapstad, gevestig om ’n bestaan te voer.  Vir baie Mamre-families het die rit na Kaapstad en terug ’n bekende reis geword. Teen 1886 was daar so baie Morawiërs van die Kaapse landelike sendingstasie, veral mense van Mamre, wat in Kaapstad gewoon en gewerk het, dat die sendelinge besluit het om die Morawiese Heuwelkerk (“Hill Church”) in Distrik Ses te bou. Hierdie kerk staan vandag nog daar.


Image: Sam Nagy

Mamre vandag

Mamre het oor die jare heen ’n gevestigde dorp geword wat uit veel meer as die oorspronklike sendingstasie bestaan. Vandag is dit slegs 'n busreis van die Kaapstadse middestad af, en dit is moontlik om daagliks tussen Mamre en die sentrale sakegebied te pendel. Baie het ook werk gevind in die nabygeleë Atlantis.

Die sendingstasie Mamre bly die eiendom van die Morawiese kerk en dien steeds in die geestelike behoeftes van die gemeenskap. Die kompleks rondom die kerkgebou is in 1967 tot 'n nasionale monument verklaar en is 'n bekende toeriste-aantreklikheid.

“Tot vandag toe gaan die mense van Mamre voort om hul Khoekhoen en slaafgemaakte mense erfenis te vier. Die onderstaande video vertoon beeldmateriaal van ’n geleentheid wat in 2018 by die Mamre Sendingkerk gehou is ter viering van die afskaffing van slawerny. Dit is aangebied deur die Kaapstad Museum in vennootskap met die Mamre Morawiese Erfeniskomitee en die SA Sendinggestig Museum.”


Die afstammelinge van Hans Klapmuts en Benigna Johannes

Stamhoof van die Cochoquas, David Johannes.

Hans Klapmuts was die Stamhoof van die Cochoqua toe die sendingstasie in 1808 gestig is. Toe hy sterf, het sy suster, Benigna Johannes, wat hierdie naam ontvang het toe sy deur die Morawiese sendelinge gedoop is, die Stamhoof van die Cochoqua geword. Sy is opgevolg deur haar seun, Nataniel Johannes, wat die stamhoofskap aan sy seun Wilhelm oorgedra het, en Wilhelm het die titel aan Pieter Daniel oorgedra.  

Pieter Daniel Johannes is opgevolg deur sy seun, William, wat gesterf het voordat hy sy opvolger kon aanstel.  William se suster, wat nog in Mamre woon, het aanbeveel dat David Johannes William moet opvolg. Vandag is hy die Stamhoof van die Cochoqua en die Johannes-familie is steeds vooraanstaande lede van die Mamre-gemeenskap.


Bronne en addisionele leeswerk:

Previous
Previous

Gugulethu: 'Ons Trots' herwin

Next
Next

Mamre Onthou