Mamre Onthou

Foto: Sam Nagy

Die Kaapstad Museum het saam met die Mamre Morawiese Erfeniskomitee Nasionale Erfenisdag in 2019 in Mamre gevier. Verskeie gemeenskapslede het hul stories en herinneringe van Mamre gedeel gedurende die verrigtinge.


Sara Elizabeth (Baby) Robberts-Adams

My ma se naam was Ruth en sy was Moslem. Haar Moslem naam was Galiema Davids en my pas was,‘n Christen gewees. Sy naam was John Adams en ons het in die Distrik Ses gewoon. My Pa was n boorling van Mamre.

Hoe ons in Mamre gekom het toe ons uit Distrik Ses moes uit trek. Ons het eers ‘n plek in Kensington gekry. My Ma het gesê sy wil Mamre toe trek, sy wou haar kinders grootmaak in Mamre. Ek was 16 jaar oud toe ons Mamre getrek het. My ma het gesê sy wil gaan waar haar skoonma bly en dit was eindelik die rede hoekom ons Mamre toe getrek het.

Toe my Ma met my Pa trou as Galiema Davids het sy oorgekom na die Christelike geloof en my Ouma gee toe haar naam Ruth.


Adriaan Jonker

My ma was of is ‘n Khoi af stammeling en ons kan haar familie terug verwys tot in die 1600’s dit nog voor Van Riebeeck in die Kaap geland het was ons familie se geskiedenis opgeteken.

My pa wie se naam Arthur Karel Jonker is, se familie was nogal ingewikkeld. Maar ek wil hulde bring vandag aan my pa, want hy het n groot impak op die dorp gehad. Hy was ‘n onderwyser, hy was betrokke by die kerk, basuinkoor, kerkkoor, die hengelklub, die tennisklub en het ook rugby gespeel in sy dae.

My pa is gebore in 1929 te Pella. My pa voltooi sy matriek en gaan studeer as onderwyser verder by die Wesley Training College. Hy kom toe terug en hou skool by Pella. My pa het die vakke wiskunde en musiek aangebied.

My Pa het verlief geraak op die Khoi Noi van Louwskloof terwyl hy op Pella gebly het (Pella is ’n klipgooi weg van die plaas af). Hulle trou in 1954 en het 5 kinders binne die huwelik gehad waarvan ek die jongste was. Hy het ook in 1975 ’n dogter aangeneem as hul eie wat ons ‘n familie van 6 gemaak het. My Pa sterf op 31 Maart 1984 op die ouderdom van 50 jaar oud.


Maria (Rietie) Arnold

My pa en ma het al die jare op Mamre gebly. Ons was die enigste De Kock’s in Mamre en nou is ek die enigste Arnold.


Johanna (Joan) Favilli

Ek is van Mamre, gebore in Mamre. My familie is ook meer as 61 jaar in Mamre. My ouers, my voogouers en ek ken ook 3 geslagte voor my wat hier in Mamre gewoon het.

My pa het by die City Council gewerk dan het hy elke tweede week huis toe gekom. Vroeër die jare het my pa ook by die see gewerk en my ma was al die jare n huisvrou. My pa was 60 toe hy af getree het. Daarna het hy in die tuin gewerk by sy huis. Hy het sy eie groente geplant en blomme geplant.

Vandag werk die meeste mense in die stad en Atlantis. Ek het ook vir jare by ‘n klerewinkel in die stad gewerk.


Davina Facolyn

Ek is n boorling van Mamre, groot geword in Mamre en woon nogsteeds in Mamre.

My oupa was die oudste man op ‘n sekere tyd in Mamre. Hy was toe 98 jaar oud. So hy was al die jare hier in my Mamre en my ouers het ook hier gewoon. Hy het ook tuine gemaak en heuning gemaak asook koejawels gehad.

Ek het by die Mamre Morawiese Primêre Skool my laerskool loopbaan voltooi. Ons het altyd kaalvoet skool toe gegaan - winter en somer. Die enigste tyd wat ons ons skoene kon dra was op jou verjaarsdag en Sondagoggende kerk toe.


Foto: Cape Town Museum, Western Cape Department Cultural Affairs and Sport.

