Vroue van die Spesiale Seindienste (SSD)

20ste eeu

Vroue van die Spesiale Seindienste (SSD) ontvang opleiding, insluitend morsekode-opleiding. Beeld: Johannesburg Historiese Argief

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Duitse duikbote gereeld Geallieerde skepe oraloor die Atlantiese Oseaan geteiken en gesink. Toe Suid-Afrika die oorlog betree, het ons kuslyn die nodige voorrade vir die Geallieerde skepe verskaf, maar dit het ook ons kus by die oorlog betrek. Nie net was Duitse duikbote en skepe ’n probleem nie, maar Suid-Afrika het ook kusaanvalle deur die Japannese gevrees.

Suid-Afrikaanse radaroperateurs is opgelei en by buiteposte langs die kus, van Saldanhabaai tot Durban, gestasioneer. Aanvanklik het ’n handvol weermaglede hierdie poste beman. Hulle is egter kort daarna ingespan om aktiewe diensplig in Noord-Afrika te verrig. Daar is toe besluit dat vroue met ’n universiteitsopleiding opgelei en by hierdie poste gestasioneer sou word.

Hierdie jong vroue het ’n eed van geheimhouding afgelê en na ’n ses-weke-lange opleidingskursus is hulle aangewys om by een van die stasies te werk.

Teen 1945 het die Suid-Afrikaanse kus meer as 50 radarstasies gehad met meer as 17 in die Wes-Kaap. Dit het die Kaappunt-stasie, Bloubergheuwel, Bettiesbaai, Darling en Simonstad ingesluit.

Die vroue se skofte as operateurs was vier tot vyf uur lank. Een operateur het die handvatsel gedraai om die lugdraad te draai en vir geluide te luister, terwyl ’n ander die geluide op ’n kaart geplot het. Indien enige geluide of radaraktiwiteit verdag was, is die inligting na die hooffilterkamer (met die bynaam Freddie) oorgedra. Toe die hoogtepunt van die oorlog aanbreek, is die filterkamer by die Kasteel van Goeie Hoop in Kaapstad ingerig. Die operateurs het die inligting oorgedra en daarna het die personeel van die inligtingfilterkamer oorgeneem. Die posoperateurs was nooit vertroud met die resultate van hul waarnemings nie, want die werk van die spesiale seindienste was een van absolute geheimhouding.

Meer as 500 vroue was deel van hierdie spesiale eenheid. Hierdie eenheid is aan die einde van die oorlog ontbind en baie SSD-korrespondensie is vernietig. Slegs nege operateurs het oorgebly en na Noord-Afrika gevlieg om te help met die repatriasie van Suid-Afrikaanse krygsgevangenes.

Die oorblyfsels van die Elandsbaai-radarstasie. Beeld: Jaline de Villiers

Die ruïnes van hierdie Tweede Wêreldoorlog-radarstasies is steeds sigbaar en vertel die verhaal van die dapper vroue (en mans) wat ons lug en see bewaak het.

Previous
Previous

Sophia Gray

Next
Next

Rahima Moosa