Sophia Gray

19de eeu

’n Foto van Sophia Gray. Beeld: National Portrait Gallery, London

 

“Ons het jou geliefde ma gister in die Claremont-begraafplaas begrawe, in die skaduwee van ons onvoltooide gemeentekerk, waarvan sy die argitek was en waarin sy so diep belang gestel het,” Biskop Robert Gray in ’n brief aan hul seun Charles, gedateer April 1871.

Sophia Myddleton het grootgeword in ’n welgestelde, aristokratiese gesin in Yorkshire, Engeland. Haar kinderjare het bestaan uit perdry, skets en lees saam met haar pa wat baie belê het in die opvoeding van sy dogters. Sy het Robert Gray, ’n rektor in die distrik Durham, ontmoet en met hom getrou. Hul doelstelling was om die Anglikaanse kerk in Engeland op te bou. Robert is later as die eerste Anglikaanse biskop van die Kaap die Goeie Hoop aangestel.

Voordat Sophy op hul skeepsreis na die Kaap vertrek het, het sy argitektsplanne van kerke in die hande gekry wat sy kon aanpas en verander soos nodig. Sy het ook reeds persoonlike notaboeke gevul met haar eie sketse en tekeninge van gedetailleerde kerkargitektuur. Ten spyte van die feit dat sy ’n selfopgeleide kunstenaar was, het sy ’n uitstekende tekenaar geword. Voordat hulle Engeland verlaat het, het Sophy en Robert meer as 130 000 pond (wat vandag op 3 miljoen pond geraam word) ingesamel om kerke in die Kaap te bou. Hulle het in Februarie 1848 aan die Kaap aangekom en dadelik ’n aanddiens by St George's bygewoon.

Sophy het in net 24 jaar meer as 40 kerkgeboue ontwerp. Met haar aankoms aan die Kaap was daar net tien Anglikaanse kerkgeboue. Van haar kerke sluit St Saviours in Claremont (waar sy begrawe is), St Pauls in Rondebosch, asook kerke in Swellendam, Knysna en St Mark's kapel in Distrik Ses (wat tydens die gedwonge verskuiwings gesloop is) in.

Alhoewel sy ’n uiters private persoon was wat nie daarvan gehou het om te vermaak nie, het Sophy as die vrou van die biskop gasvrou gespeel vir verskeie prominente figure in die samelewing en sy het almal gemaklik en welkom laat voel by hul huis in Bishops Court.

Biskop Robert was dikwels siek, en Sophy moes hom gereeld weke lank verpleeg terwyl sy as die nie-amptelike administrateur vir sy groot bisdom, wat Natal, St Helena, die Oranje-Vrystaat en Tristan da Cunha ingesluit het, opgetree het. Sy het hom vergesel op byna al sy reise regoor die bisdom, wat honderde kilometer beslaan het. Tydens hierdie toere deur die land het sy advies gelewer en geskikte materiale vir haar kerke gekies. Sophy het dieGotiese styl-argitektuur vir al haar ontwerpe verkies.

Sophy is beskryf as ’n uitstekende perderuiter, "beter as enige man". Sy is vandag een van die figure op die groot Noordelike Venster in St. Georges-katedraal in Kaapstad. Sy word uitgebeeld in ’n groen rok en ry op een van haar perde.

Previous
Previous

James Barry

Next
Next

Vroue van die Spesiale Seindienste (SSD)