Childhood in Mamre

In daardie dae was jou huis in die voorkant en jou tuin in die agterkant. Maar in Louwskloofstraat was die huis in die agterkant en jou tuin in die voorkant en dan elkeen soos pruime, pere, koejawels en groente gekweek. As kind moes ek lampolie gaan koop het by die winkel, want daar was nie eletrisiteit gewees nie. Dan het ek eers in die boorde gaan koejawels steel of as dit pruime tyd is het ek pruime gesteel voor ek by die winkel aangekom het vir die lampolie. - Davina Facolyn

Ek onthou in die ou dae moes ons ‘n emmer vat en water gaan haal het ver van die huis af. By ‘n tenk het ons dit gedoen in die oggend voor ons skool toe gegaan het. In die somer moes ons ook in die middae hout gaan haal vir ons ouers. - Maria (Rietie) Arnold

Mamre in die 70s. Foto: Revel Fox and Partners

Foto: Revel Fox and Partners

Ons het altyd speletjies gespeel wat die kinders nie meer speel nie. Ek het altyd met bakstene gespeel en het vir die bakstene skool gehou. Vandag se kinders speel nie meer nie - hulle sit meer voor die TV. Ons het gespeel, mekaar gejaag, wegkruipertjie gespeel en ek was die enigste meisiekind tussen my broers. Ek dink ons kinders mis baie uit vandag, veral die wat in die stad groot geword het. - Davina Facolyn


Mamre in die 60s. Foto: John Rennie

Boxing Day

Op Boxing day was Mamre baie stil want almal het na die see toe gegaan. En die wat die karre gehad het nie, het altyd hulle goedtjies gepak en na die sandduine toe gegaan, dit was waar Atlantis se Duine nou is. Dit was wat my Ma vir ons laat doen elke Boxing Day, want ons het ook nie n kar gehad nie. Dan speel ons op die Duine, seil op kaartborde. Sodra die son gaan sak, kom ons weer huis toe ook net wanneer die ander mense van die see af kom. So ons het nie eintlik geken van see toe gaan nie. - Davina Facolyn


Foto: Revel Fox and Partners

Grootword in die 80’s

Dit was omtrent in die 80’s wat ons krag gekry het. Ek het opgegroei om 6uur in die huis te wees. Dan het ek my kom was in die groot sinkbaddens. Na dit het ons die radio geluister, was altyd die program Boekevat. Sodra dit klaar was, moes ons gaan lê sodat my ouers verder hulle radio kan luister. - Davina Facolyn


Foto: Revel Fox and Partners

Herinneringe van verset teen apartheid

In the 1960s, Pieter Daniel Johannes, provided shelter to ANC members for 10 days on a farm in Mamre.

Voor die Rivonia-verhoor het die ANC kom wegkruip op die plaas [Louwskloof], want hulle het gemobiliseer en mense gekry in die Wes-Kaap om met hulle te begin gesels. So het my Oupa vir hulle plek gegee om te bly. My Oupa het veewagte gehad wat hulle dopgehou het en kom sê as dinge anders gewees het of as dinge deurmekaar geraak het. Hulle moes die plek verlaat het. Die polisie het toe opgedaag en ‘n paar van hulle gevang en agter in die wa’s gelaai. Destyds was daar ‘n Raadskantoor en hulle was daarna toe geneem en was almal uitgestal voor die Raadskantoor en verkondig dat hierdie mense in die bos weggekruip het. - Adrian Jonker


Foto: Revel Fox and Partners

Foto: Revel Fox and Partners

Godsdienstige feeste

Paasfees

Die spesiale dae op die kerk se kalender in ons kerk begin alyd die week voor Paasfees. Dit is lydensweek soos ons dit noem en dit is ’n week waar ons elke aand in die kerk moes wees. Ons het ‘n spesifieke boek wat ons gebruik om uit te lees tot en met Sondag.

Sondag is dit Palm Sondag en op hierdie Sondag is dit waar die jong en ouer mense aangeneem word. Ons noem hulle konfirmant wat gekonfimeer word. Die volgende Sondag is dit Paasfees en op die Saterdag gaan ons begrafplaas toe en maak die grafte skoon. Maak dit mooi met blomme en op die Sondag-oggend vroeg, gewoonlik so 6uur gaan ons weer begrafplaas toe om n kort diens te hou. Daarna kom ons almal na hierdie saal [Lobensaal] toe en word bedien met ‘n koppie koffie en koeksisters. Dan gaan ons huis toe om ons reg te maak vir die kerk diens om 10uur. - Johanna (Joan) Favilli

_

Ons gaan Saterdae begraafplaas toe om grafte skoon te maak en dit is so uniek om elke jaar dit te doen. Dan kry ons ook weer al ons ou skool vriende . As ons hier begraafplaas toe gaan, het ons altyd ons eetgoeitjies en drinkgoeitjies en ons sit en gesels waar ons weer nuwe herinnering opbou. Op sondagoggend kom ons weer van die begraafplaas af vroeg die oggend en dan kom ons na hierdie saal [Lobensaal] toe waar almal n koppie koffie en koeksisters kry. Daarna gaan ons huis toe en berei ons voor vir die erediens.

As kind het ons gehelp hierdie saal te bou en die werf was vir ons as kinders geleer dat dit ‘n heilige grond is. Sodra ons by die skool se hek kom is dit ons laaste woordtjie wat ons praat en as ons verby die winkel kom dan kan ons weer aan gaan en praat. - Davina Facolyn


Kinderfees

Foto: Genadendal Museum

Kinderfees word in Augustus gevier. Kinderfees vier die bekering van Susanna Kühnel in Duitsland amper 300 jaar gelede. Hierdie heldin se toewyding aan Christus het baie kinders geraak en word jaarliks (op die Sondag naaste aan 17 Augustus) in Morawiese Kerke gevier. Die dag word gekenmerk deur ‘n spesiale kinderdiens, koorsang en veldblomversierings in die kerk.

Kinderfees was een van die lieflikste tye, jou ma het jou nuwe klere gekoop en jou hare was gedoen. By die skool het elke klaskamer se onderwyser vir ons n lied geleer wat ons moet sing as ‘n klas en dan het ons n brood rol gekry wat ons altyd baie na uit gesien het.

Mense van ander plekke het ook kom kyk hoe ons as kinders op getree het. Kinderfees is op die 17de Augustus. Dit is vir die kinders en op die 13de Augustus is dit ons grootmens fees (liefdemaal fees). Ons het tot op hierdie tyd ook nog kindersfees wat gereël word deur die sondagskool. - Rietie Arnold

_

Kinderfees tye was vir my ook mooi gewees want die Saterdag aand het almal kerk toe gekom en die kerk was mooi op gedoen en ons het die Saterdae middae in die veld, veld blomme gaan pluk vir die Sondag oggend. Kinderfees is op 17 Augustus die dag toe Susanna Kienal haar hart vir die Here gegee het as kind. Op daardie dag het jy nuwe klere aan en jou ma het jou hare gedoen en ons het liedere gesing in die kerk. - Davina Facolyn


Foto: Revel Fox and Partners

Hulpverlening aan die minderbevoorregtes van Mamre

Kerkbasaar

Ons het elke jaar ‘n kerkbasaar die eerste Saterdag in November. Dit is waar ons as gemeente in ‘n gemeenskap saam werk. In die kerk word ons opgedeel in ons kerkwyk en ons werk van Januarie to November met woekerpogings vir die kerkbasaar. Daar is baie armoede in die gemeenskap en ons almal werk om ‘n sukses te maak van ons kerk en kerkbasaar. - Joan Favilli

Foto: Revel Fox and Partners

Die Mamre Komitee

My ouma en nog drie vroue het die vereniging gestig. Die Vereniging is hierdie jaar 68 jaar oud. Almal het begin deel word aan die Vereniging en hierdie Vereniging doen so baie in ons gemeenskap. Hy doen die welsyn, weldade by mense waar daar nood is. Elke jaar gee ons vir ongeveer 300 mense ‘n kersete in die saal net om vir mense dankie te sê. - Baby Roberts


Foto: Cape Town Museum, Western Cape Department Cultural Affairs and Sport.

Herinneringe van kruie en mense gesond maak

My Ouma was die stigterslid van die Mamre Morawiese Sondagskool in die kerk - sy was ‘n dokter in die gemeenskap, sy was die verpleegster, het die lyke versorg, die raadgewer . Almal kon na Ouma Serra toe kom vir enige iets.

Ouma het die mense gesond gemaak met als (wilde als). Dit was die beste kruie wat sy gebruik het om mense gesond te maak. Ons het altyd gevra “Hoekom als” dan het sy gesê “sy naam is als want dit is vir als goed. Ons was altyd te bang om te sê dat jou kop is seer of iets is seer, want dan het sy vir jou als gegee. - Baby Roberts


Ons hoor graag van enige stories of fotos van Mamre wat jy bereid is om te deel. Kontak ons deur hierdie webruimte of ons WhatsApp groep of deur die Kaapstad Museum Facebook-blad.

Previous
Previous

Mamre Morawiese Sendingstasie – Nasporing van die geskiedenis van die Khoekhoen en voorheen slaafgemaakte mense